SANBS het dringend bloedskenkers nodig

Junie is Bloedskenkersmaand. Jy kan 'n lewe red deur net dertig minute van jou tyd af te staan.

Junie is Bloedskenkersmaand. Jy kan ‘n lewe red deur net 30 minute van jou tyd af te staan. Foto: Argief.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) ervaar tans ’n tekort aan bloed en moedig alle vrywilligers aan om so gou as moontlik by hul naaste bloedbank uit te kom.

Volgens Vanessa Raju, kommunikasiebestuurder van die SANBS, is slegs een en ’n halwe dag se bloedvoorraad nasionaal beskikbaar, terwyl daar minstens vyf dae se bloed nodig is om optimaal te funksioneer. Die SANBS het ongeveer 3 000 bloedskenkings per dag nodig om aan dié aanvraag te voldoen.

Hoewel bloedgroep O telkens meer in aanvraag is omdat dit ook gebruik kan word vir pasiënte met ander bloedgroepe, is dit ook belangrik dat vrywilligers van bloedgroepe A en B by hul naaste bloedbank uitkom.

Volgens die SANBS word minstens 40% van die bloedvoorraad verskaf deur skole en universiteite. Omdat dit vakansie was en dié instellings gesluit is, kan die SANBS nie bloedskenkingsklinieke daar hou nie, wat veroorsaak dat die voorraadsyfer drasties daal.

“Met skole, universiteite en organisasies wat weer soos normaal besigheid begin ná die vakansie, sal ons weer ʼn goeie bloedvoorraad kan handhaaf, maar ons weet ook dat dit enige dag kan verander indien ons nie die daaglikse teiken van 3 000 eenhede bereik nie,” het Raju gesê.

Vrywilligers wat wil bloed skenk, moet tussen die ouderdomme van 16 en 65 wees, minstens 50kg weeg en oor die algemeen gesondheid wees.

Die SANBS kan bereik word deur 0800 11 90 31 te skakel of ʼn e-pos te stuur aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.