Vervang die winter met die somer

Waterpret in Abu Dhabi (Foto: visitabudhabi.ae)

Waterpret in Abu Dhabi (Foto: visitabudhabi.ae)

Die winter kan ʼn mens soms bietjie onder kry.

Met die vroeë winter in Gauteng wat ewe skielik sy kop uitgesteek het en die nat Kaapse winters wat lank kan raak, is dit dalk ʼn goeie tyd om ʼn warmer klimaat te gaan opsoek.

In Abu Dhabi kan ʼn mens boonop meer as net lang dae en somerson verwag.

Dié emiraat se Somerseisoen strek van 11 Junie tot 5 September en beloof om ʼn mens nie ʼn oomblik verveeld te laat nie.

Die agenda is volgepak met konserte, wêreldbekende teaterproduksies, kindervermaak, en vele meer in en om Abu Dhabi.

Afgesien van die volgepakte kalender is Abu Dhabi ook bekend as ʼn bestemming wat oorloop van Arabiese kultuur en erfenisskatte, toegedraai in unieke Arabiese gasvryheid, wat besoekers al vir jare gaande laat.

Natuurlik moet ʼn mens nie vergeet van die enorme aantal bekende handelsnaamwinkels nie. Plekke van regoor die wêreld, wat gereed staan om jou kredietkaart te verorber. Koop-entoesiaste sal ʼn groter verskeidenheid beswaarlik iewers anders kry. Die nuwe Yas Mall het meer as 370 internasionale winkels om van te kies en keur. Dié emiraat is beslis besig om sy Dubai-boetie verby te steek as dit kom by kleinhandelterapie!

Abu Dhabi het ʼn reputasie van uiterstes.

Dit sluit in die verste leunende toring – dink aan die toring van Pisa in Italië – en die vinnigste tuimeltrein ter wêreld – natuurlik gevestig in die wêreld se grootste binnemuurse pretpark.

Abu Dhabi sal ook binnekort die tuiste van twee van die wêreld se gewildste kulturele ikone word, met unieke takke van wêreldbekende erfenissentrums – die Louvre Abu Dhabi en Guggenheim Abu Dhabi.

Motorsport-entoesiaste kan die Yas Marina Circuit besoek wat jaarliks die F1 Etihad Airways Abu Dhabi Grand Prix aanbied en ook ʼn draai maak by Ferrari World Abu Dhabi wat net om die draai is. Dis altyd ʼn goeie dagbesoek werd…veral vir die manne.

Vir gesinne wat kwaliteit-tyd saam wil spandeer is daar 43 waterritte en -glybane om van te kies by Yas Waterworld.

Met twee daaglikse vlugte wat nou tussen Johannesburg en Abu Dhabi beskikbaar is, is daar nie meer ʼn rede om ʼn slagoffer te word van “Winterdepressie” nie!

Daar is gewis baie om te doen en te ervaar in Abu Dhabi, een van die rykste emirate in die Midde-Ooste. Die plek lyk dalk oppervlakkig van buite, byna soos ʼn Sun City van ouds, maar net soos ander bestemmings en reiservarings, het die emiraat genoeg om almal te bekoor. Die bestemming het ook ʼn groot rol gespeel in die nuwe Fast and the Furious 7-fliek. Loer gerus na die geboue as jy kans kry om die fliek te sien.

Besoek Abu Dhabi se nuwe en verbeterde webwerf om jou reis te beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sonja Gordon ·

Ek stem nie saam met hierdie berig nie. Ek bly hier en geen mens kan enige iets buite doen tydens die somer nie. Daar is ook n 30 dae ramadaan periode waar jy glad nie buite of openbare plekke mag eet, drink of rook nie. Hoe kan jul mense nou tydens die somer maande waar temp tot 55° bereik, probeer oortuig om na Abu Dhabi toe te kom.

Frikkie Hangbal ·

Ek stem heeltemal saam. Dis nie ‘n goeie idee om dit hierdie tyd van die jaar te besoek nie…dis hel op aarde in die somermaande. Die beste tyd om soontoe te gaan is tussen November en Februarie tydens hulle winter waar die temperatuur nog steeds bo 30 grade kan draai.

Piet Snot ·

Yas Waterworld is die beste.
En as jy dit die dag gelukkig tref, word jy sommer maklik in Afrikaans gehelp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.