Vyf skouspelagtige natuurverskynsels in SA

Jeroen Looyé ─ Mabibi – Loggerhead Turtles (Flickr)

Suid-Afrika spog met soveel unieke natuurwonders wat jy dwarsdeur die jaar kan besoek. Dink maar aan die majestueuse Drakensberge, Tafelberg, die uitgestrekte vlaktes van die Karoo en die ongerepte strande aan ons asemrowende kus. Maar daar is ook soveel van ons land se natuurprag wat jy nét op ’n spesifieke tyd van die jaar op ’n spesifieke plek kan sien. LekkeSlaap het gaan loer na sommige van dié natuurverskynsels wat jou met eindelose verwondering oor die skoonheid van Moeder Natuur in ons land sal vul.

Kleinflaminke by Kamfersdam

Dié ligpienk voëls versamel in groot swerms by die Natronmeer in die noorde van Tanzanië, die Etoshapan in Namibië, Suapan in Botswana én die Kamfersdam naby Kimberley. Flaminke migreer hul lewe lank van soutmeer tot soutmeer in verskillende dele van Afrika op soek na die area wat die meeste alge, wat deel uitmaak van hulle dieet, bied.

Kamfersdam, net 6 km noord van Kimberley in die Noord-Kaap, is die ideale plek om kleinflaminke in al hul pienk glorie te aanskou. Duisende kleinflaminke, meer as die helfte van suidelike Afrika se kleinflaminkbevolking, broei elke jaar in hierdie algeryke dam. In 2006 is Birdlife Africa se Mark Anderson se voorstel om ’n S-vormige broei-eiland te bou, goedgekeur en die flaminkgetalle het onmiddellik toegeneem.

Kleinflaminke word as ’n “byna bedreigde”-spesie geklassifiseer, en duisende kuikens het die afgelope paar jaar gevrek as gevolg van die droogte en rioolwater wat in die dam gepomp word. Gelukkig bied die Kamfersdam steeds ’n tuiste aan ʼn groot swerm van hierdie beeldskone langbeenvoëls, so maak ’n plan om dié asemrowende toneel te bewonder terwyl jy nog kan!

Wanneer is dié wonderwerk?
Duisende van dié voëls word jaarliks in ’n S-vormige patroon vanaf November tot April hier gewaar indien daar genoeg alge is. As die dam nie oorvol is nie, vertoef die flaminke selfs in die winter hier. Besoekers word versoek om nie die flaminke se habitat te versteur nie.
Het jy geweet? Kamfersdam is die enigste flamink-broeiplek in Suid-Afrika en die vierde grootste broeiplek in Afrika.

Waar in Suid-Afrika kan jy ook Kleinflaminke sien?

Spitskopdam
Oranjeriviermonding
Chrissiemeer
Velddrif
Langebaanstrandmeer

Bespreek een van dié blyplekke naby Kamfersdam:

Diggies Lodge | Mondior Manor | Oleander Guesthouse | Kimberley Anne Small Luxury Hotel | Kimberley Country House

Die reuse by Hermanus

Hermanus is nie net een van die gewildste vakansiebestemmings in Suid-Afrika nie ─ dié pragtige kusdorp is volgens die World Wildlife Fund (WWF) ook een van die 12 beste walviskyk-bestemmings in die wêreld! Besoekers kan bootritte bespreek om dié fassinerende reuse van nader te aanskou, maar ’n verkyker en ’n goeie uitkykpunt is dikwels ál wat ’n mens benodig.

Elke jaar in Oktober word die terugkeer van die walvisse na Walkerbaai gedurende die Walvisfees gevier. Die Walvisfees bied puik walviskyk-geleenthede, interessante kunsuitstallings, heerlike kos en verskeie musiekkonserte.

Watter walvisspesies kan jy sien?

