‘Wilde’ reëls van die Krugerwildtuin

Spelerige olifant Foto: Marianne Styan

Spelerige olifant Foto: Marianne Styan

Amerikaners, Europeërs, Chinese, Kanadese. Noem maar op. Hulle almal kom van heinde en ver om na een van ons land se bekendste en gewildste besienswaardighede te kom kyk: die nasionale Krugerwildtuin.

Enig in sy soort. Met sy besonderse verskeidenheid dierespesies en ruskampe waar besoekers kan oorbly.

As kind was ek só baie in die wildtuin, ek kan net so wel sê ek het daar grootgeword. Ek glo ware stilte kan mens net hier kry. En natuurbewaring lê my baie na aan die hart.

Dis dan ook die rede hoekom gebeure en berigte van mense wat deur diere aangeval word my so ontstel.

Ek glo partykeer is dit regtig ʼn fratsongeluk. Maar wanneer ek hoor van mense wat opsetlik reëls breek, dan sukkel ek om empatie met die situasie te hê. Wilde diere bly wilde diere en mense moet verstaan hulle het nie logiese denke soos ons nie, maar wel ‘n oorlewingsinstink.

Ek het dus besluit om weer na ‘n paar van die parkreëls te gaan kyk toe ek onlangs in die wildtuin gekuier het. Miskien weet mense net nie wat dit is nie en moet ons dit weer opskerp.

  • Jy mag nie uit jou motor klim nie. Punt. Die enigste tyd wanneer mens uit jou motor mag klim is in die ruskampe of wanneer daar ‘n duidelike bord is met die woorde dat jy die motor mag verlaat. Dit sluit dan natuurlik ook in dat geen gedeelte van jou liggaam buite die motor mag wees nie. Daar is niks so aptytwekkend soos ‘n arm wat by ‘n venster uithang vir ‘n leeu wat verbystap nie.
  • Baie mense kom net vir die “Kruger Park Kyalami”… Die spoedbeperking in die wildtuin is nie verniet 50 km/h op teerpaaie en 40 km/h op grondpaaie nie. Ons kom kuier in die diere se habitat en selfs al het hulle die oorspronklike “sebra-strepe”, weet hulle nie van links en regs kyk voor jy oor ‘n pad stap nie. Dus moet ons as mense die logika hê om vir hulle te dink en enige iets van hulle te wagte te wees. Diere kan enige oomblik, onverwags voor ‘n motor inspring.
  • Net soos wat daar ‘n reël op ons nasionale paaie is dat mens nie mag drink en bestuur nie, geld dit binne-in die wildtuin ook. Omdat diere so onvoorspelbaar is, mag mens se reaksie-tyd aansienlik stadiger wees wanneer jy drink, en daarom sal dit baie onverantwoordelik wees om in so ‘n toestand te bestuur.
  • Daar is niks so hartseer om ‘n veldbrand in die wildtuin te ervaar nie. Ons het een van die grootstes nog beleef in die park ‘n hele paar jaar gelede. Alhoewel die veld op ‘n vreemde manier hernu word na so ‘n brand, is dit hartverskeurend om te sien hoeveel van die diere, voëls, reptiele en insekte doodbrand tydens so ‘n verwoestende vuur. Dit dryf mens tot trane om skilpaaie te sien wegsukkel teen die vinnigste spoed waartoe hulle lyfies in staat is, terwyl jy weet dis nie vinnig genoeg nie. Alhoewel sommige van die brande deur natuurlike elemente kan ontstaan, word van hierdie brande meestal veroorsaak deur ‘n onkonsidererende persoon wat hulle sigaretstompie by die venster uitgooi. Géén, en ek herhaal géén, sigaret mag in die veld in die wildtuin gegooi word nie. Dit is waarvoor asbakkies en asblikke daar is.
  • Asblikke is ook daar vir enige vullis wat mens moontlik in jou kar of hut kan hê. Nie net vergaan plastiek en papiersakke nie, diere eet dit en kan verstik of verstrengel raak daarin en hulleself beseer.
  • Paaie en gebiede is daar vir ‘n rede… om op te bly. Wilde diere kan baie vreemd reageer op iets soos ‘n motor, wat in hulle leefarea inkom. Indien mens nie wilde diere goed ken nie moet jy altyd in gedagte hou dat hulle basies enige iets kan doen wat ons nie noodwendig verwag nie. Indien ‘n motor, byvoorbeeld te naby kom aan ‘n olifantbul wat op hitte is, kan dit maklik baie lelike gevolge hê vir die motor en mense daarin.
  • Laastens maar vir seker vir my nie die minste nie, is die voer van wilde diere… Stel jouself voor: Jy gaan na ‘n restaurant waar jy gewoonlik vinnig bedien word met kos waarvan jy hou. Vandag staan die kelner net rond en wys duidelik nie enige belangstelling om vir jou kos te bring nie. Verseker gaan jy baie ongelukkig raak en heel moontlik baie duidelik jou misnoeë te kenne gee… Indien mense aanhou om wilde diere te voer, is dit basies hierdie scenario, maal 10. Wilde diere wat gevoer word, raak lui. Wanneer wilde diere lui en honger raak, raak hulle dikwels ‘n oorlas of ‘n pes en meesal nog meer aggressief as wat hulle natuurlike aard sou wees. Elke persoon wat ‘n wilde dier net een stukkie kos voer, bring daardie dier een geweerskoot nader aan sy dood… Al hoe wilde diere “afleer” om ‘n kosbedelende pes te wees, is om hulle van kant te maak.

Ons, as mense, moet die intelligensie hê om te weet watter nagevolge ons keuses in die lewe het. En in die natuur kan ons verkeerde keuses baie makliker vinger terugwys na ons as in die stad. Kom ons respekteer die pragtige natuurlewe van ons land deur net ‘n paar reëls te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boet Burger ·

Ek stem 100% saam. Ek dink egter dat die wetstoepassing baie opgeskerp moet word.

Simone ·

Ons gaan die Kruger in September besoek. Dankie vir die inligting. Ons ken die reels, maar dis die regte ding om jou elke keer te vergewis van die die reels voor mens daar gaan kuier. Die Krugerwildtuin is tops!!

Jaco Grobler ·

Fietse……my kinders vra my of ons hulle fietse mag saamvat, ek lees toe die reels en se vir hulle geen fietse en motorfietse word in die kampe toegelaat nie. Groot was my verbasing en hulle teleurstelling toe ons oor die vakansie by die kamplek aankom en elke jan rap en sy maat het sy kinders se fietse saamgebring, nou hoe verduidelik jy vir jou kinders dat niemand ‘n veer voel vir reels behalwe die paar nie? Die klein bl*ksems versteur ook die rustigheid waarvoor ons almal daar is, en amperties het ek een raakgery toe hy agter my injaag terwyl ek terugstoot!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.