Wrakstap, wildrit en skaapkop by die see

Wrakstap van Glentana (Foto: Carina Stander)

Dié tyd van die jaar is baie mense op hulle allerlaaste bene. Werk moet inderhaas klaarkom vir dié wat op vakansie wil gaan, terwyl dié wat vakansiemense ontvang blitssnel hulle gastekamers optof. Nadat ek onlangs die manuskrip van my nuwe storieboek vir my redakteur weggestuur het, was ek byna van my sinne beroof – poegaaimoeg. Toe skuif ek my doenlysie eers eenkant en dink: Basta, nou rus ek vir ʼn volle 48 uur saam met my gesin!

Ons verken ʼn paar van die kusdorpies tussen George en Mosselbaai. In Grootbrakrivier vat ons die stil slingerpad op, op met die heuwel tot by Ilita Lodge. Hier bo is mens verlos van die vakansiegedruis en gewoer-woer van die lewe. Die oopplan-selfsorgwoonstel van Ilita is besonder ruim, vars en verwelkomend. In die goedtoegeruste kombuisie maak ek tee vir ons gesin en terwyl ons dit drink, draai ons die aardbol in die sitkamer om en om en droom oor al die plekke wat ons nog wil besoek. Dis ʼn bietjie koel om in die swembad te duik, daarom stap ons eerder rond op Ilita se gronde. Dis duidelik dat hulle probeer om inheemse spesies soos heide, proteas en biesies te vestig. Ons sewejarige seunskind hardloop deur die ritselende sewejaartjies. Terug by die woonstel braai ons op die balkon met sy private braaiplek en uitsigte oor die Grootbrakrivier. Die volmaan skuif oor die horison. Die vleipaddatjies tjirpsing. Doer anderkant die see begin die liggies van Mosselbaai te flikker. Ja-nee, slaap is ʼn wondersoete ding as mens in sulke sagte beddegoed kan wegsak…

Wrakstap van Glentana (Foto: Carina Stander)

Tydens ontbyt by Ilita se Deja View is die seeuitsig ewe pragtig. Ná moerkoffie, croissants, sampioene, varkworsies en pannekoekies gaan doen ons die Wrakstap van Glentana. Ons stap flink om te keer dat die branders ons vang. Ons twee laerskoolseuns is soos opgewonde brakkies wat oor die rotse wip, in elke grot loer en in die poele plas. Hulle raak nuuskierig oor ʼn kloof langs die roete en ons klouter ʼn entjie daarin op – verras deur ʼn gespikkelde seemeeueier en ʼn valknes hoog teen die kranse. Dan is ons by die wrak van die Wrakstap. Meer as ʼn eeu gelede was dit die tweede grootste droogdok wat vanaf die Britse eilande gestuur is, maar op 1 November 1902 het dit ʼn entjie oos van Glentana gestrand geraak. Glentana as dorpie het toe nog nie bestaan nie – dit was juis die wrak, die “Engelse Yster”, wat mense hierheen gelok het. Nuuskieriges het gepiekniek en tent opgeslaan om die geskiedkundige gebeurtenis te beleef. Vandag is die droogdok ʼn verroeste seelewebegroeide wrak, gevreet deur die tye en getye. Mooi bogies het intussen in die staal gevorm. Dit laat my dink aan ʼn buiteruimtelike gebou, iets uit ʼn wetenskapfiksie-fliek.

Hierna ry ons met ʼn eenspoorbruggie na die Eiland, ʼn klein straatliglose eiland met pragtige tuine. By Bolton Skoenfabriek (waar Grashoppers oorspronklik vandaan kom) koop ons ʼn paar “afgeslagte” skoolskoene teen halfprys.

Ná ʼn middagslapie stap ons die 3 km van Outeniekwastrand en Glentanastrand. In die skoolvakansie is hier elke dag lewensredders aan diens, maar vanmiddag is dit mensvry en windstil.

Wrakstap van Glentana (Foto: Carina Stander)

Teen sesuur klop ons aan by die strandrestaurant, Visgraat in Glentana. Vanaf die tafel kan mens sien hoe die dolfyne deur die branders boogspring. Die eienaar, Johan van de Vyver, was vir jare lank die vervaardiger van die televisieprogram Villa Rosa. Hy is een van daardie vasvatter kreatiewe siele en dit wys in al die fyn besonderhede waarmee die restaurant beplan is – van die wit papierlanterns tot die interessante spyskaart in keurige Afrikaans en Engels en die kitaarmusiek van goue oues soos “Kinders van die Wind” en “Voshaarnooi” wat op die agtergrond speel. Die wye seeuitsig, die blou mure en wit tafels voel Grieks. Die atmosfeer is kaalvoet luuks. Onopgesmuk, maar stylvol.

