Vind jou weg deur Rio de Janeiro

Christusbeeld Foto: Marianne Styan

Rio de Janeiro is alles wat jy altyd gedroom het en meer. Daar is die indrukwekkende Christusbeeld, altyd sigbaar oor die stad, op die kruin van die Corcovado, sy arms uitgestrek om die stad te seën.

Die strande is spierwit, breed en vol mooi mense met Caipirinhas in die hand. Die stad lewe dag en nag op ʼn Latynse ritme van sy eie.

Maar dis ʼn baie groot stad en alles wat mens sal wil sien is nie noodwendig naby aanmekaar nie. Die stad het egter ʼn baie lekker busstelsel en Uber is maklik om te gebruik wanneer mens vinnig êrens wil kom. Indien jy ʼn “toer-mens” is, is daar baie dagtoere beskikbaar wat jou na al die bekendste besienswaardighede neem.

Hier is egter ʼn paar riglyne as jy daarvan hou om die stad, soos ons, teen jou eie spoed te verken.

Christusbeeld en Corcovado

As een van die Nuwe Sewe Wonders van die Wêreld, slaan hierdie pragtige en tog ongewone standbeeld (ontwerp deur die ingenieur Heitor da Silva Costa) jou asem weg as jy uiteindelik by sy voete tot rus kom.

Christus die Verlosser-standbeeld (Christ the Redeemer; Cristo Redentor), wat die simbool geword het om die “goddeloosheid” van die tyd (1918 – 1930) te bestry, troon ʼn ongelooflike 30 meter die lug in en van vinger tot vinger meet dit 28 meter.

Daar is verskeie opsies waarop mens tot by hierdie aantrekkingspunt kan kom. Baie blogs en gidsboeke sê mens kan glad nie kaartjies koop by die beeld self nie. Hulle stel voor om dit deur die internet te doen of deur ʼn inligtingskiosk. Daar is egter wel kaartjies te koop by die middelstasie – vanwaar al die shuttles (wat teen ʼn vreesaanjaende spoed die kronkelpad ry) vertrek om mens na bo te neem – maar ek glo dit mag dalk vinnig en vroeg uitverkoop wees as dit hoog seisoen is.

Ons het egter die kans gevat en dit gedoen deur vroegoggend ʼn Uber te huur wat ons deur die Tijuca-woud (ʼn mensgemaakte woud) neem tot by die curio- en koffiewinkel, halfpad op teen die Corcovado. Daar het ons kaartjies gekoop vir die eerste shuttle van die dag, na bo. Hierdie opsie was verseker die goedkoopste.

Mens kan ook ʼn kaartjie koop by ʼn inligtingskiosk – daar is verskeie op die promenade van Copacabana. Met hierdie opsie vertrek jy van die Christo Redentor-treinstasie. Die tram neem ʼn heerlike gemaklike pas op teen die Corcovado, deur die Tijuca-woud tot reg bo by die Christusbeeld.

Enige kaartjie wat mens bespreek is vir ʼn spesifieke tydgleuf, wanneer jy die beeld wil besigtig en dus aanvaar ek daar is net ʼn sekere hoeveelheid plekke beskikbaar.

MY RAAD: Gaan so vroeg moontlik in die oggend. Dit is heerlik om die eerste mense bo te wees en foto’s te kan neem, aan die voete van die Christusbeeld, sonder massas onbekende mense wat saam met jou op die foto verskyn.

Ek sal ook voorstel om die weervoorspelling te raadpleeg voor jy ʼn kaartjie koop. Ongelukkig is dit nie altyd akkuraat nie maar daar is verseker dae wat dit reënerig, bewolk en erg mistig is. Dit kan veroorsaak dat mens glad nie die beeld of die 360 grade uitsig van Rio de Janeiro te siene kry nie.

Die webwerf van die beeld is baie moeilik om te verstaan en baie van die aanwysings is net in Portugees. Die bladsy waar mens die kaartjies kan koop het nooit gewerk toe ons dit wou gebruik nie en dus sal ek voorstel om dit nie daardeur te probeer koop nie.

