[Video] Boesmanland vir die reisiger sonder kaart of kompas

Padlangs-net-voor-Springbok

Padlangs net voor Springbok. Foto: Verskaf.

In Boesmanland kom ek Angeline teë, ʼn Rooms-Katolieke non en baie mense se redding.

Sy vertel met haar uitvaltande wat lag terwyl die son sy laaste strale gooi vir my van Pella se katedraal. As Angeline praat, praat sy oor haar kerk, sy wys my foto’s en rokke van haar Rooms-Katolieke meesters en togas wat met Namakwalandse blomme versier is. Sy vertel my dat haar dorp, diep in die Noord-Kaap, wat vandag bekend staan as Pella, Cammas Fonteyn geheet het toe die San-mense rondom ʼn heilige fontein hier ʼn nedersetting gevorm het in die vroeë 1700’s. In 1814 het Pella ʼn sendingstasie geword en vandag staan die reuse- Katolieke katedraal tussen ʼn paar palmbome in een van Suid-Afrika se dorsste landskappe.

Angeline wys my die fyn teëltjies by die ingang van haar kerk wat die “Ave Maria” uitspel. Sy wys my die kinders se tekeninge van Jesus in die portaal en die groot verlepte Bybel wat op ʼn houtkassie by die kollektesakkie vertoon staan. Buite, by die pilare voor die ingang, is ʼn groepie vroue met besems en lappe besig om die kerk se trappe blink te vryf.

Angeline vra my waarheen ek op pad is en kyk vir my met wonder in haar oë, haar skewe tande teen die son gedraai. Ek weet nie waarheen ek op pad is nie en ek sal eers die bestemming verstaan as ek daar aankom, net soos ek Pella ontdek het op die reistog na myself.

Angeline en die vroue op die trappe staan ʼn oomblik stil en kyk vir my, onwetend hoe om te reageer op die pleidooi van die eensame reisiger sonder kaart of kompas. Hulle weet nie hulle of dié kerk hou my antwoorde in ʼn silwer of goue kis van wysheid nie, en dat die wysheid dalk in die klipperige berge rondom Pella lê, of verder iewers in die Richtersveld, dalk selfs af tot aan die verste punt van die Weskus.

Die-ingang-na-die-Katedraal-op-Pella

Die ingang na die katedraa op Pella. Foto: Verskaf.

Angeline sê ek moet luister wanneer die woestyn stil raak. Ek moet luister na die sand se geneurie oor die duine, en kyk as die dag se laaste son oor rooi walle gaan lê. Dan moet ek luister na die veld en luister na haar God, want haar God sal kom praat, al is ek ver van die katedraal, al ry ek deur vlaktes en woude en berge, al ry ek deur riviere en klowe waar ek nie moet wees nie, sê Angeline. Haar God sal my beskerm.

Op pad Springbok toe draai die pad af na Klein Pella. Ek, wat onbepland woestyn toe gery het, een Woensdagmiddag, toe Johannesburg vir my te klein geword het, bekyk ʼn roetekaart wat die susters by die kerk my gegee het tydens my besoek. Ek wik en weeg oor die 4×4-roete terwyl ek na prentjies op die kaart kyk van mense in groot voertuie met ekstra waterbottels, brandstoftenks en tente, wat dieselfde roete saam families en vriende onderneem, wat tydens lang skoolvakansies vir die kinders die dooie berge kom wys.

Ek lees van Klein Pella en die palmbome en dadels. Twee en ʼn half uur later het ek 21 kilometer op die grondpad tussen kokerboomwoude deur afgelê en val Klein Pella soos ʼn oase in ʼn dorre woestyn voor my oop. Die grootste dadelplantasie in Afrika. Hier om ʼn mens is niks nie, net droogte, en al val die reën, staan die stowwerige bar aarde steeds, jaar na jaar, dekade na dekade, eeu na eeu. ʼn Mens voel die oudheid van hierdie wêreld in jou bene. Die rou onaantasbare hardheid van die uitgestrekte en ongelyke landskap klim by jou oë in soos desperate vlugtelinge en kom soek plek in jou binnekant om die eensaamheid en verlange van jare se stilte te troos en lewe te soek langs ʼn hartklop wat dit sal verstaan.

Op Klein Pella, duskant die indrukwekkende ingang na die dadelplantasie, staan ʼn gastehuis wat aanvanklik die plaasopstal was. Die plaas is aangelê deur ʼn karakter van ʼn man, bekend in die omgewing as Oom Gertjie Niemöller, wat op sy dag, hier op die plaas, die land se grootste karakoelboer was. Maar Oom Gertjie was méér as net ʼn boer.

Dadelplaas-Klein-Pella

Die dadelplaas by Klein Pella. Foto: Verskaf.

Toe hy die wilde en rowwe wêreld hier saam met ʼn paar plaaswerkers, donkies en sleë kom gelykmaak het, het hy in die aarde die mineraal sillimaniet ontdek. As die skaapwagters in die dag deur die veld geloop het, moes hulle soek na die klippe, totdat Oom Gertjie genoeg gehad het om te weet die berge rondom Pella was oortrek en dat daar genoeg was om te myn. Die lugvaartbedryf in Suid-Afrika was nog nie in volle swang nie, en dit het Oom Gertjie vier vlugte geneem om sy minerale in Japan te gaan smous, waar dit gebruik sou word vir die bou van staalfabrieke. Dit het daartoe gelei dat Oom Gertjie, met die ontwikkeling van die myn en die boerdery, die Boesmanland help vorm en verwesters het.

Werk is geskep en paaie is gebou om die uitvoer van minerale en produkte na die mark te vergemaklik. Vandag is Klein Pella ʼn verrassende klein nywerheid nadat dit deur 2015 se boer van die jaar, Piet Karstens, oorgekoop is. Klein Pella, wat op die grens tussen die Boesmanland en Namakwaland lê, is vandag die grootste private uitvoerder van tafeldruiwe en medjooldadels in die Suidelike Halfrond, ʼn oase in die woestyn wat spog met meer as 14 000 dadelbome en ʼn moderne fabriek asook ʼn plek wat werk en opleidingsgeleenthede bied vir talle afstammeling van die oorspronklike San.

[fvplayer src=”https://youtu.be/-YrGHsV3HoU”]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Lienkie ·

Sjoe, baie dankie vir hierdie pragtige artikel, foto’s en video wat jy met ons deel.

Denise ·

Dit was nou n plesier om dit te lees regtig Pitkos vir die siel baie baie interesant. Voorspoed vir die reisiger dit kan net n belewenis wees en n veilige reis!!!! Angeline klink ook na n baie interesante vrou !!!

Jude Wilken ·

Dit was nou rerig n padlangs pragtige stuk om te lees.

Mukiwa ·

Wie weet… Iewers is daar dalk `n land van rus en…wie weet…

Dankie ‘Nina

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.