Vyf lekker wenke: Spaar só water wanneer jy reis

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Foto verskaf deur LekkeSlaap

[promosie-artikel]

Teen hierdie tyd weet almal dat Suid-Afrika se water aan die min kant is. Oor ons land heen is die damme ver onder 40% en dit daal net al hoe meer. Daar is waterbeperkings in al ons stede ─ almal skinder oor die buurman wat elke oggend sy Audi met die tuinslang was, of die sproeierstelsel wat die huis onder in die straat se tuin elke middag om eenuur in ’n reënwoud verander terwyl die res van die buurt naarstiglik probeer om hul toilette so min as moontlik te spoel.

Ons word gewaarsku oor lae watervlakke en foto’s van droë rivierbeddings en hellevuur oorval ons op die radio, TV, in die koerante, én aanlyn! Gelukkig is dit maklik genoeg vir elkeen van ons om ons bydrae tuis te maak ─ ons kan almal minder tyd in die stort deurbring, meer wyn en minder water drink, en gebarste pype en ander mense se sproeierstelsels by die munisipaliteit gaan aanmeld. Maar, het jy al ooit gewonder hoe jy water kan spaar terwyl jy met vakansie is? Almal is dol oor ’n wegbreek, so maak seker dat jou volgende een waterslim is!

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Suid-Afrika is die dertigste droogste land ter wêreld en dit beteken dat ons op ’n goeie dag reeds meer sukkel met watertoevoer as die res van die planeet. Maar ons blasé houding en die feit dat ons waterverbruik toeneem, het veroorsaak dat agt van ons nege provinsies verlede jaar as rampsones verklaar is. Die meeste van ons het darem teen hierdie tyd al wakker geskrik en meer versigtig met water begin omgaan, maar LekkeSlaap het dit goed gedink om ’n paar wenke te deel sodat jy selfs kan help terwyl jy op reis is.

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Wenk 1: Begin tuis

So, die reisgogga het gebyt en jou tassies staan gepak, maar onthou dat jou waterslim-houding sommer al by die huis moet begin. Dit is ’n goeie idee om jou stopkraan toe te draai voor jy vertrek om sodoende enige onnodige waterverlies te vermy.

Dit sal niemand skeel as jou gras in die somer verbruin nie en jou grasperk sal gou weer groen word as die herfs sy opwagting maak. Iets wat jou gemoedstoestand én jou waterrekening sal goed doen, is om ’n lekkasie-verklikker in jou geiser se drupbak te installeer. As die WERD-toestel enige nattigheid in die drupbak bespeur sal die toestel die geiser se watertoevoer binne ses sekondes afskakel en ’n alarm sal afgaan. Hierdie toestel sal dus duur waterskade in jou huis voorkom en ook verseker dat jou waterrekening nie die hoogte inskiet nie.

Wenk 2: Hou jou houding dop

Doen bietjie navorsing oor jou bestemming. Sekere dele van Suid-Afrika word meer deur die droogte geteister as ander ─ die Oos-Kaap het byvoorbeeld die swaarste daaronder gely. Dit is sinloos om gefrustreerd te raak deur die waterbeperkings by jou bestemming. Die beperkings verskil van plek tot plek, en dit is moontlik nie die eienaar se skuld as daar nie water in die krane is nie. Probeer ook om nie te kla as die swembad leeg is of as iemand die gras met groen spuitverf bygekom het nie.

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Wenk 3: Help ’n bietjie daar

Dit mag dalk nie jou eie huis wees nie, maar jy kan steeds instansie-eienaars bedag maak op waterprobleme in hul eenhede. Sommige eienaars mag dalk nie permanent op die perseel wees nie, so jy kan beslis van hulp wees deur hulle bewus te maak van ’n kraan wat drup of ’n toilet wat lek. Toiletlekkasies kan baie moeilik wees om te identifiseer en die persoon wat die akkommodasie inspekteer mag dit dalk nie raaksien nie. Plaas voedselkleursel in die toilet se tenk ─ as die kleur in die bak in loop sonder dat jy die toilet spoel, het die toilet ’n lekkasie. Rapporteer dit onmiddellik en jy kan so ook help om die damme vol en die waterrekening laag te hou.

Wenk 4: Stort minder

Ek weet ons almal hou daarvan om elke dag lekker onder die stort te staan, maar ’n gemiddelde stort van so agt minute gebruik ongeveer 120 liter water. Dis baie! By die huis het jy dalk ’n stelsel om stortwater op te gaar vir jou tuin of toilet, maar dis nie altyd die geval as jy met vakansie is nie. So, ons wenk is eenvoudig om minder te stort. Hou ’n ogie oop vir lekker plekke waar jy nie noodwendig gereeld hoef te stort nie ─ kamp is natuurlik die beste opsie.

Kampeerterreine is gewoonlik naby natuurlike waterbronne en niemand gaan juis agterkom as jy die ablusieblok vermy nie. Onthou om jou “Wet wipes” in te pak en soek ’n kampeerterrein naby ’n dam of rivier wat nog vol genoeg is. Was sommer in die natuurlike waterbron met omgewingsvriendelike seep. As jy 120 liter water kan spaar deur een stort oor te slaan, dink net hoeveel water jy kan spaar met ’n paar dae! LekkeSlaap het ’n hele rits opwindende kampplekke wat elke sak en smaak sal pas.

Indien kampeer nie juis jou gunsteling is nie, stel ons voor dat jy die hotel of gastehuis waar jy tuisgaan, vra om nie elke dag jou handdoeke om te ruil nie ─ hoe minder handdoeke hulle hoef te was, hoe meer water word gespaar!

Hotel Verde (Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Hotel Verde (Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Wenk 5: Dink “groen”!

Ons weet daar’s ’n waterkrisis en ons weet dat die meerderheid van die bevolking nou nie juis veel doen om te help in ons land se droogste jaar nie. So, wat kan ons doen? Ons kan “groener” begin leef, en minder begin gebruik. Die beste manier om dit tydens jou vakansie toe te pas, is natuurlik om by die mees omgewingsvriendelike plekke onder die son te bly ─ en LekkeSlaap het ’n gros groen blyplekke nét vir jou!

Black Leopard Camp is in Lydenburg geleë en is heeltemal onafhanklik wat krag en water betref. Hul wek hul eie elektrisiteit op en sorg ook vir hul eie watertoevoer en vullisverwydering. Klik hier om sommer nou jou omgewingsvriendelike vakansie te bespreek.

Platbos Forest (Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Platbos Forest (Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Go Green Self Catering Accommodation is trots “groen” en hou ’n ogie op hul waterverbruik. Hulle is in Seepunt geleë en het wasbakke wat spesiaal ontwerp is om die toiletbakke te vul wanneer hulle gebruik word. Spaar water deur by Go Green tuis te gaan – klik hier.

Hotel Verde is benoem as die “groenste” hotel in Afrika en gaste sal hier vertrek met die wete dat hulle nie net ’n fantastiese vakansie gehad het nie, maar ook ’n positiewe verskil gemaak het. As jy in die mark is vir ’n “groen” vakansie in Kaapstad – klik hier.

Platbos Forest in die Overberg is ’n omgewingsvriendelike wegbreekplekkie wat diep in die natuur versteek is. Hulle is waterslim met ’n waterlose kompostoilet en al hul elektrisiteit word self opgewek met sonkrag en gas. As jy nader aan die natuur wil wees en ’n paar storte wil oorslaan ten bate van die omgewing – klik hier om te bespreek.

Met LekkeSlaap is dit maklik om water te bespaar ─ al is jy met vakansie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.