Warmhartige Windhoek

Carina Stander (Foto verskaf)

Mens moet seker nie veralgemeen nie, maar vir my is die Namibiërs soos hulle landskap – warmhartig, oop, sonder voorgee of fieterjasies. Ek vind dit een van die veiligste en maklikste Afrikalande vir besoekers van Suid-Afrika: Oral kan jy in rande betaal en Afrikaans word wyd verstaan.

Geografies is Windhoek reg in die middel van Namibië. Vir baie reisigers is dié snelgroeiende hoofstad met sy 334 580 inwoners net ʼn vinnige oorstopplek; die begin- of eindpunt van ʼn epiese toer deur die land. Jare gelede het ekself ook die wye wildernis van die woestyn deurkruis, maar toe ek onlangs ʼn skryfkursus in Windhoek moes aanbied, was dit my eerste besoek aan dié stad. Al het ek net ʼn halwe dag vry gehad vir verkenning, was dit voldoende vir ʼn halfdosyn interessanthede:

Warrel in by Slowtown, ʼn trots-Namibiese koffiewinkel. Dis ʼn sjiek plek wat mens daaraan herinner dat Windhoekers gemaklik skouer skuur met wêreldbesoekers. Die koffie en koek is topklas! Hier kry jy egter nie net kragtige koffie nie, maar ook hartlikheid. Op ʼn oggend wanneer die koue winde om Windhoek se hoeke waai, bring hulle sommer vir jou ʼn snoesige kniekombers saam met die warm drinkgoed, sonder dat jy hoef te vra. Webwerf:  SlowtownCoffee.com

Foto: Carina Stander

Christuskirche is ʼn ikoniese Duits-Lutherse kerk wat ontwerp is deur argitek Gottlieb Redeckerin. Dis in 1907 gebou uit sandsteen wat gemyn is by die plaaslike Avisdam. Die marmerpilare is uit Italië. Die ontwerpstyl is ʼn vreemde mengsel van Goties, Romaans, Art Nouveau en Kaaps-Hollands. Die vorm en kleur van die kerk het my aan ʼn gemmerbroodhuisie laat dink – sprokiesagtig en pragtig. Dis eers die Vredeskerk genoem, omdat dit gebou is ná die veldslae tussen die Duitsers, Khoi, Herero en Owambo. Iets van die strewe na vrede is voelbaar hier. Die buitelyne van die kerk is ontwerp om te lyk soos ʼn hand wat gelig word in ʼn vredesgebaar. Teen die suidelike muur is bronsplate met die name van rye en rye slagoffers wat in oorloë gesneuwel het – kil en doods – terwyl die oorkantste muur se brandgeskilderde vensters gloei van lewe en lig.

Foto: Carina Stander

Die Parlementtuine tussen Christuskirche en Tintenpalast (oftewel die “Inkpaleis” soos wat Namibië se parlement bekend staan) is in 1932 aangelê. Dis ʼn skaduryke oase met palmbome, blommende kamferfoelie en suikerbekkies wat om die koraalboom kwetter, studente wat boeklees en ʼn grasperk waar jy kan piekniek hou. Jy kan ook die bronsbeelde van drie volksleiers hier besigtig. As jy jou wil verknies, stap na die bokant van die trappe en verkyk jou aan die “minutes of proceeding” van die parlement: goudgeraam, maar miergevreet. Skreiend ironies. ʼn Tragiekomedie.

Foto: Carina Stander

Die Independence Memorial Museum is ʼn stadsblink gebou wat geborg is deur Noord-Korea. Dit word deur die plaaslike inwoners die “Koffiemasjien” genoem weens die volksvreemde vorm. Dis in 2014 geopen en vertel die geskiedenis van Duitse oorheersing, die weerstandsbeweging en die onafhanklikheidswording van Namibië in 1990. Die enorme skilderye is indrukwekkend. Van die foto’s is erg ontstellend. Neem gerus die glashysbak na die heel boonste, vierde vloer waar die restaurant is – dis die hoogste punt in die stad met ʼn asemrowende 360°C uitsig. Toegang is gratis. Maandag tot Vrydag 09:00 – 17:00. Saterdag en Sondag 10:00 – 17:00.

