Samaritane se ongewone wittebrood in Kaapstad

Nathan en Grace Haynes. Foto: Facebook via Nathan Haynes

Nathan en Grace Haynes. Foto: Facebook via Nathan Haynes

Nathan en Grace Haynes, ʼn pasgetroude Australiese paartjie, het ʼn ongewone wittebrood en Kersfees in Kaapstad deurgebring deur geskenke vir hawelose mense uit te deel.

Die paartjie van Perth, in die westelike gedeelte van Australië, het hul familie en vriende oor die Kerstyd agtergelaat om vrywilligerswerk in die Moederstad te doen. Nathan, ʼn paramedikus en Grace, ʼn dokter, het besluit om op dié manier hul wittebrood te vier sodat hulle iets in die lewe van iemand anders kan beteken.

“Omdat ons daagliks in die mediese industrie werk, wou ons graag gesondheidsorg in ʼn ander deel van die wêreld ervaar en ons wou graag met minderbevoorregtes werk. Aangesien ons genoeg verlof gehad het, het ons besluit om vier weke vrywilligerswerk te gaan doen. Ons het Kaapstad gekies omdat die klimaat en omgewing baie soos Australië s’n is,” het Nathan vertel.

Die paartjie het nie net geskenke aan hawelose mense in die strate van Kaapstad uitgedeel nie, maar ook in ʼn hospitaal gewerk. “Ons het ʼn paar skofte by ʼn staatshospitaal gewerk. Die beloning wat mens kry wanneer iemand vir jou glimlag omdat jy vir hulle iets goed gedoen het, kan nie met geld gekoop word nie,” het Nathan vertel.

Nathan het ook gesê daar is slegs ʼn enkele manier om haat en rassisme die nek in te slaan. “Australië het ʼn soortgelyke geskiedenis as apartheid wat in 1967 afgeskaf is en daar is steeds gevolge daarvan vandag in die land. Rassisme kan slegs hok geslaan word deur dade van vriendelikheid en begrip. Ons wou dít op Kersoggend vir die mense wys. Die glimlagte van pure dankbaarheid is van onskatbare waarde,” het hy gesê.

Die paartjie sê hulle was egter nooit bang vir misdaad nie. “Misdaad is oral. Ek laat toe dat my instink my altyd lei. Wie sal in elk geval vir Kersvader wil beroof?” het hy geskerts.

Nathan sê hulle hoop die liefdadigheid stop nie by hulle nie. “As daar net een mens is wat dieselfde vir ander kan doen, is dit goed genoeg,” het hy gesê.

Die paartjie beplan om mediese dienste beskikbaar te stel vir duisende mense in afgeleë gebiede in Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alki ·

Baie dankie MM dat julle hierdie storie met ons deel, het lanklaas so ‘n goeie positiewe storie gelees

Jane ·

Baie mooi gebaar. Wees net versigtig in SA word buitelanders vermoor. Veral as jy wit is.

DPJ ·

Sou meer mense betroke raak is ons probleem half gevone. Dankie julle hulp.

Sare Strydom ·

Goeie voorbeeld vir ons almal. Maar daar is mense in Suid-Afrika wat dieselfde werk vrywillig doen. Hulle wil dit net nie adverteer nie. Ek wou op ‘n stadium werk wat twee dames gedoen in ‘n Gemeenskapskoerant plaas, maar die Redakteur het nie belang gestel nie. Nie Nuuswaardig nie. Miskien moet ons sulke verhale van ons eie mense plaas.

Charmain ·

Ja, Sare Strydom, ek stem, wat die Suid Afrikaners nie weet nie, elke tweede Aussie doen vrywilligers werk, want dit is n groot plus op hul CV, dis vir hulle n manier om in n beroep vorentoe te gaan en raak gesien te word. As jy ook sukkel om werk te kry tel dit vir jou as n firma sien jy doen vrywillige werk iewers.
Kaapstad, selfde klimaat as Australië, ek lag my dood. In Australië kook jy, dis glad nie heerlike somer temperature nie, dis van die een uiterste na die volgende.
Dis tyd dat die Suid Afrikaanse koerante eerder hulle eie mense prys as buitelanders wat iewers in die wêreld n stempel wil druk. Pleks help hulle dan bo in Afrika, as hulle so graag wil help. Ja, hier is seker hulp in Suid Afrika ook nodig, maar maak my vies as ander net vir vier weke kom en klaar die blaaie haal en ander hier swoeg en sweet dag na dag om n verskil te maak en kom nêrens. In teendeel, in Australië kan hulle maar self ook gaan vee, daar is mense wat in “remote” areas bly wat nie eers behoorlike mediese hulp het nie.
As jy wil help, doen dit omdat jy wil, nie om gesien te word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.