‘Rooibosdag’ besing die lof van dié produk

Argieffoto

Argieffoto

Clanwilliam in die Wes-Kaap gaan op 16 Januarie 2017 Suid-Afrika se heel eerste Rooibosdag van stapel stuur om dié veelsydige produk te vier.

Benewens ʼn geleentheid op Clanwilliam, die wêreldhoofstad van Rooibos, wil die organiseerders die dag regoor Suid-Afrika en die wêreld op sosiale media vier.

Sanet Stander, mede-eienaar van die Rooibosteehuis op Clanwilliam en mede-stigter van die Rooibos Route, sê die produk word veral gevier om bewusmaking oor sy kenmerke te bewerkstellig. “Die wêreld vind al vir eeue lank baat by hierdie veelsydige wonderplant en dit is tyd dat alle rooibos-liefhebbers in Suid-Afrika hierdie unieke uitvoerproduk vier.  Daarom hou ons ʼn Nasionale Rooibos-dag.”

Toegang tot die byeenkoms op Clanwilliam is gratis en meer as 100 produkte van verskillende handelsmerke sal op die dag te koop wees. “Mense van regoor die wêreld word ook uitgenooi om die dag saam met ons te vier deur hul Rooibos-ervarings op die verskeie sosiale media-platforms te deel.”

Die eerste Rooibosdag sal die Rooibosplant se lof besing en seën sal ook oor die oes uitgespreek word. Tydens die Rooibosdag-byeenkoms sal ʼn poging aangewend word om ʼn wêreldrekord op te stel vir die grootste groep mense wat saam Rooibostee op dieselfde tyd en dieselfde plek drink. Terselfdertyd sal die amptelike ‘Gesig van Rooibos vir 2017’ ook aangewys word.

Vir meer inligting,  kontak die Rooibosteehuis op 027 482 1007 of besoek die webwerf en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.