Werk oorsee: Hoe dit voel om terug te wees

Die Groot Drie (ek het al buite die 88ste verdieping van die middelste gebou geloop). Die wolkekrabber aan die regterkant is die tweede hoogste in die wêreld – iets wat jy nie in Suid-Afrika sien nie! (Foto: Willem D Smit)

Deur Willem D. Smit

My niggie is onlangs deur ʼn agentskap genader om in Pole te gaan werk, maar die idee van oorsee woon was skrikwekkend en die onsekerheid maar baie. Omdat ek onlangs ná twee jaar van oorsee af teruggekeer het na Suid-Afrika, het sy my mening gevra. My raad aan haar was om die geleentheid met albei hande aan te gryp, maar om ook navorsing te doen oor waarheen sy gaan.

Sy het die pos aanvaar, het rus gevind in die opwinding wat voorlê en sy woon nou saam met haar man in Pole – dolgelukkig. Dieselfde geld vir my pel van hoërskool, wat ’n jaar gelede China toe verhuis het om Engelse klasse aan te bied, nes ek destyds gedoen het. Hy het gesien hoe gelukkig ek was en wou dit self beleef. Ek het hom voorgestel aan die werwingsagentskap MyChina.co.za en dinge het seepglad verloop. Nou is hy heel tevrede in Guangzhou met ’n lekker woonstel, ’n goeie salaris en ’n dame in sy lewe.

Om eerlik te wees was ek self nie so seker oor China nie. My eie tyd in China het as ’n verrassing gekom. Ek was eers van plan om in Argentinië te werk. Die idee om in Asië Engels te gee was nooit ’n oorweging nie, maar steeds het ek aansoek gedoen vir poste, en daar was ’n paar onderhoude, maar ek was nie oortuig nie.

Een oggend bel ’n Suid-Afrikaner uit Sjanghai my skielik wakker. Die stem verduidelik hoe my CV voldoen aan hul kriteria en daar is beloftes van ’n woonstel, ’n goeie salaris en al die nodige dokumentasie. Ek was opgewonde, maar baie meer skepties en eerder huiwerig as optimisties – ʼn mens hoor gereeld van onbetroubare skole oorsee, veral in die onbekende Ooste. Dit help ook nie dat amper almal hier dieselfde prentjie van die Chinese het nie – die stories wat ’n mens hoor is maar rof en die Ooste is vir baie van ons onbekend.

Ons skole doen moeite om die kinders te verras met kleurvolle, prettige kostuums. Ek het al klas gegee as Super Mario, Elvis, die Farao, ‘n indiaan en ‘n seerower (Foto: Willem D Smit)

Ek het begin navorsing doen oor Sjanghai en die skool wat my wou aanstel. Ek het resensies gelees oor die besigheid en seker gemaak dinge is legitiem en wettig. Ná baie navorsing en vrae kon ek berusting kry met my keuse, en al was ek steeds op my senuwees, was ek gereed en seker oor my besluit – en dit was die beste twee jaar van my lewe!

Ek was dadelik in goeie hande toe ek in Sjanghai aankom. Ek het besef dat ek onnodig paranoïes was en dat die prentjie wat ek en so baie ander oor China gehad het, heeltemal verkeerd was.

My tyd in Sjanghai is egter eers verby. Ná twee jaar in China het ek besluit om eers terug te keer Afrika toe om ander passies na te streef. Alhoewel ek heel maklik weer kon aanpas by Suid-Afrikaanse kultuur, was dit vreemd en met tye moeilik. Ek geniet Westerse luukshede, maar verlang terselfdertyd na die opwinding in China. Ek praat nog met my pelle in Sjanghai en die meisie wat ek daar gehad het, en doen elke dag moeite met my Mandaryns. Dit herinner my aan die lekkerte van China, en só bly ek gereed om enige tyd terug te keer – ek wil definitief!

Daar was onlangs rowwe stories oor wat met ʼn paar jongmense gebeur het nadat hulle China toe is. Dit het baie mense bang gemaak, maar dit het ander ook nuuskierig gemaak, want talle het besef dat daar ander mense soos ek is, wat ʼn ongelooflike tyd in die Ooste gehad het.

My raad vir diegene wat lus is vir China maar onseker is daaroor: Dis goed dat jy onseker en selfs ’n bietjie bang is – ’n mens wíl voorbereid voel, maar moenie die vrees laat oorneem nie. Doen wat my niggie gedoen het: Gebruik ’n geleentheid, maar neem beheer oor wat jy kan – doen navorsing oor betroubare werwingsagentskappe, lees op oor waar jy gaan bly en moenie jou steur aan bangmaakstories nie – as jy ’n kwalifikasie en die regte visum in jou paspoort het voordat jy oorvlieg, is jy in goeie hande. Dinge sal veral glad verloop as jy met die hulp van ’n goeie, betroubare werwingsagentskap soos MyChina.co.za aansoek doen vir werk.

Die lewe is kort. Gryp elke geleentheid wat jy kan met beide hande aan.

Webwerf: MyChina.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.