Wanneer laas het jy in ʼn wingerd wakker geword?

Vine Hill (Foto: Carina Stander)

Die oomblik toe ons Stellenbosch binnery, koop ons ‘n groot boks Bolandse vrugte by ‘n straatverkoper. Die verkeerslig verander soos blits, ons gee hom die prys wat hy vra sonder om vir afslag te redekawel en vertel vir mekaar dis die man se gelukkige dag om sommerso kort voor tjailatyd ‘n dagloon te verdien. Ons is verkeerd. Dit is óns gelukkige dag.

In my dag des lewens het ek nog nie sulke sonsoet druiwe geëet nie. Vyf variëteite druiwe, twee variëteite perskes wat elkeen lyk of dit deur die son gesoen is. Al is dit reeds vroegherfs, smaak die vrugte die ene somer. My pa, wat saam met ons op reis is en dekades lank met vrugte geboer het, sê vrugte hou nie van te veel water nie. Dis ‘n waaragtige tragedie van die droogte in die Wes-Kaap (en aangesien my pa vir 64 jaar in die Bosveld geboer het, kén hy droogte en vloede), maar dié boks Bolandse vrugte, ten minste, het die beste van ‘n slegte droogte gemaak. Ons kan die son in die vrugte próé toe ons daardie middag op die stoep van ons oornagplek sit, elk met ‘n bordjie afgespoelde druiwe en uitkyk oor die wye wingerd. Dit voel net rég om vrugte so te eet, so met die wingerd wat wil-wil verkleur en Helderberg doer voor.

“Wanneer laas het jy in ‘n wingerd wakker geword?” vra hulle by Vine Hill Guest Cottages.  Hier, aan die westelike hange van die Helderberg en loopafstand van twee wynplase, is waar ons die naweek gaan oornag. Dis nou ek, my man Gerrit, pa Sarel en ma Truiki.

Ons seuns kuier vir die naweek by nefies en maatjies terwyl ons ‘n duisend kilometer sit-sit-so ry na die Woordfees op Stellenbosch waar ek ‘n boekepraatjie moet lewer.

Soggens, wanneer die son kopuitsteek bo die growwe Bolandse berge, drink ons boeretroos en eet beskuit op die houtdek van Vine Hill. By die minuut word die buitelyne van die Helderberg al hoe duideliker. Swerms swaeltjies swiep deur die lug. Skrophoendertjies woel tussen die rose. ‘n Werfvark snork in ‘n kampie langsaan.

Die kothuisie waar ons oornag is 85 vierkante meter met ‘n ruim slaapkamer, badkamer met pootjiesbad en stort, ‘n ten volle toegeruste kombuisie en ‘n sitkamer met gesellige, geblomde kuierbanke. Dis smaakvol met interessante ornamente soos ‘n beeldjie van ‘n ystervark, ‘n hobbelperdjie van hout en mooi handgemaakte keramiekbakkie en -bekers. Hier is ook ‘n buite-braaiplek en swembad. Saans kuier ons oor ‘n glas Bolandse wyn terwyl ons na Kaapstad se liggies in die weste kyk. Dan draai ons weer oos na die maan wat geheimsinnig bo Helderberg verskyn. Die sterre. Die stilte.

Een oggend het Gerrit ‘n ver ent deur die wynplase gaan draf – veilig en vars – en die plaaseienaar Robert teëgekom ná sy lang bergfietsrit. Robert was slaggereed vir die Argus-fietstoer in Kaapstad. Dis heel gerieflik vir besoekers van ver om te weet dat die gewilde Argus-fietstoer in dieselfde week as die Woordfees in Stellenbosch is, daarom kan die fikses en die onfikses, die gekultiveerdes en sportmalles in ‘n familie se paaie maklik vir ‘n dag skei. Gun elke diertjie sy plesiertjie!

Om die Boland te besoek in ‘n tyd van waterskaarste laat mens weer besef hoe weerloos die mens is en hoe onverwags die seisoen van die lewe darem kan verander. Middel verlede jaar was my tagtigjarige pa vir 39 dae in die hoësorgeenheid met ‘n hartklepvervanging, nou fees hy saam met ons! Mens is net so dankbaar om uitgespaar te wees vir mekaar. My ma, wat vir veertig jaar Afrikaans en Duits onderrig het en baie lief is vir die letterkunde, kon nog nooit haar draaie kry om self ‘n kunstefees mee te maak nie. Wat ‘n wonderlike eerste Woordfees vir haar!

Boggerol biertuine, g’n simpel stalletjies of malle mallemeule nie. Net akkerbome en boeke, drama, film en musiek. Dis ‘n vredige fees, maar alles behalwe vervelig. Met meer as 1 000 aanbiedinge is dit nogal ‘n gespook om te kies, veral as mens (soos ons) net ʼn naweek beskikbaar het. Maar hoe fantasties dat die magdom talent in ons taal gevier word: Elke produksie wat ons bygewoon het, was stampvol gepak!

Van die feeshoogtepunte was “Die misterie van twee vroue” wat gebaseer is op TT Cloete se briewe aan sy vrou Anna, sy liefde sedert skooljare, nadat sy gediagnoseer is met kanker – uitmuntend vertolk deur Carel Trichardt en Petru Wessels met toonsettings van sy gedigte. En daar in die RSG-tent is lekker stories vertel deur die kruieguru Antoinette Pienaar en haar leermeester, die 96-jarige oom Johannes. Afrikaans is lewend in die lende en dit kriewel van talent!

Of jy binnekort in Stellenbosch gaan kuier en of jy eers volgende jaar Maart met die Argus-fietstoer en twintigste Woordfees daar gaan draai, onthou gerus: Die dorp is eintlik ‘n klein stad en die strate raak dolbesig. Daarom, as jy tussendeur al die pret en plesier en geroesemoes ‘n bietjie wil wegglip na ‘n plek van stilte, is Vine Hill ‘n goeie keuse. Dis skaars 10 minute se ry uit die middedorp en met sy berg en wingerd is dit tog so eie aan die Boland en so plaaslik as kan kom. Kaapstad Internasionale Lughawe is ‘n halfuur se ry daarvandaan. Skakel: Lesleyann Lea by 021 855 1326 of 073 671 5557 of 083 600 0744. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.vinehill.co.za

Nog ‘n skuilplekkie is die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin in die geskiedkundige hartjie van die dorp. Dit is in 1902 gestig en is die oudste universiteitstuin in Suid-Afrika. Wandel verby die lieflike waterleliedamme en tussendeur boomvarings, tropiese kweekhuise van glas met ongelooflike eksotiese lugplante en orgidee.

Die bonsai-versameling is die grootste wat ek nog gesien het. Daar verkyk mens jou aan piepklein blommende doringboompies, ‘n kremetartboom, bosvyg en vele meer. Sommige van die bonsai is byna tagtig jaar oud. Toegang na die Botaniese Tuin is R10, maar as jy ‘n ete by die Katjiepiering-restaurant in die tuin geniet, kry jy R5 van die toegangsgeld terug. Skakel: 021 808 3054. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: https://www.sun.ac.za/english/entities/botanical-garden

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johan ·

Ek het nog nooit in ‘n wingerd geslaap en wakker geword nie, maar ek het al met wingerdgriep wakker geword. Tel dit?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.