Waar stilte woon

As ʼn kind wat grootgeword het in die bosveld, is die herlaaiing van jou siel in die stilte van die bos amper so nodig soos asemhaling. Vir die afgelope paar jaar bly ek in die mooie Kaap. Daar is egter net een ding wat die Wes-Kaap kort: die Bosveld.

Of so het ek gedink tot ek die geleentheid gekry het om Wildehondekloof Privaat Wildreservaat te besoek.

Wildehondekloof Privaat Wildreservaat

Foto: Marianne Styan

Knus geleë in die diep fluweel-voue van die Lategansvallei, tussen die donker Swartberge en pienk Outeniekwaberge, weet mens amper nie jy is by die luukse viersteroord voor dit skielik voor jou verskyn nie.

Soos ʼn oase in die grys Renosterveld, verskyn die bruin geboue omring deur groengras (onderhou deur hulle eie gryswater). Die trop wilde Njalas wat rustig op die gras rondom die swembad wei, lyk amper soos iets uit ʼn sprokie.

Lanklaas was ek so kinderlik opgewonde om so ʼn vreedsame prentjie te sien. As ʼn ma van twee onder twee is ʼn naweek-blaaskans, met die vooruitsig van ononderbroke slaap byna soos ʼn drie weke lange vakansie.

Die personeel se wye, vriendelike glimlagte en hulpvaardigheid laat ons sommer dadelik tuis voel terwyl ons weglê aan laatmiddag versnaperinge terwyl ons aanmeld en ons kamersleutels ontvang.

Die luukse oord bestaan uit nege pragtige Afrika-sjiek moderne kamers. Een presidensiële suite, vier kamers met twee dubbelbeddens, ʼn bad en stort en vier kamers met koningsgrootte beddens en ʼn kaggel elk.

My hart trek altyd na ʼn kaggel wanneer dit winter is en die kaggel in my kamer is sommer al vroeg elke aand aangesteek om die Karoo-koue te verjaag. Gelukkig is daar heerlike warmkomberse op die beddens wat die personeel vir jou aanskakel terwyl jy aandete geniet in die eetkamer, waar nog ʼn kaggel brand. Daar kan ook laataand om die vuur in die lapa-area gekuier word.

Aandetes is hartlike boerekos wat volstruisbobotie, volstruis-carpaccio, soetpatatsop, volstruisfillet en malvapoeding insluit. Elke aand is ons borde skoon geëet. Ontbyt is kontinentale en/of warm geregte.

Die wild is nie so volop soos ek gehoop het nie maar om die natuur te kan geniet terwyl die stilte ons oral volg, is goed genoeg vir my bosveld-hart. Op ons drie ure oggendstaproete, al langs en oor die Wynandsrivier, is ons aangenaam verras oor die diverse natuurtransformasies wat ons deurentyd gesien het. Van renoster- en ysterbosveld, tot rooisteenberghange, tot tropiese plantegroei, tot pienk en wit kwartsiet het deurentyd afgewissel. Alhoewel dit ʼn heerlike en nie-te-uitdagende staproete was, was die hoogtepunte verseker die lawende uitspan by die eindpunt waar ʼn allemintige verskeidenheid versnaperinge en selfs vonkelwyn vir ons moeë lywe gewag het. (Die staproete en piekniek is teen ʼn ekstra koste.)

Uitspan langs die koue swembad en in die rustigheid van die oord, het ons weereens die absolute oorverdowende stilte laat geniet die res van die middag, tot ons op die sonsondergangrit gegaan het waar ons onder andere koedoes, gemsbokke en duikers gesien het. Daar is ook ander boksoorte soos blou-en swartwildebeeste, sebras en rhebokke hier te vind. ʼn Groot verskeidenheid versnaperinge is vir ons uitgepak toe ons stilhou om die uitsig te geniet terwyl die son agter die Swartberge weggesak het.

Ons twee aande het heeltemal te gou verby gegaan, maar my siel was verseker herlaai. Die geluk is dat Wildehondekloof onder die vaandel van Cape Country Routes bedryf word, ʼn inisiatief bedryf deur eienaarbeheerde akkommodasie en aktiwiteite langs die gewilde roetes van die Wes- en Oos-Kaap. Ons het dus die geleentheid gekry om tydens ons verblyf nog twee van die aktiwiteite te ervaar wat deel vorm van die Cape Country Routes, in die omgewing van Wildehondekloof, en ons kon nog ʼn rukkie in die stilte vertoef.

En wat ʼn ervaring!

Besoek die webwerf: Wildehondekloof Privaat Wildreservaat
E-pos: [email protected]

Safari-volstruisplaas

Foto: Marianne Styan

Hier word daar nie op volstruise gery nie. Hier word dié massiewe voëls gerespekteer. As ʼn werkende volstruisteelplaas, geleë 6 km vanaf Oudtshoorn, kan mens nie net op die enigste-in-sy-soort Volstruistrekker, uurliks tussen 08:00 en 16:00, deur die volstruis-en teelkampe ry nie, jy kan ook meer leer van dié interessante voëls. Die vriendelike, ervare gidse deel deurentyd inligting van die Zimbabwiese, Keniaanse en Suid-Afrikaanse volstruise wat hier te sien is.

