Wees só veilig op die pad die feesseisoen

Paaie in Suid-Afrika raak vinnig besiger met die Kersvakansie wat binnekort sy verskyning maak. Terwyl die vakansie ʼn tyd vir ontspanning is, moet motoriste nie ontspan wanneer hulle die langpad aandurf nie. Met duisende mense op die paaie, is die veiligheid van die motoriste én die voetgangers uiters belangrik.

Skole sluit landwyd amptelik op 12 Desember en begin weer op 9 Januarie volgende jaar. Groot paaie, veral van Gauteng na Polokwane, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap, is baie besiger oor dié tyd, het die Automobiel-Assosiasie (AA) gesê.

“Padgebruikers moet verstaan dat die groot paaie in die land besig gaan wees, so hulle moet hul houdings en bestuurstyle daarvolgens aanpas. Om in ʼn rekordtyd by jou bestemming te probeer kom, is onverantwoordelik, gevaarlik en onnodig. Jy gaan op vakansie, maak die reis deel daarvan,” het die AA gesê.

Volgens die Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging begin die voorbereiding vir die langpad al die aand voor jy vertrek. “Dit is belangrik om ʼn minimum van ses uur se slaap in te kry voordat jy agter die stuurwiel inklim,” het hulle gesê.

Chanele van Tonder, bemarkingshoof van Hertz Suid-Afrika, het ook gesê dit is belangrik om jou voertuig volledig na te gaan voordat jy jou reis begin.

“Dit sluit in om te kyk na jou ligte, remme, wiele, ruitveërs, lugversorging en enjin. Hierdie prosedures sorg dat die bestuurder gemoedsrus kan hê en sonder enige komplikasies sy bestemming kan bereik.”

Van Tonder beveel ook aan om jou reis vooraf te beplan. “Maak seker jy weet watter roete jy gaan neem. Kies ’n roete waar jy nie vir ’n paar ekstra uur in die verkeer hoef te sit nie. Moet ook nie vergeet om die aand voor jou reis na die weervoorspelling te kyk nie. Só kan jy gemaklik aantrek as jy moet ry.”

Ander wenke is:

  • Indien jy in die vroeë oggendure vertrek, maak seker jou ligte is aan en hou altyd ’n veilige volgafstand terwyl jy reis.
  • Maak seker jy stop gereeld terwyl jy reis. Gedurende hierdie ruspose kan jy brandstof ingooi en ’n paar peuselhappies vir die pad kry. Jy kan ook beurte met ’n medebestuurder in die voertuig maak om te bestuur. Sodra jy moeg is, kan hulle die bestuursitplek oorneem en kan julle veilig na die bestemming ry.
  • Dit is belangrik om altyd die padreëls te gehoorsaam. As jy nie seker is van die omliggende gebiede nie, moet jy ten minste by die standaard spoedgrens hou, tensy anders vermeld.
  • Laat genoeg spasie in jou motor sodat jy genoeg ruimte in jou agterruit het en al jou blindekolle met gemak kan sien.
  • Dra altyd ʼn veiligheidsgordel, en maak seker al die passasiers is ook vasgegordel. Dit is wet dat kinders jonger as drie in ʼn behoorlike motorstoeltjie vasgemaak is.
  • Moenie bestuur of rondstap wanneer jy gedrink het nie.
  • As jy ʼn voetganger is, wees sigbaar vir die ander padgebruikers en stap waar daar lig is. Motoriste moet altyd bedag wees op die pad en uitkyk vir voetgangers.
  • Moenie kanse vat deur oor besige paaie te stap of hardloop nie.
  • Dra altyd jou valhelm en dra gepaste klere op ʼn motorfiets of fiets.
  • Moenie jou aandag laat aflei terwyl jy bestuur nie. Om te eet, drink, of harde musiek te luister terwyl jy bestuur is baie gevaarlik.
  • Moenie jou selfoon gebruik nie.
  • As jy lank reis, stop elke twee ure of elke 200 km vir ʼn ruskans. Strek en rek jou bene.

As jy in reënweer bestuur is jou kans op ʼn ongeluk vier keer groter. Ry altyd stadiger en vergroot jou volgafstand tussen motors in nat weer. Vermy dit om skielik rem te trap en ry nader aan die middelbaan, omdat water geneig is om poele te vorm in die buitebane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WIEBO ·

Ek klim nie die vakansie in n voertuig nie. Sad om te dink hoeveel mense hier lees gaan nie lewend uit n kar kom die vakansie nie. Geniet die vakansie en veilig ry

IK ·

Goeie raad dog ek wil GEDULD byvoeg. In reënweer wees versigtig vir damme water in leegtes wat ontstaan agv ‘walletjies’ weerskante vd pad wat vorm oor tyd en weens nalatigheid van padowerhede nie verwyder word op ‘n gereelde grondslag. Ook vore (holtes) gevul met water deur swaar voertuie is uiters gevaarlik. Sou jy per ongeluk met twee wiele van die teervlak afry MOENIE skrik en die kar terugpluk maar beweeg gelydelik terug nadat jy ‘n plek gesoek het waar die skouer en teervlak op dieselfde hoogte is. Onthou dat onoordeelkundige skerp remtrap ook jou in verdere groter probleme kan laat beland. Hou ook maar die humeur in toom want nie almal is so bedrewe en rats en vinnig soos jy met jou wonderlike voertuig.
Heel laaste: ‘In die kar nog ‘n sopie; In die kerkhof nog ‘n hopie’ . . .

Piet Pompies ·

Ons gesin reis van die Laeveld tot die Oos Kaap gedurende Desember, die vakansie begin sodra ons vertrek. Hierdie roete het ons nog altyd aangenaam ervaar ten spyte van die besige tyd gedurende Desember. Soos in die berig is goeie beplanning, rustye en ‘n padwaardige voertuig belangrik. Los maar die “houding” by die huis, dit gaan net jou vakansie bederf.
Lekker ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.