Daar is iets besonders aan vriendinne wat saam reis. Daar word luidkeels geskerts, geklets, kiekies geneem en onvergeetlike herinneringe in die geheue-plakboeke gebêre. ’n Naweekwegbreek saam met jou vriendinne, of dit nou vir ’n hennepartytjie, ’n opvangsessie saam met ou skoolvriendinne of ’n boekklub-kuier is, is ’n gulde geleentheid om jou hoëhakskoene uit te skop, jou hare los te wikkel en jou vrouwees te vier.
Ons hier by LekkeSlaap dink dis nóú die perfekte tyd om die pad saam met jou vriendinne te vat — dit was mos juis 8 Maart Internasionale Vrouedag! Boonop het ons die perfekte bestemming in gedagte. Die Overberg het bekoorlike kothuise, oulike glanskampplekke en skouspelagtige strandhuisie te kies en te keur. So, kry jou strooimeisies, hartsvriendinne en mede-boekwurms bymekaar, en kry koers na die Overberg vir ’n ongelooflike naweekwegbreek!
Hier is ’n paar van ons gunsteling-plekke in dié streek.
Endless Vineyards Boutique Lodge, Botrivier
Dié luukse kothuise skuil tussen wingerde en pruimboorde aan die oewer van die Botrivier. Boonop spog Endless Vineyards Boutique Lodge met lekker stoepe en asemrowende berg-uitsigte wat dit die perfekte plek vir ’n luilekker naweekkuier maak.
Doendinge: Voetslaan, bergfietsry, voëlkyk, swem, wynproe by nabygeleë wynplase en pieknieks by Kleinmondstrand.
Slaapplek: 4 – 6 gaste per eenheid.
Bonus: Die groot houtdek en die ongelooflike sonsondergange.
AfriCamps at Kam’bati, naby Swellendam
By AfriCamps hoef jy gelukkig nie self jou tent op te slaan of vuur te maak nie, maar jy sal steeds net so na aan Moeder Natuur voel. Dié luukse boetiektente het gemaklike rusbanke en kaggels wat sorg vir ’n heerlike glanskamp-ervaring. Ons stel voor julle neem ’n paar bordspeletjies saam om oor ’n glasie wyn te geniet.
Doendinge: Kanovaart, bergfietsry, visvang, swem en waterglybane op die perseel. Beplan ’n dag-uitstappie Swellendam toe en maak ‘n draai die Hartsgoed-dekorwinkel by Buffelsjagsrivier se BP-vulstasie.
Slaapplek: 5 gaste per tent.
Bonus: Die ruim oopplan-leefarea wat toegang bied tot die groot houtdek.
Le Paradis Penthouse, Hermanus
Dié luukse selfsorg-woonstel lê in die hartjie van Hermanus en noop jou om luilekker op die stoep uit te span terwyl jy jou verkyk aan die oseaan. Kliek hier om te bespreek.
Doendinge: Swem, sonbaai, piekniek op die grasperke by Voëlklipstrand of verlustig jou in oesters en vonkelwyn by Bientang’s Cave.
Slaapplek: 4 gaste.
Bonus: Die lekker sonstoele en uitsigte oor Walkerbaai.
Doornbosch Guest House and Country Cottages, tussen Napier en Gansbaai
Los al jou sorge by die huis en maak ’n draai by Doornbosch se Kaaps-Hollandse kothuisies wat op ’n pragtige natuurreservaat geleë is. Dis perfek as julle op soek is na ‘n stil plek om gehaltetyd saam deur te bring.
Doendinge: Perdry, voetslaan, wild- en voëlkyk in die natuurreservaat. Geniet ’n wynproesessie by die Black Oystercatcher of gaan stel jou bakvernuf ten toon by ’n broodbak-werkswinkel in Baardskeerdersbos.
Slaapplek: 4 – 6 gaste per eenheid.
Bonus: Die ongerepte natuurskoon wat jou omring.
