Wildtuinprentjies en -lekkertes

Argieffoto (Foto: Dominique_Racki, Pixabay)

Ek wonder of die destydse Transvaalse Volksraad en die stoere ou president wat glo in die jagveld sommer so met sy knipmes sy verwonde duim afgesny het, ooit sou kon droom wat hulle wildtuinplan ná meer as ʼn eeu, vir seker al miljoene natuurliefhebbers, sou beteken. Ongelooflike ervarings en onuitwisbare herinneringe het vir hulle deel geword van pure wildtuinvreugde.

As kind was die wildtuin ek en my maters se speelplek. Sonder dat ons pa’s en ma’s daarvan kon droom, het ons op Kaapmuiden deur die Krokodilrivier geswem en dan in die wildtuin gaan voëls skiet. Die “fôna en flôras” (wildbewaarders) het beloof om ons nie te verklap nie, omdat ons strikke vernietig en dan aan hulle inligting oor wilddiewe verskaf het.

Deesdae is dit ons wonderlike voorreg om so dan en wan lang draaie in die Krugerwildtuin te gaan maak. Jy ry die paaie as die knellende droogte jou hart ineen laat krimp en die laaste krieseltjie kos op is en die laaste watertjie opgedroog het. Dan kom die groot reën weer, die groenigheid bars welig uit die nat aarde uit en die wild wei rondeboud rond want gras en blare is te kies en te keur en hulle vreet volbek.

Argieffoto (Foto: Dominique_Racki, Pixabay)

As ʼn mens met wenfoto’s in glanstydskrifte in gedagte, wildtuin toe gaan, kan jy baie maklik bedroë daarvan afkom, maar as jy met verwagting gaan, word jou stoutste verwagting dikwels oortref. Jy sien dalk iets wat die kunsfotograaf se droom sou wees. Ja, natuurlik is daar ʼn magdom van diere, voëls, bome en ander tekens van God se skeppings- en kunswonder. Wat is mooier as om vroegoggend te sit en kyk hoe sonstrale ʼn klipkop met sy plantegroei inkleur, maar die kosbaarste in die wildtuin is die onverwagte verrassings wat jy in jou hart kan bêre.

Nes ʼn mens begin wonder waar al die olifante wat vroegoggend die pad vol gemis het is, sê iemand: “Stop! Ry ʼn bietjie terug!” Jy maak so en dan sien jy haar. Nie doer ver waar almal soek nie, maar hier, ʼn paar meter van ons af. ʼn Hiëna-ma wat rustig lê en slaap terwyl haar kleingoed met die pootjies pomp om meer melk te kry. En net toe ons dink dis al, merk een van ons die pa se kop wat hier by die kar se voorwiel sigbaar is terwyl die res van sy lyf in ʼn stormwaterpyp verberg is.

So in die ry merk iemand, doer ver, ʼn swart bewegende spikkeltjie – net so af van die teerpad af. Agter die naderende spikkel, word ʼn kleiner spikkeltjie opgemerk. Ons hou stil en wag en toe sien ons dis ʼn dwergmuishond, gevolg deur haar piepklein kleinding. Hier vlak by ons het hulle tot stilstand gekom om ons kans te gee om hulle mooi, rustig te bekyk. Ná ma se kopknik, het hulle tussen graspolle deur iewers heen weggeskarrel.

Argieffoto (Foto: leonbasson, Pixabay)