Foto: Carina Stander

Vir ʼn ander panoramiese uitsig oor Windhoek, maak ʼn draai by Drie Sirkels. Dis ʼn opelugruimte en het die meeste graffiti wat jy in Windhoek sal kry, maar op ʼn manier pas dit by die kreatiewe gegons van ʼn jong stad. Van hier kan jy alkant uitkyk oor Christuskirche, Tintenpalast, die Atlasberge en die woonbuurtes. Ek was daar in die middag, maar ek raai dit sal die mooiste wees met sonop of sononder. Klik hier vir die Google-kaart.

Foto: Carina Stander

Joe’s Beerhouse is ʼn fassinerende vleisfees van ʼn restaurant. Op die webwerf word jy gewaarsku: “Joe’s Beerhouse is for those who like the road less travelled. A place where the unexpected can occur, where quirky is normal, and where nothing is ordinary.” Dit, broeders en susters, is die reine waarheid. Om elke hoek en draai is daar ʼn kinkel. ʼn Toilet vol vetplante. Ou straatname en selfs ouer tikmasjiene en fietse. Voëlverskrikkers en voëlkoutjies. Rêrige, êrige opgestopte aasvoëls, bokke, leeus, krokodille en self ʼn kameelperd wat met glaserige oë vir jou gluur terwyl jy eet. (Omring deur vierhonderd ander gaste is dit ʼn grap, maar dis wragtag nie die soort plek waar jy om middernag alleen wil wees nie!) Ja, Joe’s is grof en rof. Dit het die fantastiese, mallerige atmosfeer van ʼn plaasskuur wat behoort aan ʼn kluisenaar wat ʼn kompulsiewe versamelaar is. In die werklike lewe is dit natuurlik glad nie die geval nie, maar dinge hier werk onderstebo. ʼn Kar wat in die lug hang? Absoluut! Jy wou ʼn Windhoek Lager drink in Windhoek? Die huiswyn is Jagermeister! Jy het gedink jy’s lus vir slaai, totdat ʼn gereg genaamd Boesman-sosatie op jou bord beland – geurige happies sebra, gemsbok, koedoe en springbok bedien saam met mieliepapkrokette. Die poeding met Amarula Cream en sjokolade as hoofbestanddele gly moeiteloos in die keel af. Joe’s Beerhouse is ʼn avontuurlustige, hartlike, enigsoortige eetplek wat glo in ruim porsies en groot gelag. Kans is dat jy die tafel met wildvreemde mense gaan deel, maar dis ook deel van die ervaring. Ek het heerlik gesmul en gekuier met ʼn jarelange vriendin en haar ouers wat in Windhoek grootgeword het. Joe’s is glo meestal tjokkervol, so jy beter betyds bespreek. Dis daagliks oop van 12:00 tot laataand. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: JoesBeerhouse.com

Foto: Carina Stander

Oor ʼn glas glühwein word ek later vertel van nóg ʼn spul eksentrieke hoeke en draaie in Windhoek: Stalle waar handelaars toeka hulle kamele aangehou het; ʼn wingerd wat aangeplant is vir nagmaalwyn; Duitse kastele; drie-en-dertig meteoriete, van die oudste buiteruimtelike objekte op aarde, wat sommerso uitgestal word op straat. Maar ʼn mens kan ook net soveel in ʼn halwe dag beleef en vir eers roep ek halt. Prost!

NOG REISRAAD

As jou tyd in Windhoek skraps is, oorweeg gerus om by Hillside te oornag. Dis sentraal, ruim, silwerskoon en veilig. Uiters gerieflike selfsorgverblyf. Webwerf: HillsideWindhoek.com

Vir ʼn begeleide staptoer deur die middestad (waartydens jy klomp van die genoemde bakens besoek) kan jy by Chameleon Safari’s gaan inloer. Ons gids, Taimi, was innemend en vol kennis. Die stadstoer is gratis, maar fooitjies vir die gids word verwelkom. Dis Maandag tot Saterdag vanaf 09:00 en neem ongeveer twee ure lank. Webwerf: ChameleonSafaris.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJN ·

Ek was in my beste skooljare in Windhoek Hoërskool en verlang baie terug hier waar ek nou in die RSA bly. NAM is maar net die mooiste land in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.