Werk in China: Die lewe aan die ander kant

Saam met my ouers deur die strate van Shanghai (Foto: Willem D. Smit)

Deur Willem D. Smit

As mense vra hoe dit met my gaan, sê ek altyd dit gaan fantasties. Want dis die waarheid!

Ek werk nou al vir die afgelope twee jaar in Shanghai as ʼn Engelse onderwyser en ʼn musikant. Die werk is opwindend en ek kom goed oor die weg met kollegas, ouers en natuurlik, die kinders. Die salaris is fantasties, en ek spaar baie omdat ek basies net my eie vervoer en kos betaal.

Ek is terselfdertyd as ʼn Chinese student ingeskryf. Ek praat Mandaryn, maar ek gaan eerlik wees – ek ken nie altyd genoeg woorde om alles te verstaan waaroor mense gesels nie. Aan die ander kant het ek weer te veel woorde om my lewe in China te beskryf.

Een van die groot dinge wat ek altyd sal onthou van my tyd in Shanghai is hoe ek as ʼn mens gegroei het. Dis belangrik om in jou twintigs uit te vind wie jy is, wie jy wil wees en wie jy nie wil wees nie. Dit vorm jou as ʼn individu, en om onafhanklik te wees, het my gewys wie ek regtig is.

Ek is iemand wat ʼn groot stad geniet. Die chaotiese bedrywigheid van Shanghai kalmeer my. As ek na die mense om my kyk, besef ek dat ek meer wil wees soos hulle – gelukkig met minder en die klein dingetjies. Natuurlik het ek ook dinge gesien wat ek nie in my lewe wil hê nie, en ek probeer my bes om dit uit te sny. Maar oor die algemeen is daar baie meer goed hier as sleg.

Nog iets wat my altyd sal bybly, is die mense met wie ek te doen kry. In ʼn stad waar die buitelandse bevolking groter is as Namibië s’n, besef jy gou dat daar groepe mense is en dat jy kan kies met wie jy wil meng. My woonstel-maats oor die laaste twee jaar was afkomstig van onder andere China, Iran, Ierland, Engeland en Holland.

ʼn Snaakse ding gebeur wanneer jy hier is – jy is die buitelander. Jy weet mos hoe dit is. “Katryn” se niggie van Frankryk kom kuier ʼn bietjie daar in Pretoria en jou vriende kan nie ophou om na haar te staar nie. Hier is jy daai niggie. Of in my geval die manlike weergawe daarvan.

Ek en Julian, een van my jong studente, in ons Halloween-kostuums (Foto: Willem D. Smit)

As ʼn buitelander trek jy baie aandag van verskillende mense, maar ek was bitter gelukkig om my meisie van twee jaar in die begin van my tyd in Shanghai raak te loop. Sy is Indonesies en saam met haar ontmoet ek gereeld mense van plekke soos Montenegro en Libanon. Dis lekker om met ander Afrikaners en Westerlinge te kuier, maar ek geniet dit om met mense van ander kulture te gesels en meer van hulle te leer. As jy internasionaal blootgestel wil word, is Shanghai definitief die plek vir jou. Dis ook goed om te weet dat hier ʼn hele paar Namibiërs is wat in China leef en dat jy maklik Suid-Afrikaners kan vind waar ook al jy soek. Jy kan selfs by ʼn Suid Afrikaanse restaurant gaan eet, en dis nie vreemd om ʼn springbokkie op die spyskaart by ʼn kuierplek te sien nie.

Gepraat van kos – mense vra my gereeld of ek nie die kos by die huis mis nie. Natuurlik doen ek. Maar omdat die stad waar ek bly so internasionaal is, kan ek elke dag kies watter land se kosse ek wil probeer, so daar is geen tekort aan verskeidenheid nie. Maar as jy so by internasionale restaurante eet, kan dinge maklik duur raak. Dis hoekom ek verkies om eerder vir redelik goedkoop by nederige plekke Chinees te eet. En ja, jy moet weet hoe om daai stokkies te gebruik.

Die toekoms het al ʼn paar jaar gelede in China aangekom. Vervoer hier is mal. Mal goedkoop, mal gerieflik, mal chaoties – die perfekte kombinasie! Ek ry elke dag met my fiets na die Chinese klas, werk en huis toe. ʼn Mens leer gou dat karre nie so belangrik is nie. Weereens – jy kan gelukkig wees met minder. Dis ook vir my heerlik om ná werk die stad te verken. Dis massief en oral is dit anders. Jy kan ook maklik op ʼn vliegtuig spring of selfs beter, met die G-trein, ʼn trein wat gemiddeld tussen 250 en 350 km/h beweeg, die land gaan verken. Dis nie duur nie en sodoende word ek ʼn toeris in die land waar ek bly.

Die mense hier los ook hul beursies by die huis as hulle uitgaan. Jy kort byna net jou foon om te oorleef. Omtrent almal betaal en word betaal met apps soos Alipay en WeChat.

En als loop glad! In ʼn stad van 30 miljoen is daar maar min wat skeefloop; as iets breek, word dit vinnig reggemaak en dinge gaan aan.

Al is daar duisende mense om jou, voel jy altyd veilig (Foto: Willem D. Smit)

Die polisie is streng maar terselfdertyd in niemand se pad nie. Daar is reëls en soms is hul redes nie altyd duidelik nie, maar daarmee saam kom baie lae misdaadsyfers wat gereeld rekords verbeter. En ek voel altyd veilig. Ek sal dit nooit by die huis waag om twee uur die oggend met my foon oop en bloot buite rond te loop nie. Hier is misdaad egter nie iets waaroor ek slapelose nagte het nie.

Ek sou China aanbeveel vir enige iemand wat wil kom. En net so kan ek dit aanbeveel vir enige iemand wat nie wou kom nie, want jy gaan soveel leer en ervaar dat jy uiteindelik nooit sal wil teruggaan huis toe nie!

As jy lus is vir ʼn nuwe hoofstuk in jou lewe, kry jou TEFL-kwalifikasie en dokumente reg en soek aanlyn by ʼn agentskap soos MyChina.co.za aansoek vir werk die kant.

Ek sê nou nog vir mense, ná twee jaar, dat dit fantasties met my gaan. Ek geniet die lewe hier en kom agter hoe ek groei en deel raak van iets wat groter is. Ek sal altyd my tyd en die mense wat ek ontmoet het in China onthou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae