Wynproe met ‘n kinkel

'n Tafel gedek vir brandewyn proe by Van Ryns. Foto: Marianne Styan

‘n Tafel gedek vir brandewyn proe by Van Ryns. Foto: Marianne Styan

Almal hou van ‘n lekker wynproe. Maar dit kan maklik sommer net nóg ‘n wynproe word. Ek hou daarvan as daar ‘n ekstra ietsie bykom wat dit ‘n ander tipe ervaring maak.

Ek het ‘n paar wynplase in die Boland gaan besoek wat wyn-/vonkelwynproe-ervarings met ‘n kinkel aanbied.  Om my gewete skoon te hou, en nie die verkope van sooibrandpille die hoogte in te jaag nie, het ons by die sout begin en ons pad na die soet deurgewerk.

Spice Route (Paarl)

Wat ‘n heerlike ervaring was hierdie wynproe nie. Ons almal weet ‘n wyn se smaak verander as jy dit met seker disse kombineer, maar min plekke gee jou die geleentheid om met kombinasies van vleishappies en wyn te eksperimenteer. Besoekers kry vier wyne (wit en/of rooi) wat gekombineer word met vier verskillende gerookte hamme en salami om  jou smaakkliere totaal in wanorde te dompel. Goed opgeleide proegidse verduidelik vir jou presies wat jy moet doen om seker te maak jy kry die beste smake uit die vleis en die wyn. Hul mees bekende, die Chakalaka-wyn, is een van die lekkerstes.

Fairview (sommer langs Spice Route, Paarl)

Die meeste mense herken die plaas aan sy pikante toring-bokhuisie (gebou in 1981) waaruit ‘n wit boerbok sommer met die aankomslag vir jou loer. Hierdie bokke is natuurlik ook die verskaffers van die melk waarmee die heerlike  bokmelkkaas wat jy hier kan proe en by die deli kan koop, gemaak word. Dit is seker een van die plase waar jy die beste waarde vir jou geld kry vir die hoeveelheid wat jy kan proe. Rondom gesellige kroegtoonbanke kan jy ses wyne kies en dan, met glas in die hand, jou roete na die sewe verskillende kase om die kaastoonbank uitwerk.  Moenie die smaaklike cranberry-feta mis nie. Hierdie plaas weet hoe om vir jou die beste moontlike ervaring te gee. Jy kan ook middagete by die bekende Goatshed-restaurant geniet.

Waterford-landgoed (Stellenbosch)

Elke keer as ek hier kom, voel dit of ek êrens in Toskane op ‘n wynplaas beland het. Dit is pragtig en stylvol.  Tog is die wynproeëry lekker informeel en die vreemde bypassende sjokolades op hulle eie is alreeds ‘n ervaring – donker- en melksjokolades met ‘n knippie sout of brandrissie is deel van die lekker. As dit gekombineer word met die landgoed se verskeidenheid wyne, is dit ‘n ervaring wat jou tot in jou tone laat lekker kry. Die smaak van die ou bekende Zoo-koekies wat verborge is in een van die sjokolades as dit gekombineer word met een van die soetwyne was vir my besonders. Ek het ook nooit gedink dat brandrissie op enige manier vir my sou lekker wees nie… Ek was verkeerd.

JC Le Roux (Stellenbosch)

JC le Roux is sekerlik die bekendste MCC- (mothodé cap classique) en vonkelwynvervaardiger in Suid-Afrika. Vir interessantheid: slegs sjampanje wat in Frankryk vervaardig word mag die naam “sjampanje” dra. Die MCC word egter in die tradisionele sjampanjestyl gemaak. Die atmosfeer binne-in die proe-area weerspieël die borrelende gevoel wat vonkelwyn jou gee . Terwyl hulle jou tafel gereed kry, kan jy deur hulle kelder loop en leer hoeveel sorg nodig is vir die perfekte glasie  gelukwensing. Jy het ‘n keuse tussen ‘n kombinasie van vonkelwyn met nougat en “turkish delight”, skuimpies  en malvalekkers, of fudge. Tussen die vier van ons het ons elkeen een probeer en mekaar se keuses oor en weer geproe. Jou voorkeur hang natuurlik van jou persoonlike smaak af, maar ons gunsteling was beslis die nougat en “turkish delight”.

