S-leer: Die nuwe gonswoord vir voortgesette leer

voortgesette-leer

Foto: Helloquence/Unsplash.com

Op geen gegewe tyd is daar iemand wat alles weet nie, maar S-leer is jou nuwe platform om ten minste die slimste op jou vakgebied in die werkplek te wees. S-leer is Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer en is reeds besig om werknemers se denke oor voortgesette leer te verryk en vernuwe.

Volgens dr. Juran van den Heever, uitvoerende hoof van S-Leer, is hierdie unieke maatskappy getaak om voortgesette opleiding en ontwikkeling vir Solidariteit se beroepsgilde-lede te bied.

“Omdat werk so belangrik is, moet ons verseker dat ons lede op die voorpunt van hul beroepe bly met opleiding en leer,” het Van den Heever trots gesê.

S-leer vorm deel van Solidariteit se kernbesigheid, naamlik arbeidsverhoudinge, vaardigheidsontwikkeling en die netwerk van werk. Dit is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer dien as primêre diensverskaffer vir die Solidariteit-beroepsgildes en bied hul lede die geleentheid om hul vermoëns en vaardighede tot so mate te ontwikkel dat hulle ʼn goeie werk kan kry en behou.

Op ʼn vraag oor waarom S-leer se dienste meer en meer noodsaaklik in die werksmag word, helder Van den Heever se oë op.

“Leer en lewenslange leer het werklik gonswoorde geword. Almal wat in hul beroep wil groei en relevant in die werkplek wil bly, moet ʼn punt daarvan maak om aan te hou leer. Mens mag nooit ophou leer nie. Dit is van kardinale belang om voortdurend nuwe vaardighede aan te leer om sodoende die werk gedoen te kan kry én produktief te kan wees,” het Van den Heever gesê.

Van den Heever se drome vir S-leer het in dié stadium geen perke nie.

“Ek sien S-leer as die grootste Afrikaanse leersentrum in Suid-Afrika. Een wat individue werklik met kennis en vaardighede bemagtig om relevant in hul werkplek te bly. Dit is ʼn allemintige stap vorentoe om vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika te kan werk.”

S-leer bied ʼn verskeidenheid kursusse aan. Mense kan sagte vaardighede aanleer wat hulle relevant in die werkplek sal maak.  Dit sluit, onder meer, onderwerpe soos besluitneming en oordeel, konflikbestuur, emosionele intelligensie en kreatiwiteit in. Tegniese vaardighede soos Excel en Word word ook aangebied. S-leer is ’n geakkrediteerde opleidingsverskaffer en werkgewers sal dit herken.

Daar word ook voortgesette professionele ontwikkelingspunte (VPO-punte) aan sekere beroepe toegeken. Werkende professionele persone het die verantwoordelikheid om gereeld hul professionele kennis en vaardighede op te skerp. In sekere beroepsvelde soos gesondheidsorg, rekeningkunde en regte is VPO nie onderhandelbaar nie.

“Enige werknemer wat relevant wil bly, wat in sy beroep wil groei, wat wil uitstyg en sy of haar werk behou in die onsekere tye waarin ons lewe, moet lewenslange leer ʼn prioriteit maak,” het Van den Heever gesê.

“S-leer het vier modelle wat gevolg word. Dit sluit die gewone kontaksessie waar mense vir ʼn voldag-leer na ʼn lokaal gaan en hul kursus voltooi, in.

“Dan het ons ook webinare waar mense kan inskakel en sekere vaardighede in so kort as ʼn uur kan bemeester. Ons maak ook gebruik van eleermetodes, wat studente op hul eie tyd en pas aanlyn voltooi. Die vierde model is gemengde leer waar jy e-leer vooraf doen en dan het jy ʼn eendagkontaksessie wat met drie opvolgwebinare voltooi word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.