Daar is persoonlike aanraking soos die oorspronklike skildery uit sy vrou en mede-eienaar Riëtte se grootwordhuis en ʼn Kersfeeskransie wat sy self gemaak het uit sewejaartjies, tarentaalvere en bergbruidjies. Riëtte was vir dekades lank ʼn onderwyser vir graadeentjies. Sy gee onse klong net een kyk en weet sommer wat hy nodig het na die warm strandstap: draairoomys! Hoeveel restaurante bedien deesdae nog draairoomys?!

Visgraat het ʼn kinderspyskaart, maar oudergewoonte bestel ons gesin vier disse en deel dit met mekaar sodat ons ʼn wyer eetervaring kan geniet. Ek smul aan die spesialiteitsdis: geroosterde stokvis met Deense fetakaas, sampioene, soetrissie en peddadew. Op groot aanvraag het Visgraat skaapkop op die spyskaart aangebring. Gerrit probeer die eerste skaapkop, oftewel “smiley” van sy lewe – gedien met spinasiepasteitjies, Bulgaarse koring en pampoen. Hy sing lofliedere oor hoe heerlik die wange, kopvel en nek is. Ons jongste seunskind hou so baie van sy seekos-paella met ʼn mengsel van pangebraaide garnaal, mossel, krapvleis, stokvis, babakalamari en gegeurde rys, dat hy dit skaars met ons wil deel. Sy elfjarige boetie verlustig hom aan geroosterde stokvis met feta, romerige spinasie, sampioensous en fettuccini-pasta.

Zian ons kelner is ʼn gawe kêrel. Hy sê alles by Visgraat is spesiaal – die uitsig, die kos en die base van die plaas! En hy is reg: Hier kry jy nie ʼn wonderlike ete nie, jy kry ʼn belewenis, ʼn herinnering van ʼn plek wat geskep is met volop vaardigheid en liefde.

Botlierskop (Foto: Carina Stander)

Die volgende oggend gaan ons as dagbesoekers op ʼn wildrit by Botlierskop. Vir drie ure vermaak die gids, Mandela, ons met sy kwinkslae en kennis. Die springboklammertjies is net drie weke oud. Hulle soog met bibberbeentjies aan hulle ma’s en gee dan sierlike spronge tussen die wit vlinders. Pronk-pronk! Hier is heelwat skaars diersoorte by Botlierskop soos die bloukraanvoël, swart impala, pragtige bontebok en bergkwagga. Mandela sê ʼn sebra is ʼn lui donkie: altyd in pajamas! Met ʼn laggie wys hy die “aantreklike” wildebees en befoeterde buffel uit. Die olifantpa hou ʼn wakende oog oor sy vierjarige kalf en die witrenosters vreet ewe vredig tussen die kameelperde. Die jong maanhaarleeu en sy wyfies gaap ons aan. Mandela sê die M op die rooibok se boud is vir McDonalds: kitskos vir die leeus! Ons leer hoe om ʼn luiperdskilpad se ouderdom te bepaal deur sy ringe te tel en dat die klikklank van die elande se knieë ʼn inspirasie was vir die kliktaal van die Boesmans. Stadig sak ʼn seekoei in die dam weg; dis tyd om te gaan. En ja, weet ek, dis maar net die oortjies van die seekoei – daar is nog veel meer om te verken in die omgewing van Grootbrak, Kleinbrak en Glentana, maar wat ʼn lekker 48 uur-avontuur!

REISRAAD:

  • Ilita Lodge in Grootbrakrivier is gesinsvriendelik, gerieflik en gemoedelik – ʼn uitstekende verblyfkeuse vir diegene wat van die skoolvakansieskares wil ontsnap. Dis net 17 km vanaf George lughawe. Skakel 044 620 4143. Vonkpos: [email protected] Webwerf: ilitalodge.co.za
  • By Visgraat restaurant in Glentana kry jy pragtige seeuitsigte en smullekker kos. In die skoolvakansietyd is die kombuis oop van 10 vm tot 9 nm. Dis gesluit op Maandae, Kersdag en Nuwejaar. Spring betyds! Skakel: 044 879 0107. Vonkpos: [email protected] . Besoek hulle Facebookblad: https://www.facebook.com/visgraatrestaurant/
  • Wrakstap by Glentana is ongeveer 6 km (3 km tot by die wrak). Sorg dat jy laagwater stap en genoeg drinkwater saamvat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HENNA ·

Dit klink darem wraggies nou na ‘n omgewing om ‘n heeeerlike tyd daar te geniet …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.