Vyf sielverkwikkende spa-wegbreke reg oor die land

Misty Hills Country Hotel, Conference Centre & Spa (LekkeSlaap)

Het jy laat wakker geskrik en probeer jy nou aan iets dink om die dame in jou lewe vir Vrouemaand te bederf? Of smag jy bloot daarna dat iemand jou voete, skouers en hande met heerlike reukolie pamperlang? Die verskillende behandelinge op ’n skoonheidsalon se spyskaart is soms ongewoon en eksoties, en die spa-bedryf is verbasend kompeterend en altyd besig om met die nuutste, mees opwindende behandelinge vorendag te kom. LekkeSlaap deel graag ’n paar van die mees eksotiese en bekostigbare spa-blyplekke:

San Lameer Resort Hotel & Spa

KwaZulu-Natal se Suidkus

San Lameer Resort Hotel & Spa (LekkeSlaap)

San Lameer Resort Hotel & Spa naby Southbroom is gerieflik geleë vir diegene wat van Durban se gestamp en gestoot wil wegkom. Hier kan jy jou bederf-ervaring met direkte toegang tot Blouvlagstrande komplementeer. Die Indonesies-geïnspireerde dekor van die Camelot Spa sal jou behoorlik in die luim sit vir die eksotiese behandelinge wat op jou wag …

Hulle spa-tegnieke, soos velbehandelinge met alge, sout en modder, pas perfek in by die see-tema. Dié middels het detoks-voordele wat na bewering selfs probleme met vetsug en selluliet kan aanspreek. Met alledaagse werks- en gesinsverpligtinge is daar beswaarlik tyd om voldoende slaap in te haal, maar ’n 30 minute-dryfsessie in hulle “floatation pool” is na bewering gelykstaande aan ses ure se slaap! Camelot se hoogtepunt is egter die “Rasul Chamber”. Hulle eie weergawe van hierdie Turkse modderbad is maar net een van ’n paar in die wêreld met ’n kouewaterswembad in die middel sodat jou liggaam vinnig kan afkoel ─ goed vir die vel en sirkulasie!

Ons raai jou aan om San Lameer se spa-pakket van twee aande te bespreek wat verblyf, ontbyt en ’n Sweedse massering van 60 minute per persoon insluit. Én jy hoef nie ’n kinderoppasser vir die naweek te reël nie ─ die San Lameer-landgoed het spa-behandelinge spesiaal vir kinders!

Nóg geriewe om na uit te sien:

  • swembad
  • restaurant en kroeg
  • biblioteek
  • tennis-, muurbal- en rolbalbaan
  • 18 putjie-kampioenskapgholfbaan
  • kinderparkie en speletjieskamer
  • boetiekklerewinkel
  • funksielokaal vir konferensies en troues
  • WiFi
  • lughawependeldiens

Umngazi River Bungalows & Spa

Port St Johns, Wildekus, Oos-Kaap

Umngazi River Bungalows & Spa (LekkeSlaap)

Niks kom naby die Wildekus se bekoring nie en Umngazi River Bungalows & Spa het die geleentheid behoorlik aangegryp om hierdie skat van Suid-Afrika met ’n spa-wegbreek te kombineer. Terwyl jy by Umngazi bly het jy toegang tot die rivier en strand, én die privaat spa-bad in elke behandelingkamer het boonop ’n see-uitsig. Ontspan tydens jou detoks-badsessie met ’n glasie vonkelwyn in die hand terwyl jy toekyk hoe die walvisse en dolfyne baljaar. Bespreek gerus hulle voldagspa-pakket met ontbyt, vonkelwyn, middagete en ’n tradisionele Pondo-geskenkie om die dag mee af te sluit.

Ander geriewe by Umngazi River Bungalows & Spa:

  • restaurant en kroeg
  • WiFi in die gemeenskaplike area
  • kinderoppasdiens
  • speelplek, speletjieskamer en eetkamer vir kinders
  • gimnasium
  • winkel
  • swembad
  • tennisbaan

Erinvale Estate Hotel & Spa

Somerset-Wes

Erinvale Estate Hotel & Spa (LekkeSlaap)

By Erinvale Estate Hotel & Spa, in die hartjie van die Kaapse Wynlande, word jy gedurende jou spa-ervaring met ’n ryk kultuurerfenis omring. Die historiese Kaaps-Hollandse opstal wat uit die 1700’s dateer, skuil aan die voet van Somerset-Wes se majestueuse berge, langs ’n Gary Player-gholfbaan en tussen vooraanstaande wynlandgoedere. Dit is ’n puik bestemming vir allerlei funksies en vieringe, met vyf ruim lokale en ’n pragtige kapelletjie.