Corcovado-tram Foto: Marianne Styan

Sugarloaf Mountain

Die vreemdgevormde berg staan van ver af uit om mens bewus te maak van sy bestaan. Dit het ʼn pragtige 360 grade uitsig oor Rio de Janeiro en die Atlantiese oseaan.

Mens betaal net vir die kabelkar wat na Sugarloaf Mountain self gaan. Die eerste kabelkar, wat verniet is, neem mens na Morro da Urca, waar daar ʼn verskeidenheid winkels en koffiewinkels is. Aan die anderkant van die heuwel neem jy die glasmuur-kabelkar op ʼn 1 400 meter lange roete na die bopunt van Sugarloaf Mountain. Die kabelkar vertrek elke 20 minute.

MY RAAD: Weereens sal ek voorstel om dit heel eerste in die oggend of teen sonsondergang te gaan besoek. Ongelukkig is daar wel baie ander mense met sonsondergang maar dit maak nie regtig saak nie, aangesien daar nie net een uitsig is wat mens wil afneem nie. Dit is ook heerlik om die sonsondergang te geniet terwyl jy ʼn koffie of mengeldrankie drink by een van die menige restaurantjies.

Uitsig vanuit Sugarloaf-kabelkar Foto: Marianne Styan

Selaron-trappe (Escadaria Selaron)

Die pragtige kleurvolle en oorspronklike stel trappe is geskep deur die kunstenaar Jorge Selaron as ʼn huldeblyk aan die Brasiliaanse mense, om die buurt Lapa, met die heuwelbuurt van Santa Teresa te verbind.

Dit het die kunstenaar 23 jaar geneem (1990 – 2013) om die 215 trappe, met ʼn teëlmosaïek van die Brasiliaanse vlag aan die bokant, te versier. Die trappe het 2 000 teëls, waarvan hy 300 self geskilder het.

Behalwe vir kunstige teëls, wat die swanger Afrika-vrou, waarvoor Selaron se kunswerke bekend is insluit, is daar ʼn teël wat elke land in die wêreld verteenwoordig. Suid-Afrika s’n is sommer al vroeg onder op die kant van die trappe te vind.

Selaron het baie mense gelok om te kyk hoe hy die kunswerk laat realiseer. Hartseer genoeg is hy in 2013 dood aangetref op sy geliefde trappe.

Selaron-trappe Foto: Marianne Styan

Copacabana en Ipanema-strande

Dis snaaks hoe twee liedjies permanent in jou kop bly draai soos jy daagliks jou weg deur die stad vind. Barry Manilow se Copacabana en een van my gunstelinge, Girl from Ipanema, deur Antônio Carlos Jobim en Vinicius de Moraes. Miskien omdat jou oog gereeld hierdie name êrens raak lees op ʼn bus of ʼn naambord.

Die wit strande met palmbome en vlugbalnette wat mens op foto’s sien, is hier op jou voorstoep. Die kunstige swart-en-wit- geteëlde sypaadjies, is dag en nag vol wandelende, rolskaatsende of fietsryende mense. Straatverkopers verkoop Dulce de leche gevulde churro’s, net wannneer mens daarvoor lus is en straatkafees vibreer met plaaslike kunstenaars se musiek terwyl mense teug aan Caipirinha-mengeldrankies (pasop… dié heerlike drankie het ʼn woeste skop aan hom!).

Copacabana het ʼn lekker informele atmosfeer en daar is amper heel dag en aand lewe al met die 2.5 myl lange strand langs. Dit eindig by die Copacabana Fort. Die swart-en-wit-patroon op die sypaadjie is ontwerp om die golwe te reflekteer. Copacabana is wêreldbekend vir sy Nuwejaarspartytjie, waar daar vanaf bote ʼn skouspel van vuurwerke geskiet word, ʼn paar kilometer weg van die strand.

