Rina Venter – Afrikanervrou in murg en been


Foto: Facebook

Foto: Facebook

In die Afrikaner se geskiedenis is daar baie vroue wat ʼn groot indruk gemaak het en wat die Afrikaner-vrou vergestalt: sterk vroue wat leiding neem en nie bang is om hul sê te sê nie.

Dr. Rina Venter is so ʼn vrou. Sy is die eerste vrou wat in die Suid-Afrikaanse kabinet gedien het in FW de Klerk se kabinet as minister van gesondheid en bevolkingsontwikkeling. Dié pos het sy van 1989 tot 1994 beklee.

Volgens Venter het sy nooit ʼn plan gehad om die politiek te betree nie. “Ek het glad nie gedink ek hoort in die politiek nie, ek is opgelei as ʼn maatskaplike werker en was van 1960 baie aktief in dié veld.” Hoewel sy nie ʼn oog op die politiek gehad het nie, was sy by ʼn verskeidenheid van Afrikaanse organisasies soos die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) betrokke. “Op daardie stadium was die SAVF op sy kruin – hy’t baie lede gehad en die vrywilligers was sterk gewees. Ons het baie interessante ontwikkelingsprogramme gehad en ek kan met absolute vertroue sê dat hierdie organisasie ʼn reuse-rol gespeel het om die Afrikaner uit sy armoede op te tel. Toe ek begin werk het in 1960, was daar nie meer sprake van vreeslik baie armoede nie – ons was besig met opvoeding. Ek was besig met dié ontwikkeling tot en met 1980. En toe word ek die leier van die SAVF, sonder dat ek dit beplan het.”

Venter meen sy het nooit in leiersposisies belanggestel nie, maar dat sy altyd vanuit ander oorde genader is. Sy was toe op die SAUK-raad, lid van die uitvoerende komitee van die nasionale behuisingskommissie en ook deeltyds betrokke by die Suid-Afrikaanse Weermag se welsyns-aksie asook die staat se behuisingsprogramme. Dit verbaas ʼn mens nie eintlik nie dat sy op ʼn dag ʼn oproep van FW de Klerk ontvang het nie. “Hy het vir my gesê dat die kabinet dit goedgekeur het om my te benoem tot die parlement. Ek sê toe dadelik vir hom ek stel glad nie belang nie.”

Ná ʼn lang gesprek met De Klerk op die foon, het hy besluit om haar tyd te gee tot die volgende oggend 8:00. “Ek het die saak met my pa gaan bespreek – hy was nie ʼn geleerde man nie, hy was ʼn Afrikaner in murg en been. Toe sê hy vir my – ‘jy hardloop nie weg van hierdie ding af nie, en dis miskien waar jy nou hoort. Ek dink jy moet maar die uitdaging aanpak’.”

Sy het die benoeming aanvaar en die res is geskiedenis. Luister gerus na die podsending om te hoor watter uitdagings Venter in haar tyd as minister van gesondheid beleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.