
Koningsprotea (Foto: David Clode/Unsplash)
Al reën dit hier in die Kaap soos ek sit en skryf, sê die bloeisels buite die nuwe seisoen is hier. Daar skuif ʼn vrolikheid in die lug en mense voel sommer net meer optimisties want soos Leo Tolstoy gesê het, die Lente is ʼn tyd vir planne en projekte.
Op Lentedag maak ék geen planne of dink aan enige projekte nie. Dis my ma se doodsdag en vir die negende jaar in ʼn ry dink ek terug aan daardie dag toe ek die verskriklike oproep gekry en na my ouerhuis toe gejaag het. Ek kon nie groet nie want sy het stil-stil en sonder vooraf-waarskuwing net voor sonsopkoms vertrek. (Na al die jare wens ek steeds ek het net vyf minute gehad om haar vas te hou en dankie te sê.) Vanjaar is hierdie aanloop tot die lente nog meer gelaai want die winde van verandering het skielik aan my wortels kom torring. Die gety het ingekom.
Die ding met verandering is dat daar dikwels nie vooraf-kennisgewing is nie, geen waarskuwing dat ons onsself moet staal nie. Ons skarrel onbeholpe om die hooggety te navigeer en skop verwoed om kop bo water te hou. In die proses mergel die skuimende water ons so uit dat ons ingesuig word en die horison stadig uit ons gesigsveld verdwyn.
Die Amerikaanse digter, Henry Wadsworth Longfellow, het gesê die gety kom in; die gety beweeg uit. Wanneer ons dus meegesleur word in ʼn seestroom moet ons probeer onthou dit gaan ons nie onderwater trek nie, net tydelik weg van die strand.
Met my ma in my gedagtes en die hartseer oor die “vaarwel” wat nooit gebeur het nie dink ek aan ʼn afskeid wat minder as 60 kilometer van my af plaasvind. ʼn Gesin wat ʼn eggenoot en pa groet en twee Corgi-hondekinders wat waak by die bed. My jarelange vriend Pieter maak reg vir sy laaste Groot Duik.
Sy stryd teen kanker was ʼn begeesterde een maar selfs Pieter met sy wilskrag, wysheid en waardigheid (en diepsee-duikervaring) kon nie uit dié stroom kom nie.
Pieter was een van die uitsonderlike gaste in my radioreeks, Suksesstories, op RSG en in daardie welluidende stem het hy onder meer gesê:
Praat oor kanker dan besit jy dit
Maak vrede met alles en almal
Gee ʼn goeie vriend wyse raad
“Met ʼn vonkel in die oog”−behou een vyand vir veggees
Kies jou woorde
Behou jou humorsin
Ek verstaan nou dat ek heling kan ervaar al is ek nie gesond nie
Jou hele lewe lank roei jy stroom-op. Sit nou jou roeispane in die boot en dryf.
En dit bring my terug by afskeid en die noodsaaklikheid daarvan om te groet, al ry jy net gou winkel toe. Moet niks ongesê laat nie. Trots of tyd weerhou ons so dikwels daarvan om vir die mense (en diere) in ons lewens die nodige dankbaarheid en liefde te wys. Verwyt is ʼn vyand wat nie maklik laat los nie. Gee die blomme nou, nie wanneer die kis in die aarde sak of die as gestrooi word nie.
Ek het oor die jare al talle gesprekke – vriendskaplik en in werksverband – met Pieter gehad. In een van sy vele hoedanighede was hy ʼn kommunikasie-ghoeroe en sy buitengewone vermoë om homself namens die Stad Kaapstad uit te druk het hom onder ons klompie radiojoernaliste die titel van “Master of the Soundbyte” besorg. Maar hy is soveel meer as net ʼn talentvolle, bekwame man. Pieter is ʼn “mensch” en was onder meer destyds dáár met sagte raad en daad toe my ma oorlede is.
Ek twyfel of ons mekaar weer gaan sien maar ons hét ons laaste Groot Gesprek gehad, so ʼn maand gelede, aan huis by hom en sy pragtige gesin. Ek en Pieter het in die gesellige woonkamer gesit met die winterson wat ingeskyn het. Ons het mekaar in die oë gekyk en dankie gesê vir jare se heerlike saamwerk en dat ons grepe van mekaar se lewens kon deel. Ek het vir hom ʼn koningsprotea saamgeneem wat ek self gepluk het, min wetende dat dié majestueuse blom ʼn simbool is van krag, dapperheid en weerstandigheid. Nes Pieter.
Ek het jare gelede vir twee jaar in Frankryk gewoon en ʼn kosbare vriendin gemaak. “Manou” was ʼn daaglikse instelling in my lewe met my Franse lesse oor sterk koppies koffie. Toe dit tyd word vir terugkom Suid-Afrika toe kon ons nie “vaarwel” sê nie – dit was net te moeilik. In plaas daarvan het ons bloot vir mekaar gesê, soos wat ons vir byna twee jaar lank daagliks gedoen het: “Tot môre”.
My goeie vriend, Pieter: “Tot môre…”.
Sit nou jou roeispane in die boot en dryf.
*Pieter Cronje is op Saterdag 2 September oorlede.
- Lizma is ʼn bekroonde radiojoernalis en – aanbieder en stigterslid van die Kaapse radiostasie, Smile 90.4FM. Sy het ʼn meestersgraad in joernalistiek.
Pragtig, Lizma.