Die tweede helfte van die toer is te voet, na die broeikas, waar mens kan sien hoe kuikens uitbroei. Daar word ook gewys hoe verestoffers gemaak word en daar is fotogeleenthede saam met volstruise met die name Michael Jackson, Lady Gaga, Madonna en Suzy the Stripper, wat nie skaam is om hulle beste veertjie voor te sit nie.

Middagete by die restaurant is heerlik en eg aan die Karoo, met onder andere volstruisfillet, slaai en stampmielies. Terwyl daar gewag word op die kos of trekkerritte, kan die kinders op die groen gras speel, en die ouers hulle verkyk aan die pragtige leer- en veerprodukte in die winkel.

Ná ons besoek kyk ek verseker met nuwe oë na hierdie groot voëls met die sagte vere, wat dit regkry om in hierdie droë area te kan oorleef.

Besoek die webwerf: Safari-volstruisplaas
E-pos: [email protected]

Five Shy Meerkats

Foto: Marianne Styan

As ek tydens ʼn onvergeetlike ervaring besef ek is besig om ʼn regmerkie te maak langs iets op my emmerskoplysie, maar nooit geweet het daardie item was op my lysie nie, dan weet ek dít is die moeite werd! Hierdie amper onbeskryflike ervaring was een van daardie items.

Alhoewel ons aanvanklik maar erg gesukkel het om onsself uit die snoesige en warm beddens van Wildehondekloof te kry om die amper uurlange rit na die aktiwiteit aan te durf, het ons uitgesien na die ongewone vooruitsig wat hulle beskryf as ʼn “wêreld-unieke ervaring om saam met wilde meerkatte te loop”. Dis geleë op De Zeekoe-gasteplaas, 7 km buite Oudtshoorn.

Die son se lig het al die berge se silhoeëtte begin kroon toe ons ons motor by die ander toeriste s’n voeg, waar ons die yskoue kon verjaag met ʼn koppie stomende koffie of warm sjokolade en beskuit. Hier is ons elkeen ʼn kampstoel en kombers gegee, en daarmee stap ons in ʼn ry agter ons gids, Devey, aan, in die voetpad af wat kronkel tussen die renosterbosse, in die rigting van die opkomende son.

Aangekom by ons bestemming, met deurlopend interessante feite oor die natuur en meerkatte, maak Devey ons stoele staan op spesifieke plekke sodat ons elkeen die beste uitsig kan hê op die “verhoog en akteurs” van die dag. Met ons rûe na die opkomende sonstrale, sit ons effens verkluim, fluisterend en wegkruip onder ons warm komberse, toe die eerste kreatuurtjie sy oulike gevreetjie by hulle “voordeur” uitsteek, skaars 15 minute nadat ons daar aangekom het. Die wag kan soms langer as ʼn uur of meer neem, word ons ingelig. Die meerkat maak homself dadelik tuis, stanend, gestut op sy stert, met sy “sonpaneeltjie” (magie) in die sonstrale

Daar is ʼn ge-oe en a soos almal hulle verlustig in hierdie onvergeetlike ervaring. Die opgewondenheid groei onder die toeskouers soos die een ná die ander meerkat homself kom voeg in die ry van wakkerwordende standbeeldjies. Dis ʼn gerek en strek, gaap en stamp soos almal hulle ideale plekkie in die warm son soek. Mens moet jouself egter nie laat flous nie. Die oomblik as daar ʼn voël oor vlieg of ʼn voet geskraap word mis hulle dit nie en swaai almal hulle koppe in die rigting van die moontlike indringer. Volgens Devey deel meerkatte nie maklik hulle omgewing nie en waak jaloers daaroor. Hulle sal maklik enige iemand aanval wat te naby kom en as draers van die gevreesde hondsdolheid-kiem bly mens maar weg van daardie skerp tandjies.

Terwyl ons ons verlustig in die gesinnetjie, word ons vertel meerkatte het ʼn dominante mannetjie en wyfie en net hulle kry kleintjies. Die res van die inwoners in die den is almal afstammelinge van hulle.

Die son begin sy werk doen en die gesinnetjie begin verder weg van die den af beweeg soos hulle begin uitkyk en skrop vir moontlike kos. “Sekuriteit” word strategies geplaas en die babaoppassers gaan terug in die den in, voor die res van die gesin hulle pad in die wye Karoo-vlaktes kies vir ʼn dag van kos soek.

Ons almal is effens afgehaal om op te staan en bene te rek, maar Devey verseker ons daar gaan nie meer aktiwiteite wees nie, en ons vind langsaam ons pad terug na die motors. Sleepvoetend, amper asof ons hierdie uur of twee, waar ons deel kon wees van iets so natuurlik en spesiaal, nog ʼn oomblik wil uitrek.

Maar dis terug na realiteit en die beton-oerwoud vir ons, alhoewel ons weet ʼn stukkie van ons harte bly agter, hier in die Karoo, waar die stilte woon…

Besoek die webwerf: Five Shy Meerkats
E-pos: [email protected]

  • Marianne Styan het Wildehondekloof Privaat Wildreservaat, Safari-volstruisplaas en Five Shy Meerkats op uitnodiging van Cape Country Routes besoek. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter Jooste ·

Se my tog wie kan hierdie plekke nog bekostig met ‘n gesin?

Christine ·

Ja nee kyk Pieter dit is seker duur, maar o wee dit is ‘n stukkie Hemel op aarde!! … as ek die lotto wen gaan ek soontoe…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.