Lagie Verf, Gansbaai
Is jy en jou vriendinne adrenalienvrate? Bespreek dan by Lagie Verf vir ’n waaghalsige naweek in die witdoodshaai-hoofstad van die wêreld. Ná ’n dag propvol avontuur kan julle om die tafel op die stoep kuier terwyl julle die ongelooflike see-uitsigte indrink.
Doendinge: Haaihokduik en voetslaan in die Gansbaai-omgewing. Gaan palm ’n paar dekor-skatte by Pieter Deon Interiors in en gaan soek oulike versamelstukke by Tiekiedraai.
Slaapplek: 7 gaste.
Bonus: Die kristalhelder swembad wat op ’n snikhete dag lafenis bied.
Hermitage Huisies, Swellendam
Die prentjiemooi Hermitage-vallei is die perfekte plek om te gaan uitspan ná ’n moeilike week op kantoor. Maak ’n bottel vonkelwyn oop en klink ’n glasie op lewenslange vriendskap! Kliek gerus hier om te bespreek.
Doendinge: Gaan proe likeur en bessies by Wildebraam, ry perd by Two Feathers Horse Trails, of gaan stap in die Marloth Natuurreservaat.
Slaapplek: 4 – 6 gaste per eenheid.
Bonus: Die poskaartmooi velde en plaasdam.
Modern 3 Bedroom Beachfront House, De Kelders
Dié stylvolle kombuis is ’n lus vir die oog! Hiér kan jy en die dames na hartelus bak en brou om ’n middernagfees op te tower. Die sjiek slaapkamers is boonop perfek vir ’n behoorlike pajamapartytjie!
Doendinge: Ontspan op op die dek, gaan koel af in Gansbaai se getypoel of gaan op ’n begeleide toer in die Klipgat-grotte.
Slaapplek: 6 gaste.
Bonus: Die elegante, hipermoderne afwerkings.
Old Mac Daddy Luxury Trailer Park, Grabouw
Dié ontwerpershutte sal sorg vir ’n unieke ervaring in die Elgin-vallei. By Old Mac Daddy sal julle in absolute weelde malvalekkers braai en vriendskapsbande smee!
Doendinge: Swem, voetslaan en gaan op ’n boomtoptoer. Geniet heilsame maaltye by die restaurant op die perseel of besoek die Peregrine-padstal vir varsgebakte lekkernye.
Slaapplek: 2 – 6 gaste per eenheid.
Bonus: Die pragtige mere, geurige dennebome en die beperkte selfoonsein is balsem vir ’n moeë stadsjapie se liggaam en siel.
The Vishuis, Hermanus
Het jy ’n kunssinnige vriendin of twee? Gaan loer hoe lyk dié opgeknapte vissershuisie met sy uitgebreide versameling kunswerke in die hartjie van Hermanus. Die dekor is soos iets uit ’n tydskrif! Kliek hier en bespreek sommer nou.
Doendinge: Sit in die binnehof en teug aan mengeldrankies, ontspan voor die Morso-kaggel, of trek jou mooiste rokkie aan vir ’n skattejag by die antiekwinkels op die dorp. Die Hermanus Country Market is die perfekte plek vir smullekker kos, musiekoptredes en kunsvlyt.
Slaapplek: 4 gaste.
Bonus: Dié byderwetse, eklektiese gevoel in dié ou huisie.
Joubertsdal, tussen Robertson en Swellendam
As jy lus is vir ’n wegbreek vol ouwêreldse bekoring, sal jy sommer dadelik tuis voel in dié knus Kaaps-Hollandse plaashuis aan die voet van die Langeberge. Kliek hier om te bespreek!
Doendinge: Maak ’n draai by Swellendam se pottebakkerye en galerye, die Bee Things Shop vir tap-heuning, of geniet ’n heerlike middagete by Jan Harmsgat Country House.
Slaapplek: 8 – 10 gaste per eenheid.
Bonus: Die pragtige houtmeubels en die huislike atmosfeer.
So, waarvoor wag jy? Gee jou vriendinne ’n luitjie en beplan ’n prettige naweekwegbreek in die Overberg!
Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Daleen Venter.