Suidelike noorkapper: Dié reus is geneig om naby die kus te swem en word gekenmerk deur wit, vratagtige groeisels op sy kop en groot spaanvormige borsvinne, maar geen rugvinne nie.
Het jy geweet? Volwasse suidelike noorkappers kan tot 15 m lank word en meer as 60 ton weeg!
Die beste tyd om dié reuse te sien: Julie tot November

Boggelrugwalvis: Dié walvis word gekenmerk deur lang borsvinne en ’n bulterige kop. Die boggelrugwalvis het nie ’n boggelrug nie ─ sy naam verwys na die groot “boggel” wat vorm wanneer hy uit die water spring en weer terugduik.
Het jy geweet? Die bul is bekend vir sy amper spookagtige melodieë. Sommige navorsers is van mening dat dit potensiële paarmaats lok, ander glo weer dat ’n bul sy lied aanpas by die nuwe skool walvisse waarby hy aansluit wanneer hulle migreer vanaf Antarktika ─ waar die kos volop is ─ na Mosambiek of Madagaskar, waar hulle kalf.
Die beste tyd om dié reuse te sien: Mei tot Desember

Waar jy kan bly gedurende ’n walviskykvakansie:

Overberg Gems – Lagoon View | Windsor Self-catering Apartments | Heaven & Earth Cottage | Harbour House Hotel | Kennedys Beach Villa

Sardienloop aan die KwaZulu-Natalse kus

Elke jaar gedurende Junie en Julie verander die warm waters aan KwaZulu-Natal se kus in ’n bruisende massa sardiens wat teen die kus op migreer. Sardiens verkies eintlik koue water en kom in enorme skole aan die weskus van Kalifornië, Suid-Amerika, Japan en suidelike Afrika voor. Gedurende die sardienloop migreer die sardiens vanaf die Kaap se koel waters ooswaarts na die Wildekus. Dié vissies beweeg na die ander kant van die land om die seisoenale koel water van die Agulhas-seestroom aan die Ooskus te vang.

Vanselfsprekend vergader duisende vissermanne dan aan die KwaZulu-Natalse kus om so veel as moontlik van dié vissies te vang. Hulle gebruik groot nette om die skool visse rondom die bote te vang, wat hulle dan uitsleep en vinnig in emmers gooi. Strandgangers is gewoonlik baie gretig om te help. Wanneer daar ’n spesifieke wind of stroom is, kan dit veroorsaak dat die sardiens baie na aan die strand swem, waar elke Jan Rap en sy maat dan sommer die vissies in emmers of handnette, of selfs met rompe vang! Dit kan nogal vermaaklik wees om dié wedywering dop te hou.

Dit is nie duidelik watter voordele die sardiens uit dié migrasie trek nie, aangesien KwaZulu-Natal se see minder kos bied en vol roofvisse is wat op hul sardientjie-prooi wag. Haaie, dolfyne, robbe, visse en selfs seevoëls vier heerlik fees gedurende die Sardienloop.

Het jy geweet? Die sardiens se broei-area is langs die Kaapse Suidkus waar die volwasse vissies in die lente en somer vergader. Die eiertjies word bloot in die water vrygelaat en die getye dra dit in ’n westelike en noordwestelike rigting al langs die Weskus op.
Wanneer kan jy dit beleef? Junie en Julie

Bly by dié plekke om nie die Sardienloop mis te loop nie:

All seasons B&B | Morgenzon B&B | The Old Stone House | Forest Manor Boutique Guest House | Eagles View

Die grootwithaai van Valsbaai

Ons almal is bewus van die grootwithaai se spoed, dodelikheid en grootte, maar het jy al dié roofvis in aksie gesien? Jy kan dié vreesaanjaende dog opwindende gebeurtenis in Valsbaai aan die Kaapse Suid-weskus gewaar! Net 30 km suid van Kaapstad by Robeiland breek grootwithaaie deur die see se oppervlak om niksvermoedende robbe in hul reuse-kake te vang. Dit vind gewoonlik vroeg in die oggend of laat in die middag plaas wanneer die silhoeët van die prooi duideliker is vir die haai om te sien, of wanneer die haai minder sigbaar is vir sy prooi. Volgens navorsers is dit ’n uiters seldsame verskynsel. Dit kan wees as gevolg van die ideale topografiese struktuur van die eiland wat help om die haai minder sigbaar maak vir die robbe.