Daar op die lang brug het ons die altyd rondkuierende bobbejaantrop gekry. So kostelik soos altyd en as jy lank genoeg kyk, sien jy iemand wat jy ken … Amper noem ek name, maar ek sal liewer nie. Skuins voor ons het ʼn bobbejaanmoeder haar telgie, nog swart en pienk, liefderik gevoed. Reg voor haar het haar skoonheidsterapeut gesit en versigtig haar kop en nek gefynkam vir dooie en lewendige organismes. Dan lig sy die kop, kyk diekant en daaikant toe, terwyl haar oë omdop van lekkerte. Ná ʼn ruk het sy opgestaan en met die kleinding al klouende, gesiggie teen die bors en stertjie tussen ma se agterbene op. Dis toe sy wegstap, dat die terapeut haar aan die agterbeen teruggepluk het. Sy het gedienstig bly staan en toe het die terapeut moederbobbejaan se agterstewe haarfyn deurgekam om seker te maak dat daar nie dalk iets was wat kon byt of iewers inkruip nie. Toe moederbobbejaan se agterstewe blink gefynkam was, het die terapeut selfvoldaan om haar kliënt gestap, kop geknik en begin rondkyk vir nog werk.

Lammers en kalwers wat suip aan ooie en koeie dat die skuimbolle waai, bly maar ʼn lekkerte waaraan ʼn mens jou kan verkyk. Die stertjies waai terwyl hulle hulle ma’s pomp dat haar agterpote lig. En as die pensies ronddik gedrink is, groepeer hulle weer in speelgroepies en die ma’s kan rustig aan’t wei raak.

Klein olifantjies moet goeie maniere aanleer. So kom ʼn trop olifante wei-wei aangestap. Hier vlak by ons het so ʼn amper opgeskote olifantjie langs die trop gestap en toe dit nou so moes, het sy agterknieë geknak en toe loop die straaltjie. Die ou grote langs hom, vermoedelik ʼn oujongnooi, het hom met slurp en tand gegaffel dat hy so ʼn tree en ʼn half verder, snakkend na asem, te lande gekom het. Ons kon haar duidelik hoor: “Nee, my mintag! Nie hier onder my slurpneus nie!”

Argieffoto (Foto: dezalb, Pixabay)

Jongbokbaldadigheid is nog ʼn plesierigheid om te aanskou. Tussen rooibokke, in ʼn groot trop, het twee kringgatpenkoppe mekaar parmantig die stryd aangesê. Speels het hulle koppe gestamp, met vinnige bewegings mekaar probeer uitoorlê, om dan skielik die trop rooibokke te bestorm, en hulle in alle rigtings laat spaander het. Die penkoppe begin dan weer pronkerig met hulle kopstampmanewales. Sodra die trop weer rustig groepeer en wei, jaag hulle onverwags met manhaftige bokspronge die rooibokke weer in alle rigtings. So het elke dier sy plesier! Vir ons plesier! Hier galop ʼn goggatjie, daarsô dans ʼn mier. En ʼn piepklein skilpadjie en ʼn verkleurmannetjie se paaie kruis op ʼn swart teerpad.

So gaan dit kilometer vir kilometer en uur vir uur aan en wanneer jy dit die minste verwag, kan jou stoutste verwagtings oortref word. Maar wat dan nou van die gesogte Groot Vyf? Ja, hulle is daar. Ek onthou toe ek amper te bang was om asem te haal. Ons het naby ʼn digte fluitjiesrietbos stilgehou om ʼn visarend dop te hou, toe ʼn reusebuffel uit die rietbos verskyn en voor ons bakkie kom staan het. Hy het sy neus teen die buffer gevryf. Toe’t hy omgestap en my deur die toe vensterruit middeldeur gekyk. Ek wou vir hom sê “Skuus ek sal nooit weer nie!” maar ek kon nie ʼn woord uitkry nie. Ek kon sien hoe muggies in sy neus gepla het. Hy’t skielik sy kop laat sak, deur sy neusgate geblaas en toe weer veld in gestap. Dit het ʼn geruime tyd geneem voordat ek woordeloos en bewerig die bakkie aan die gang kon kry om verder te ry.

Nee wat, vir ons gaan dit nie net oor die Groot Vyf nie, maar oor al die ander vywe en vyfies. Dis tog dom om vir vyf te gaan as daar tien, twintig of mooier vywe en vyfies is wat oop en bloot vir jou staan en wag en die ander wat iewers skugter of amper onsigbaar wegkruip en jy fyn moet kyk.