Ipanema se hele area het ʼn bietjie meer van ʼn up class-gevoel en is bekend as die “sexyste strand”. Die area staan ook bekend as “Klein Parys”. Naweke is daar ʼn “Hippie Fair” indien mens wil snuffel vir aandenkings.

Twee blokke weg van die Ipanema-strand kan mens ʼn drankie gaan drink by die kroegrestaurant, Garota de Ipanema, waar die oorspronklik liedjie in 1962 deur Vinicius de Moraes geskryf is. Die hele restaurant is vol foto’s van die pragtige meisie wat die inspirasie was vir die liedjie.

Alkohol word wettig verkoop op die strande en dus kan mens letterlik die hele dag lê en ontspan terwyl jy aan ʼn Caipirinha teug en die uitsig en water geniet … as jy verby al die strandverkopers kyk.

MY RAAD: Pasop vir sakkerollers. Gelukkig kom ons van ʼn land waar mens altyd versigtig is, maar hier is klein misdaad nogal gewild en hulle sal letterlik ʼn ketting van jou nek of jou beursie uit jou sak steel sonder dat jy weet. Selfs op die strand sal hulle maklik ʼn rugsak probeer gaps. Moet dus nie jou Suid-Afrikaanse bewustelikheid laat verslap met dié vakansie nie.

Copacabana-strand Foto: Marianne Styan

Rio de Janeiro-katedraal

Met ʼn sterk Katolieke invloed het die stad baie katedrale en kerke. Daar was een wat spesifiek vir my uitgestaan het.

Die super moderne Rio de Janeiro-katedraal (The Metropolitan Cathedral of Saint Sebastian) is gebou tussen 1964 en 1979 in die vorm van ʼn Mayaanse piramiede. Dit is meer as 75 meter hoog en 96 meter in deursnee. Die ongelooflik indrukwekkende, maar tog simplistiese, interieur het vier asemrowende loodglasvensters wat oor die 60 meter hoog is waardeur die son skyn om ʼn misterieuse gevoel in die katedraal te skep. Dit kan 20 000 mense akkommodeer en is dus een van die grootste aanbiddingsplekke in Brasilië. Dit is nogal ʼn uitsondering op die gewone katolieke kerke.

Rio de Janeiro-katedraal Foto: Marianne Styan

Santa Teresa-buurt

Hierdie interessante en eg Brasiliaanse heuwelagtige buurt lê aan die bopunt van die Selaron-trappe. Die geplaveide strate gee toegang tot verskeie lekker restaurante, waar mens lekker Brasiliaanse disse kan proe.

Die buurt is ook die plek as jy op soek is na die lewendige uithangplek van plaaslike inwoners wat ʼn drankie kom geniet by een van die menige kroeë, voordat hulle hul pad vind na Lapa (aan die onderpunt van die Saleron-trappe) om die stad se naglewe voort te sit.

Nog hoogtepunte:

  • Jardim Botanico – ʼn 54 hektaar botaniese tuin wat al die flora van Brasilië tentoonstel vir mens om te geniet met pragtige kunswerke tussenin versprei. Daar is ook meer as 140 verskillende voëlspesies hier te sien. Moenie die Japannese Tuin mis wat in die tuin geleë is nie.
  • Parque Lage – ʼn park aan die voetenent van die Corcovado, deel van die Tijuca Nasionale Park. Dit spog selfs met kunsuitstallings en 12 akwariums met eksotiese visse.
  • Praia Vermelha – Hierdie klein maar volgepakte strand is te vind aan die voet van Sugarloaf Mountain.
  • Prainha Beach – die ideale strand om bietjie rus en vrede te kry. Dis baie stiller as die ander, maar net so pragtig.
  • Barra da Tijuca Beach – Rio se langste strand (11 myl). Baie gewild vir branderplankry en watersport.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet J ·

Nou wat is nou so belangrik aan die christusbeeld asook die bykomende foto’s

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.