Aangesien dit so ’n gewilde trou-bestemming is, is dit net gepas dat die spa-pakkette hiér vir die aanstaande bruid en haar gevolg voorsiening maak. Kyk gerus ook na hulle pakkette vir paartjies, verjaarsdagpartytjies en swanger vroue, elkeen met ’n komplimentêre spa-middagete.

Ekstra geriewe by Erinvale Estate Hotel & Spa:

  • gholfbaan
  • WiFi
  • rolstoelvriendelik
  • swembad
  • funksielokaal vir troues en konferensies
  • restaurant en kroeg
  • kinderoppasdiens
  • lughawependeldiens

Misty Hills Country Hotel, Conference Centre & Spa

Wes-Rand

Misty Hills Country Hotel, Conference Centre & Spa (LekkeSlaap)

Vir ’n spa-wegbreek by Misty Hills Country Hotel, Conference Centre & Spa hoef jy nie ver uit Gauteng te wyk nie, want dis sommer om die draai in die ikoniese Wieg van die Mensdom. Die bosveld se uniekheid word dwarsdeur die hotel weerspieël ─ die klip- en grasdaksuites smelt met die natuur saam en tot 10 verskillende wildsvleise word by hulle wêreldbekende Carnivore-restaurant bedien. Privaatheid en eksklusiwiteit word gewaarborg as jy in een van hulle presidensiële suites kom bly – elkeen met sy eie tuin en plonspoel.

Misty Hills se Spa in the Country word as een van die voorste spa’s in die land beskou. As jy dink “Afrika” en “spa” is nie versoenbaar nie, sal die Afrika-kruie, blomme en speserye wat in die behandelinge gebruik word jou weer laat dink. Ou Afrika-wysheid word met konvensionele spa-bederf gekombineer om ’n unieke welwees-ervaring te skep. Ná die masserings, aromaterapie, refleksologie en gevorderde biologiese vel- en waterbehandelinge sal jy sommer met ’n huppel in jou stap daar weggaan.

Ander geriewe by Misty Hills Country Hotel:

  • restaurant en kroeg
  • funksielokaal vir troues, konferensies en ander geleenthede
  • troeteldiervriendelik
  • swembad
  • rolstoelvriendelik
  • WiFi
  • lughawependeldiens
  • speletjieskamer
  • gimnasium

De Oude Kraal Country Estate & Spa

Vrystaat

De Oude Kraal Country Estate & Spa (LekkeSlaap)

De Oude Kraal Country Estate & Spa, sowat 35 kilometer suid van Bloemfontein, sal jou met nuwe oë na die Vrystaatse platteland laat kyk. Met ’n vierstergradering en vyfgangmaaltye is dit nie sommer net enige skaapboerdery nie. Wie sou dink dat ’n mens spa-behandelinge met skaapname soos Kraal Day en Ewe’s Delight kan geniet? Om nie eers te praat van Mary’s Little Lamb vir swanger mammas nie! Daar is ook verskeie spa-pakkette, insluitend een vir paartjies met ’n piekniekskinkbord en vonkelwyn, en ’n henneparty-pakket met ’n teemaaltyd.

Sondae kan jy by De Oude Kraal se buffet-middagete kom aansit waar daar, getrou aan die skaap-tema, lamsvleiskoekies en gemarineerde lamsnek voorgesit word. Ons stel voor jy wissel die luilekker bederf en agteroorsit met die doendinge op die plaas af. ’n Paar van ons gunstelinge is kleiduifskiet, sterrekyk, lugballonvlugte, helikoptervlugte oor die plaas, ’n kaastoer en ’n trekkerrit waar jy ’n ding of twee oor die skaapboerdery kan wysraak.

Nóg geriewe by De Oude Kraal Country Estate & Spa:

  • 2 restaurante en ’n kroeg
  • wynkelder
  • funksielokaal
  • winkel
  • troeteldiervriendelik
  • swembad
  • WiFi

As jy vrouwees behoorlik wil vier, is dié spa’s ideaal om die laaste deel van Vrouemaand mee af te sluit. Hou dit gerus ook in gedagte as jy en jou geliefde op soek is na bederfsessies in ’n paar van ons land se pragtigste bestemmings. So, waarvoor wag jy? Kliek op jou gunstelingfoto en maak jou droom waar!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Jana Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.