Worsmaak in Thailand

Thailand-damnoen-saduak-floating-market-546276_960_720

Thailand is bekend vir hulle markte wat sommer vanuit ‘n rivier op ‘n boot bedryf word. Foto: Cegoh/Pixabay.com

Een van die eerste dinge wat ʼn mens in Thailand tref is die koskultuurskok. ʼn Mens skrik vir die vreemde, soms grillerige, onbekende en jy begin soek na iets wat darem min of meer bekend en eetbaar lyk! Die Thais maak nie graag tuis kos nie en eet graag by talle gesellige eetplekke of koop kos op die mark of by straatstalletjies. Die vreugde was groot toe ons gebraaide wors raakgeloop het, maar die vreugde het in teleurstelling verander want die smaak was alles behalwe die smaak van die wors wat ons ken.

Ons het kort daarna die vleistafels op die mark raakgeloop en dit was nog ʼn verstommende ervaring. ʼn Mens kry nie slaghuise in Thailand nie. Jy koop jou vleis op die mark en sypaadjies waar hompe ontbeende vark en beesvleis, op groot tafels, aangebied word. Daar was geen sprake van verkoelingsgeriewe nie. Vlieë en brommers is met plastieksakke aan stokke weggejaag – slegs as dit darem te erg geraak het. Vir vark en bitter skaars, bloutaai beesvleis was die prys vir alle snitte dieselfde per kilogram! Die aanbieding van bees, vark, hoendervleis en vis was ietwat van ʼn rillerstorie en die storie sal nog geskryf word. Ja en ek leef nog om die storie te skryf!

ʼn Gevoel van verlorenheid sak op jou toe as jy wil koop en jy kan nie ʼn woord Thai praat nie. Nadat Afrikaans, Engels en Zulu en al my beduiery net ʼn gelag uitgelok het, het ʼn vriendelike vrou vir my beduie ek moet net daar wag en toe het sy ene Peter, wat ʼn skaflike Engels kon praat, gaan roep. Deur hom is al my vrae beantwoord en hy het my genooi om enige tyd van sy dienste gebruik te maak. Later het hy gesê dit verhoog sy aansien en status in die gemeenskap aansienlik as die ander op die mark sien en hoor dat hy met my Engels praat!

Ek het die hompe beesvleis bekyk en deel van een was ʼn mooi stuk wat vir my na kruisskyf gelyk het en ek het vir die vriendelike meisie beduie sy moet vir my twee kilogram afsny. By haar buurvrou het ek lekker vet varkvleis gekoop. In ponde gereken, het die vleis my ʼn skamele £4 uit die sak gejaag. Toe onthou ek die spul moet gemaal word en ek het nie ʼn vleismeul nie. In onse dorp was daar nie soiets te koop nie en hulle het vir my beduie na ons naaste groot dorp waar ek dalk geholpe kon raak. So was dit ook met die dermsoekery en na ellelange verduidelikings en beskrywings het een van die vleismarkvroue my aanbeveel na “Sisaket makket”- dis nou Sisaket market.

By die huis het ek die vleis in blokkies gesny en met Marina braaisout, swartpeper en asyn gegeur. Al ander geurmiddel wat die Thais kon aanbied, was rooipeper en dit was nie juis geskik vir wors nie. Ek het die spulletjie oornag laat staan en die volgende dag die trein Sisaket toe gevat met die hoop om derms en ʼn vleismeul raak te loop.

In Sisaket het ek eers op die “makket” ʼn draai gaan maak. Om vir ʼn Thai te verduidelik jy soek worsderms kan nogal prettig wees en gou was daar ʼn klomp toeskouers wat laggend toegekyk het. In ʼn helder oomblik het ek my linkerhand se vingers gebuig en teen my duim gedruk en toe met die regter duim ʼn paar keer deur die opening gedruk. As ek nou daaraan terugdink, besef ek dit was ʼn soort van voorbode … Skielik het hy laggend verstaan, eers vir die toeskouers vertel wat ek soek en toe’t hy my aan die hand gevat en my my gelei na ʼn tafel, doer gunter, aan die anderkant van die mark. My vreugde om uiteindelik derms te kry was van korte duur. Voor my op die tafel was baddens vol vark binnegoed – pens en derms en ander biologiese onderdele van alle soorte.

