Renosterstropery: Selfs stadsmeisies kan nou help

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Toe ek weer kyk, bevind ek myself in ʼn doringboom met vier renosters onder my. Ek is dalk ʼn stadsmeisie, maar van een ding is ek seker – renosters kan nie bome klim nie.

Ek is op ʼn plaas êrens in die Limpopo-provinsie. Dit is bloedig warm en ek is verbaas oor die skuiling en koelte wat die doringboom bied. Hoekom is ek in die boom? Want ek is bang. Nee wag, nie bang nie, net versigtig.

As ʼn trop renosters stadig maar seker na jou toe stap, moet jy die een of ander tyd begin skuiling soek. Die renosters is nie aggressief nie. Inteendeel, hulle is nuuskierig. Maar in my hart weet ek ʼn nuuskierige renoster kan my steeds platloop. Die res van die mense in die groep lag lekker en spot my oor my vinnige boomklim-vermoë.

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

“Jy weet slange hou ook van doringbome, nè,” vra een van die groepslede. My moed sak in my skoene, maar dit is nie genoeg motivering om my uit die boom te kry nie. ʼn Ander groepslid (wat gans te braaf is) staan vas met haar kamera om haar nek terwyl die renosters al hoe nader aan haar beweeg.

Hoe bevind ek myself in hierdie situasie? Ek en ʼn groep vrywilligers van verskeie dorpe, het die afgelope naweek help renosters oppas. Wanneer dit volmaan is, neem renosterstropery toe omdat dit soveel makliker is om tydens volmaan in die bos te beweeg. ʼn Renoster gloei amper in die volmaan. Dit is ʼn mooi prentjie om te sien, maar mens besef dan eers, in die middernagtelike ure, hulle is eintlik ʼn baie maklike teiken.

Ek leer ken die ander vrywilligers so ʼn bietjie terwyl ons om die vuur sit en ek hoor een ding by almal – hulle wil help. Die Suid-Afrikaanse publiek is goed ingelig as dit kom by renosterstropery, maar mens voel amper wanhopig oor die hele situasie. Hoe kan ek, ʼn stadmeisie met ʼn vrees vir spinnekoppe (eintlik enigiets wat kan nesmaak in my hare) nou eintlik help?

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die organisasie Rhino Connect het saam met Pretoria FM ʼn inisiatief op die been gebring wat die publiek aanmoedig om betrokke te raak – nie net met ʼn ‘like’ op Facebook of ʼn finansiële bydrae nie, maar met jou teenwoordigheid op die plaas. As jy kan loop en sien, is jy perfek vir die taak. Jy help met patrollie op die plaas, waak by renosters en help kyk vir merkers of enige ander aktiwiteit op die plaas.

Wat ʼn ongelooflike ervaring.

Ons het nie net naby aan die renosters gekom nie. Ons het ook lesse in spoorsny gekry, geleer hoe om in die bos vir mensgemaakte voorwerpe op die uitkyk te wees en selfs geleer om vuur te maak wanneer jy nie ʼn vuurhoutjie byderhand het nie. Dit voel amper soos veldskool.

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Hoewel daar sekerlik ʼn mate van gevaar is, is daar altyd iemand met ʼn wapen wat saam met die groep beweeg. Dit het beslis nie ouers afgeskrik om hul kinders saam te bring nie.

“Toemaar, tannie, skerpioene sal eerder onder klippe gaan lê as hier by ons,” sê Christaan vir my toe ons skuiling onder ʼn bos gaan soek. Die son bak ons droog, maar ek kan sien hy is in sy element. Ek is dankbaar vir die kind se wysheid, want ek is maar skrikkerig vir skerpioene ook.

renoster-cover

Foto: Maroela Media

As jy graag vir ʼn boswegbreek betaal, bestee jou geld op een van dié Renostermaan-naweke. Jou geld word gebruik vir jou kos en die petrol vir die wildsritte. Jy betaal vir meer bewaarders op die plaas en die toerusting wat hulle benodig.

Kyk, jy gaan warm kry, gaan min slaap, vuil huis toe gaan, maar jy gaan vet pret hê en jy sal ver moet soek vir lekkerder potbrood.

Stuur ʼn e-pos na [email protected] en plaas RENOSTERMAAN as onderwerp, om te bespreek. Besoek Rhino Connect se Facebook-blad of luister na Pretoria FM vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.