SA filantroop, sakeman se unieke boek op die rakke

Francois van Niekerk. Foto: Atterbury Trust

Francois van Niekerk. Foto: Atterbury Trust

Francois van Niekerk, Atterbury se medestigter, het destyds 70 persent van sy maatskappy se aandeelhouding vir liefdadigheid en Koninkryksuitbreiding aangewend. Van Niekerk doen dit deur ’n onafhanklike trust, die Mergon Foundation, en sy nuwe sakehandboek, wat ook ʼn getuienis is, het pas op die rakke verskyn.

Van Niekerk sê die boek is ʼn getuienis van God se betrokkenheid in sy lewe en alles wat hy oor besigheid geleer het. “Die jare stap aan en ek wou bloot my getuienis vaslê – hoofsaaklik hoe God ’n amper insolvente eenman-onderneming laat groei het tot ’n internasionale groep. Dan wou ek ook die bestuurslesse, wat gewerk het en wat nie, met mense deel.”

Die boodskap wat hy met die boek probeer uitdra, is eenvoudig. “Die pad na werklik betekenisvolle sakesukses is minder van jouself, meer met ander en veral meer as instrument in die Groter Hand,” het hy vertel.

Volgens hom het hy eers werklik sukses ervaar toe hy die Here om hulp begin vra het. “Ek het in 1980 die korporatiewe wêreld verlaat om my eie onderneming te begin. Nege maande nadat Infotech begin het, het dinge skeefgeloop en ons was op die rand van bankrotskap. In desperaatheid het ek die Here 30 persent van die maatskappy aangebied as Hy sou ingryp en die krisis afweer. My gebed is binne ’n halfuur verhoor en van toe af is God nie net deel van die maatskappy nie, maar met sy hulp het dit van krag tot krag gegaan. Ek het soos beloof ’n aparte entiteit, die Mergon Foundation, gestig met 30 persent van die maatskappy se aandele. In reaksie op God se seëninge is Mergon Foundation se aandeelhouding mettertyd tot 70 persent verhoog. Ek het mettertyd besef dat die Here nie noodwendig deur jou ‘aanbod om te gee’ beïnvloed word nie.”

Hy sê egter hy glo glad nie in “welvaartsteologie” nie. “Sakemense wat die Here se naam misbruik, was inderwaarheid ook vir my ’n erge belemmering in die proses om tot ’n voller begrip te kom van wat God deur die sakewêreld wil en gaan doen. Die sogenaamde ‘voller begrip’ het oor 35 jaar ontwikkel en dit is juis waaroor die boek handel.”

Hoewel dié sakeman baie nederig is, is hy onlangs deur Forbes aangewys as Suid-Afrika se grootste filantroop. Hieroor is hy ook beskeie. “Forbes het die kat aan die stert beet. ’n Filantroop is waarskynlik meer iemand wat gee van wat hy self vergaar het. Ek het in werklikheid net van die Gewer ontvang en het moeisaam ’n bietjie geleer van wat God wil hê sakemense aan hul medemens moet begin doen en hoe om net ’n instrument van Hom te wees,” het hy gesê.

Hy sê die Mergon Foundation se dividend-opbrengs is tans ongeveer R90 miljoen per jaar. “Die volle opbrengs word gebruik om 120 Christelike organisasies, betrokke by sowat 700 projekte, te ondersteun. Hierdie projekte is meestal in Suid-Afrika en Afrika, maar ook in etlike ander lande. Mergon se fokus is op die jeug, opvoeding, sosiale ontwikkeling en doeltreffende Koninkryksgroei. Benewens die finansiële aspekte word baie aandag gegee om hierdie Koninkryksvennote met goeie sakebestuur te help.”

Hy vertel van die projekte waarby die organisasie betrokke was, is onlangs in reaksie gewees op die Namibiese regering se besluit om Engels as voorkeur-voertaal in skole aan te bied. “Die NG kerk Windhoek-Wes het voorskoolse kinders uit informele woonbuurte rondom Windhoek met Engelse taalvaardigheid begin toerus. Verarmde kleuters kry daagliks ’n bord kos, word Engels geleer en van Christus vertel. Die projek het nou uitgebrei na 120 skooltjies wat jaarliks sowat 4 000 kleuters toerus om die formele skoolstelsel te betree.”

Die praktiese opset van ʼn maatskappy, soos tydsbeplanning, is soms vir hulle ʼn uitdaging. “Die kanaal na Christus is tog gebed en ons lê dit so voor. Die heel moeilikste is om op Hom te wag. Maar dit raak darem al makliker wanneer jy telkens ervaar hoe sy tydsberekening en sy antwoorde altyd strate beter as jou verwagting is.”

Sy boek gee ook heelwat praktiese sakeraad oor die bestuur van ʼn suksesvolle maatskappy. “Wat vir my gewerk het en wat ek in die boek probeer weergee, is: a) alles rondom die bes moontlike mensmateriaal, b) ’n amper obsessiewe fokus op die kliënt, en c) die skep en voortsetting van volgehoue sakemomentum.”

Doing Business with Purpose … Beyond Success to Significance se winkelprys is sowat R200, maar kan by Atterbury Trust teen R150 (plus posgeld) bestel word. R75 hiervan word aan die Atterbury Trust geskenk. Stuur jou bewys van betaling en afleweringsadres aan Karin by [email protected]. Vir meer inligting oor die Mergon Foundation, besoek die webwerf. Vir meer oor die boek, besoek Doing Business with Purpose.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

EMK ·

Geseënd is U! U leef waarlik die Woord uit in woorde en in dade!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.