My vriendelike, kopskuddende helper het nie verstaan dat dit nie was waarna ek gesoek het nie. Nog ʼn helder oomblik en toe beduie ek dat hulle vir my ʼn potlood en papier moes gee. Ek teken toe na die beste van my gebrekkige tekentalentvermoë een van die Thai worse en toe breek die lig deur. Die man teken toe vir my ʼn straatplan na ʼn sekere plek. Amper ʼn uur later, met knakkende knieë en seer voete, het ek by die man wat worse maak aangekom en derms te koop gekry. Die man kon effens Engels praat en ek kon hom laat verstaan dat ek ʼn vleismeul soek. Op sy beurt het hy beduie waar ek ʼn meul kon aanskaf. Daar het ek ʼn Made in China meul aangeskaf. Die ding was ooglopend van swak gehalte en ek het my bedenkinge gehad.

Op die trein terug huis toe het die geur van wors op die kole deur die oop vensters aangewaai gekom …  Min het ek geweet wat nog voorgelê het voordat die eerste rol wors op die kole sou sis. By die huis het ek opgewonde en met groot verwagting die ou meuletjie vasgedraai, die vleis in sy keel afgegooi en die slinger begin draai. Dis toe net daar waar die meul die toets met dubbele onderskeiding gedop het. Hoe vinniger ek gedraai het hoe minder is die vleis gemaal. Sjinese ontwerpfout tot in die fynste besonderhede …

Ek het geweet van ʼn vrou wat maalvleis op die mark verkoop en ek is toe met die drie kilogram vleis op die fiets na haar toe. Gelukkig het sy verstaan wat ek wou hê toe ek die bak voor haar neersit en met bewerige vinger na haar maalvleis gewys het. Ek het die vleismeul so ʼn bekommerde kyk gegee en aanvaar dat kieme nie doodmaak nie, anders sou dit nie so van Thais gewemel het nie. Sy het my vleis in die reuse meul se keelgat afgegooi en tjoef-tjaf was die hele spul gemaal. Wat haar besiel het weet ek nou nog nie, maar sy gooi die gemaalde vleis toe weer deur die meule en toe’s die vleis ʼn sagte, onooglike pappery. Uit die goedheid van haar liefdevolle Thai-hart wou sy seker maar net sekermaak die vleis is behoorlik gemaal. Ek kon sien dat sy baie bly was dat sy my kon help en ek het my dankbaarheid op eg Thaise manier betuig. Min het ek geweet hef aan lê voor…

Terug by die huis het ek die meul met stopper en al vasgeskroef en my ou Getroustetjie het geduldig, gedienstig en gedweë, net soos in Engeland, die derm oor die stopper gedruk. Ek het die vleispappery in die meul gegooi en begin draai. So na die veertigste draai was daar amper ʼn teelepelvol vleis in die derm en dit het duidelik geblyk dat die meul as worsstopper klaaglik misluk het. Seker omdat hy nie lus was om die pappery deur te werk nie. Die volgende stap was ʼn huwelikstoets vir my en my ou Vasbytertjie en ons is, for better and for WORS, tot vandag toe, darem nog bymekaar. Haar tikkie liefde en entoesiasme om met vleis te werk is vir altyd ʼn finale nekslag toegedien.