Die vyf reuse vul ʼn mens met stille verwondering. Party van hulle seker al eeue oud en by elkeen ervaar ʼn mens so ʼn gevoel van gewydheid. As jy onder die jakkalsbessie by Tshokwane staan, wil jy nie praat nie. Jy kyk net na sy stam en dan op boontoe. Al langs die rivierbeddings staan die vorstelike wildevye en bietjie verder weg sien jy waarom die kroonarend die njalaboom gekies het om verder te kan bespied. Jy sien ook die reuse maroela waar die luiperd sy lêplek het en as jy na die hardekool kyk, wonder jy of jy die luiperd op sy blokkiesbas sal kan raaksien.

As ʼn mens gelukkig is, sien jy soms die skugter kleinstes raak. Jy moet mooi kyk om hulle raak te sien. Die duiker kom wys haar vaalgrys lammetjie en so ʼn entjie verder, sommer hier langs die pad, lig die steenbokpaartjie hulle koppe parmantig. By ʼn rotsformasie staan ʼn klipspringer so half uitdagend en spring dan ligvoets die rotse op. En as jy baie gelukkig is, vang jou oog die skugtere blou duiker en die grysbokkie voordat hulle vinnig verdwyn.

Argieffoto (Foto: danielhahner, Pixabay)

In die toppe van die boomreuse en op rotse pryk nog vyf grotes – die konings van die blou lug. Die kroon- en die breëkoparende se geel oë blink as hulle nie net doer ver verken nie, maar ook sommer dwarsdeur jou kyk. Jy hoor die roep van die visarend en later sien jy hoe hy met perfekte tydsberekening sy kos vir die dag uit die water opraap. Die berghaan, uitgedos in swart en wit en rooi, laat jou verstaan waarom Boerneef gedig het oor die berghaan wat sy veer op die hoogste krans by Wupperthal laat val het. Vir die swart spikkel in die blou lugruim, moet jy tyd hê en as jy lank genoeg wag, sal jy die meesters in sweefkuns se wit kruise sien, as hulle draai in hulle koningsvlug.

Die ander vyf wat nie misgekyk kan word nie, is die wat in reënboogkleure uitgedos is. Die visvangertjie sit geduldig en wag vir ʼn vissie wat dit in die vlak water waag. Vrolike byevreters dartel deur die lug terwyl die troupante rustig op takke sit en mooi lyk. Janfrederik sing en fluit sy groot verskeidenheid lofliedere met die nekvere wat tril en doer anderkant reageer sy beminde op sy minneliedere. En rooivinke, in hulle rooi en swart veredos, rinkink tussen al die vaalbruin wyfies.

Ja, en dan is daar die kleingoed wat elke moederhart week maak. Sommiges alte fraai en dan is daar die koddiges. Die olifantjie wat onder sy ma se pens loop-en-val. Die renosterkalfie wat sy ma parmantig pomp vir nog ʼn slukkie melk. Die kameelperdvul wat wankelend sy eerste treetjies waag. Die spannetjie vlakvarkies wat met hulle snoetjies, soos moederlief, die klam grond omdolwe en pienk-swart bobbejaantjies wat gulsig aan moeder se bors aan’t suie is.

En so kan ʼn mens aangaan en al die ander vywe en vyfies word naderhand ʼn honderd of meer onvergeetlike onthouprentjies en vanaand as jy by die vuur met sy dansende vlamme en lekkende vlammetjies kyk, terwyl die son vuurrooi sak, sê jy dankie. Opregte dank aan die Skepper wat alles een vir een en stukkie vir stukkie geskep het – om ons te herinner aan wie Hy werklik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Dankie, Johan. Het nou sommer so terwyl ek lees, vakansie gehou en gedagdroom. Lekker!

Willem ·

Heerlik, jongtyd het mens mos nie bang haar op jou kop vir krokodille of seekoeie in die rivier nie, ander wilde diere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.