Van Ryn’s Brandewyn-brouery (Stellenbosch)

As jy hier instap, voel dit of jy by ‘n ou Franse chateau instap. Eenvoudig versier met dramatiese gordyne, hoërug-rusbanke en gedempte ligte, omring met eeue oue brandewynhoutvate.  Jy word vriendelik gegroet deur een van hul baie goed opgeleide personeel wat vir jou ‘n verwelkomingsdrankie van vrugtesap en ‘n vyf jaar oue brandewyn gee. Met die brandewyn-, koffie- en sjokoladeproe kom jy gou agter ‘n jaar maak ‘n groot verskil in die smaak van brandewyn… Hulle neem jou dan na jou tafel waar die glase en sjokolade gereed staan. Drie verskillende brandewyne, 10, 15 en 20 jaar oud, word geskink saam met ‘n klein koppie koffie. Ek is nie ‘n brandewyndrinker nie, maar hierdie proe was besonders. Vergeet alles wat jy moet doen by ‘n wynproe vir die beste smaaksensasie. ‘n Mens moet byvoorbeeld nie brandewyn rondspoel in die glas nie. Elke sjokolade pas perfek by ‘n spesifieke brandewyn. Die koffie is ‘n manier om jou mond skoon te maak van al die smake tussenin. Soos gewoonlik is my gunsteling natuurlik die duurste brandewyn… maar jy kan werklik die besonderse ouderdom van 20 jaar in die brandewyn proe. Dus het ek seker net goeie smaak…

Rits-gids

  • Aangesien hierdie plekke se wynproeë so gewild is, is dit die beste om voor die tyd te bespreek.
  • Spice Route se wynproekamer is op die oomblik onder konstruksie (tot middel September) en daarom word die wynproe in hulle pragtige restaurant aangebied. Dit kos R75 vir die wyn- en vleisproe asook vir die wyn- en sjokoladeproe. Probeer gerus hulle eie gemengde kordial – Ega.
  • Spice Route maak ook hulle eie bier. As jy nie lus is vir wynproe nie, kan jy lekker gaan smul aan biltong en bier by hulle Barley & Biltong Emporium, of jou gaan verlustig in die dekadente sjokolades by De Villiers. (Hulle bied sjokoladeproegeleenthede aan.)
  • Waterford se wyn- en sjokoladeproe kos R50.
  • Die kostes vir JC le Roux se sjampanjeproe is soos volg:

–          Nougat en “turkish delight”: R85

–          Skuimpies en malvalekkers: R65

–          Alkoholvrye sjampanje en fudge: R50

  • Indien jy nie alkohol kan of mag gebruik nie, kan jy steeds saamrits. Probeer gerus die vonkelwyn en fudge-kombinasie by JC le Roux: albei hul gunstelingvonkelwyne is in ‘n alkoholvrye weergawe beskikbaar. Van Ryn’s se brandewyn-, koffie- en sjokoladeproe kos R70.
  • Dis net R25 vir die Fairview wyn- en kaasproe.
  • As jy verkies om slegs wit- of rooiwyn te proe, kan jy dit versoek – hulle akkommodeer jou graag.
  • Daar is baie oulike taxidienste of wyntoere wat gebruik kan word om seker te maak jy moet nie nog ‘n verkeerskaartjies by jou onkoste vir die dag voeg omdat jy onder die invloed bestuur nie. Bestuur asseblief verantwoordelik.
  • Alle wynproeë is slegs vir persone bo 18 jaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.