Vyf ooreenkomste tussen Suid-Afrika en Brasilië

Uitsig oor Rio en die Christusbeeld (Foto: Plane News via Travel Tales)

Uitsig oor Rio en die Christusbeeld (Foto: Plane News via Travel Tales)

Dit voel soos gister toe Suid-Afrikaners soos hondsdol meerkatte vuvuzelas geblaas het in opgewondenheid vir die Sokker Wêreldbeker op tuisbodem. Na vier jaar en ‘n grootse poging deur ons opvolgers, is dit nou Brasilië se beurt om die sokkerskouspel aan te bied op die wêreldverhoog.

Terwyl Philip nie meer in Suid-Afrika is nie (dié grap was geskoei op die Engelse slagspreuk feel it, it is here wat klink soos Philip is here) is dit lekker om te weet eintlik is Brasilië nie so anders as ons eie geliefde land nie. Hier is vyf redes waarom ek so voel:

1. Brasilië is ʼn buitelugland en sportmal
Brasiliane hou van buite wees – presies soos Suid-Afrikaners. Dis seker hoekom albei lande mal is oor sport. Daar is bykans nie ʼn beter manier om die weer te geniet nie as om ʼn kuier te reël na jou gunstelingsport of self die bal rond te skop. Brasiliane is ook lief vir barbeque (braai) in hulle agterplase of op die strand en hulle span graag uit by enige van die duisende buitelugkafeetjies in die strate van Rio. Die land het meestal lekker tropiese weer.

2. Brasilië het van die mooiste natuurskoon
Die land is deels in die Amasone reënwoud geleë. Watter ander keuse is daar behalwe om merkwaardige natuurwonderwerke te hê wat wissel van watervalle, reënwoude en selfs die grootste vleilande in die wêreld? Met ons pragtige bosveld, berge, see en oop vlaktes kan Suid-Afrika egter maklik kers vashou by die nuwe aanbieder van die Sokker Wêreldbeker.

3. Gasvryheid
Suid-Afrikaners hou van eet. Laat daar geen wanpersepsie hieroor wees nie. Brasilië het duidelik dieselfde honger-gene ontvang. Heerlike vleis (grootliks bees en hoender) in groot porsies en ʼn groot verskeidenheid tradisionele kosse is gewoonlik maklik bekombaar. (Vat dalk net jou eie peperpot saam, aangesien dít bietjie skaars is.) Suid-Afrikaners se gasvryheid het ook nie perke nie. Volgens toeriste is ons nasie baie vriendelik. Brasiliane is eintlik ʼn paar stappies bo ons in dié opsig. Oordrewe liggaamskontak en uitdrukking van emosies kom seker van hul Spaans-Latynse-bloedlyne. Dis nie vreemd vir ʼn man, om ʼn vreemde vrou wat hy pas ontmoet het, te soengroet nie en dis seker die rede hoekom dit maklik is om vriende te maak in Brasilië…

Caipirinha, die bekende mengeldrankie van Brasilië Foto: GOL!

Caipirinha, die bekende mengeldrankie van Brasilië Foto: GOL!

4. Kuier
Kom ons wees eerlik… Suid-Afrikaners hou daarvan om ʼn glasie iets te geniet, of dit nou saam met ete is, ʼn kuier saam met vriende om ʼn vuur of rondom ʼn spesifieke sport. Bier, wyn, goeie koffie, jy kan dit maar opnoem. Brasilië het dieselfde soort tradisies. Die spesifieke gunsteling drankie Caipirinha, ʼn verfrissende en sterk alkoholiese mengeldrankie is oral beskikbaar en word by enige ete of geleentheid geniet. Ten spyte daarvan dat van die lekkerste koffie van Brasilië afkomstig is, is dit nie altyd so maklik bekombaar in die land nie en gewone filterkoffie is dus meestal jou voorland.

5. Musiek en dans
Iemand met Latynse bloed word nou maar net eenmaal gebore met ritme in hulle are. Dus is dit seker nie vreemd dat die land mal is oor feeste nie. Die Groot Karnival, Nuwejaarsvieringe en ʼn kans om elke moontlike spesiale dag in Brasilië te vier met musiek en dromme laat hulle nie verbygaan nie. Suid-Afrika met sy verskeidenheid van mense het self ook nie op ons laat wag om musiek en ritme deel te maak van ons lewens nie. Van Zoeloe-danse, die Kaapse Klopse tot by langarmdraaie op Kurt Darren se musiek op die dansbaan, geniet ons dit om ons emosies uiting te gee op ’n kreatiewe manier.

Min dinge vergelyk egter met ons eie Tafelberg Foto: Marianne Styan

Min dinge vergelyk egter met ons eie Tafelberg Foto: Marianne Styan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.