Wanneer jy op die bootrit gaan, word ’n lokmiddel wat soos ’n rob lyk sowat 30 m tot 40 m agter die boot aangesleep. Die haai volg dan die aas totdat die regte oomblik aanbreek wanneer die vreesaanjaende vis deur die oppervlak van die see breek om sy prooi te vang.

Het jy geweet? ’n Grootwithaai kan tot 2,4 m in die lug spring tydens so ’n jagsessie! Dit hang natuurlik af van die grootte van die haai en die spoed waarteen hy swem.
Wanneer kan jy dit sien? April tot September

Bly by dié plekke gedurende jou haai-avontuur:

Villa La Louise | Riverside Estates | The Platinum Boutique Hotel | La Pergola | Penguin Palace

Die migrasie van seeskilpaaie in KwaZulu-Natal

’n Begeleide wildtoer is iets wat op die meeste van ons se emmerskoplysie is. Om Afrika se reuse-soogdiere van nader te aanskou, is beslis iets om oor huis toe te skryf. Maar het jy al ooit oorweeg om ’n begeleide seeskilpadtoer te doen? As jy baie gelukkig is, kan jy sien hoe die babaskilpadjies, nadat hulle uitgebroei het op die strand, terugsukkel see toe!

Waterskilpadwyfies maak nes aan die pragtige Olifantkus in KwaZulu-Natal wat vanaf St Lucia tot by Kosibaai strek. Dié deel van die land staan bekend as “Skilpadland” (“Turtle Country”). Seeskilpaaie is oor die algemeen baie geheimsinnige diere en word nie sommer gewaar nie. Die Karetskilpad en Leerskilpad broei in Zoeloeland se water en lê hul eiers op die strand.

Die seeskilpadwyfie maak haar nes tydens hooggety op maanlose nagte gedurende die somer, en lê ses tot nege broeisels eiers. Sy soek ’n plekkie bo die hooggety-merk om die gat vir haar nes te grawe. Die gat is soms tot 1 meter diep. Nadat sy die eiers gelê het, maak sy dit versigtig toe om dit teen roofdiere soos jakkalse, ratels en wilde katte te beskerm. Elke broeisel bevat sowat 100 tot 120 eiers en na ongeveer 70 dae broei die babaskilpaadjies uit. As jy gedurende Januarie en Februarie hierdie skouspel beleef, ervaar jy so te sê ’n wonderwerk!

Die meeste seeskilpaaie maak nes en broei naby Banga Nek by Kosibaai uit. Seeskilpadtoere vind gedurende die nag en dag plaas. Die beste plek om skilpadtoere te doen is St Lucia Vleilandpark wat die onvergeetlike geleentheid bied om ’n bedreigde spesie in sy mees kwesbare, dog kosbare oomblik van naderby te beleef.

Het jy geweet? Slegs sowat vier skilpaaie uit elke 1 000 bereik volwassenheid. Onlangse studies toon dat die wyfies terugkeer na die strand waar hulle uitgebroei het. Kenners weet steeds nie hoe hulle die plekke waar hulle uitgebroei het, weer vind nie. Dit bly ’n geheim van die natuur.
Wanneer kan jy die seeskilpadjies sien? Nesmaaktyd begin vroeg November elke jaar. Die seeskilpadjies broei van Januarie tot Maart uit. Skilpadtoere vind vanaf November tot Maart elke jaar plaas.

Bespreek een van dié plekke vir jou droomvakansie aan die Olifantkus:

Umlilo Lodge | Aha Jozini Tiger Lodge and Spa | St Lucia Ecolodge & Conference Centre | White Elephant Safari Lodge & Bush Camp | Kwa-Lala Bed and Breakfast

As dit by unieke natuurverskynsels kom, hoef Suid-Afrika beslis nie terug te staan vir enige ander land nie. Ons wonderskone natuur bied ’n kaleidoskoop van besonderse natuurverskynsels wat jy nie sommer op ’n ander plek in die wêreld sal sien nie!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Hennely Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christa ·

wys jou net hoe Groot is ons God. Hy sorg vir elke diertjie, hoe klein of hoe groot. Hoe kan mense nog twyfel aan Sy grootheid en Sy almag!.

Essa ·

So baie om te sien en doen in ons pragtige land. Lekker artikel, dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.