Die drie kilogram wors is toe so gestop: My dierbare ou Geduldiggie het met ʼn tuitlepel die pappery in die stopper ingegooi en ek het die spul met my duim die derm in gewerk –  teen 1.5 kg per uur. Ek onthou toe die voorbode.  Dan kyk sy vir my en dan kyk ek vir haar … Net met die vooruitsig van ʼn lang stuk wors op die kole, het ons ons lekkerkryvooruitsig met swaarkry klaargekry en uiteindelik het die rolle duimgestopte wors in die skottel gelê. Die boonste een het gesoebat vir die warmte van kole onder ʼn rooster.

Ek het vuurgemaak en, sonder die ondersteuning van die lekkerste Duitse kuierwyn, vir die vuur sit en kyk, maar dit was nie tevergeefs nie. Oudergewoonte het my gawe buurman oor die hek kom loer en toe nadergestaan. Sy wenkbroue het in vraagtekens verander en hy het kopskuddend die jaartlange wors in die bak bekyk. Uit sy pratery en beduiery, kon ek aflei dat hy wou weet waste ding dit was. Met beduiery en die mooiste Afrikaans het vir hom verduidelik wat dit was en dat dit die produk van, waarskynlik, die eerste boereworsmaakpoging in Thailand was. Iets wat gevier kon word …

Soos baie kere tevore het hy oor die straat huis toe gestap en na ʼn ruk was hy terug met ʼn bakkie vars, geurige rys, want dis vir ʼn  Thai ondenkbaar dat ʼn mens ʼn maaltyd sonder rys kan nuttig. Dit was ook nie al nie. Soos altyd het hy ook met twee glasies Thai Whiskey (rys-witblits) teruggekeer. Gewoonlik het hy met twee enkel knertse by my aangekom om saam met my om die vuur kom sit en kuier, maar die keer was dit twee duwweles. Hy kon aanvoel daar was iets om te vier! As ʼn man wat kan, het hy sy twee knertse laat afgly, maar my tweede een het ongemerk ʼn geel kolletjie op die grasperk gemaak. Seker so ʼn bietjie van ʼn vermorsing, maar ek wou nie dat my eerste Thai boereworsbraailekkerte in ʼn brandoffer ontaard nie.  Ja, al het die wors met sy vaal, pienk kleur al te veel na halfprys-wors gelyk! Die wat jy te bang is om oop te sny om te sien wat alles in die wors is.

Hoe langer die wors gebraai het, hoe mooier het hy geword. ʼn Jaartlange wors met al sy sousigheid nog binne-in hom! Omdat meel vir pap nie beskikbaar was nie, het my ou Planmakertjie die lekkerste aartappelslaai, soos net sy dit kan maak, voorberei. Sy het lekker uie-en-tamatiesmoor gemaak en vars, geurige rys gekook.

Ja en toe’t ons weggelê aan ʼn maaltyd wat ons altyd sal onthou. Die lekkerste wors, die lekkerste rys en die lekkerste sous. Daarna het ek met my eie meul en geurmiddels uit Engeland uit, baie beter  wors gemaak met ʼn worsstopper wat ek met plastiekwaterpyp gebou het, maar nooit weer was die wors so lekker nie!

Dit is mos so. Hoe groter die gesukkel, hoe lekkerder die regkry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martha ·

Johan, baie dankie vir die lekker berig. Ek sien in my geestesoog die gesukkel met die meul en derms en natuurlik om net eers te kon begin. Geluk dat jy nie moed opgegee het nie, want daar is niks so erg as om te sukkel met “onbevoegde” toerusting, wat nog te sê in ‘n vreemde land.

Johan Oosthuizen ·

Martha, ja, oor ons wedervaringe in Thailand kan ek ‘n boek ek ‘n boek skryf! Miskien gaan ek nog!
Groete,
Johan

Yvonne ·

Ai, ek het nou skoon heimweë na Thailand! Gaan nou dadelik vir my ‘n lekker koppie gemmertee, gekoop in Thailand maak en dit geniet in my pragtige handgeverfde Thai teekoppietjies. Dankie vir die terugvoer na ‘n idilliese kuierplek, Johan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.