Wenke om moeiteloos ʼn Schengen-visum te bekom

Argieffoto (Sure Travel)

Argieffoto (Sure Travel)

Hoe kry mens ʼn Schengen-visum sonder moeite? Wees goed voorbereid.

Ek moes onlangs weer vir daardie stukkie papier, wat jou kanse om ʼn Europese reiservaring te beleef, aansoek doen.

Omdat ek al uit my vorige foute geleer het, het ek gesorg dat my dokumentasie in orde was. Ek het al menige voornemende reisiger moedeloos en met betraande oë uit ʼn konsulaat of ambassade sien stap omdat hulle dokumentasie nie aan die vereistes voldoen het nie.

Beplan jy om binnekort buite die grense van ons land te gaan reis, waar jy ʼn Schengen-visum gaan benodig?

Argieffoto

Argieffoto

Neem kennis van die volgende wenke om jou visum-uitstappie maklik te maak: (Dit sluit nie visums vir kinders en ander afhanklikes in nie)

  1. Maak vroegtydig seker jou paspoort is nog geldig.
    • Die paspoort moet nog vir langer as drie maande geldig wees na die vervaldatum van die visum.
    • Daar moet ten minste drie oop bladsye wees (die agterkant van ʼn bladsy waarop ʼn vorige visum was, geld nie as ʼn oop bladsy nie, want twee visums sal nooit rug aan rug geplaas word nie)
    • Doen betyds aansoek vir ʼn nuwe paspoort voordat jy aansoek doen vir enige visum.
  2. Jy kan vanaf drie maande voor jou vertrekdatum begin aansoek doen vir ʼn Schengen-visum, om genoeg tyd te hê om alles in orde te kry en probleme te voorkom, veral as jy ver van die groot sentra in die land bly.
    • Besoek die webwerf van die Schengen-land waarin jy die langste gaan reis of die land waar jy eerste voet aan wal gaan sit. Die lys van vereiste dokumentasie vir die aansoek van ʼn Schengen-visum vir daardie land sal op die webwerf wees. Baie lande benodig 15 werksdae om die visum te verwerk.
    • Reisagente of visumaansoek-agente kan jou baie help as jy onseker voel om dit self te doen.
    • Maak vroegtydig ʼn afspraak vir jou visum by die konsulaat of visumaansoek-agent. Meeste van die lande versoek dat jy ʼn afspraak maak daarvoor. Indien nie, maak seker jy is voor die deure oopmaak reeds daar om lang toue te mis.
    • Sorg dat al jou dokumentasie volledig is volgens die voorgeskrewe lys.
  3. Voorgeskrewe lys van dokumente om saam te neem vir jou Schengen-visumaansoek:
    • Geldige paspoort. Maak sommer self ʼn afskrif van jou paspoort
    • Twee onlangse kleurfoto’s wat volgens die spesifieke voorgeskrewe mates geneem is. Die fotograwe is deesdae goed op hoogte, maar neem die mates saam wat jy op die webwerf gekry het (onthou jy mag nie glimlag op ʼn visumfoto nie)
    • Volledig voltooide amptelike aansoekvorm wat van die webwerf van die Schengen-land wat jy gaan besoek, afgelaai is of wat deur die reisagent voorsien is.
    • ʼn Geldige retoervliegtuigkaartjie. E-kaartjies word aanvaar.
    • Bewys van ʼn goeie reisversekering. Die basiese versekering is nie altyd voldoende nie. Die land waarheen jy reis verkies om nie vir jou kostes in te staan indien jy in daardie land beseer word nie. Vra dus vir ʼn “top-up” op jou reisversekering.
    • Bewys van akkommodasie in elke land wat jy gaan besoek, al is dit nie `ʼn Schengen-land nie.
    • As jy ʼn werknemer, student of skolier is, moet jy ʼn bevestigingsbrief ontvang wat bewys dat jy na dié instansie gaan terugkeer en nie beplan om Suid-Afrika vir altyd te verlaat nie. Die presiese datums van vertrek en terugkeer moet ook op die brief verskyn.
    • Drie maande se onlangse bankstate (die laaste datum moet nie ouer wees as 10 dae voor jou aansoek ingedien word nie). Dit moet ook gesertifiseer wees deur die bank. Nie alle lande versoek dit nie maar dis beter om dit hê as om te moet terugkom.
    • Indien jy onlangs getroud is en jou van op die paspoort nie ooreenstem met jou huidige/nuwe van nie, neem ʼn afskrif van jou huweliksertifikaat saam.

ʼn Goeie wenk: Maak ʼn volledige stel afskrifte van al die dokumentasie wat jy inhandig vir die visumaansoek, ingeval iets verlore raak. Hou die stel by jou.

Hierdie is slegs riglyne. Maak doodseker van die vereistes van die land(e) wat jy gaan besoek.

Let wel: Daar is ander protokol as jy vir ʼn Amerikaanse visum aansoek doen.

Bon voyage! Geniet jou reis!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Punt een is verwarrend. Die verwysing na “drie maande” is nie duidelik nie. Sover ek dit het moet die paspoort geldig wees vir minstens drie maande ná die vervaldatum van die visum waarvoor aansoek gedoen gaan word. Met ander woorde, as jy op 1 Februarie aansoek doen vir ‘n Schengen-visum waar jy op 1 April gaan vertrek en die visum verval op 30 Junie, moet die paspoort geldig wees tot minstens die einde van September.

By punt twee is daar ook ‘n verwarrende, self foutiewe, stelling. Jy kan nie sommer kies of jy wil aansoek doen by die land waar jy die langste gaan wees of waar jy eerste gaan ingaan nie. Dis slegs die land waar jy eerste gaan ingaan indien jy in meer as een Schengen-land dieselfde lengte van tyd gaan wees. As dit duidelik is in watter land jy die langste gaan wees, MOET jy by daardie land se ambassade aansoek doen, nie by die land waar jy eerste ingaan nie.

Die punt oor reisversekering, om sommer so onomwonde te stel dat jy vir “top up” reisversekering moet vra, is onnodig. Die vereistes word duidelik aangedui, die standaard-reisversekeringopsies is JUIS meestal voldoende – dis by uitsondering dat dit nie voldoende sal wees nie.

Sune van Heerden ·

Dankie Paul! Ons besef die eerste punt was dalk nie duidelik nie. Ons het die wysiging aangebring.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.