Sit jou voet neer teen seksuele molestering

Kara saam met die rolverdeling van Dis ek, Anna. Foto: Verskaf

Kara saam met die rolverdeling van Dis ek, Anna. Foto: Verskaf

Die voorskou van die rolprent, Dis ek, Anna, wat Woensdagaand by Cinema Nouveau in Rosebank plaasgevind het, het die gehoor omtrent stomgeslaan. Só vertel Kara van der Merwe (14) wat die rol van Carli, ’n slagoffer van seksule molestering, vertolk.

Kara was so geraak deur dié karakter dat sy ʼn projek genaamd “Sit jou voet neer” op die been gebring het.

Volgens Kara moet die “Sit jou voet neer”-projek ʼn duidelike boodskap aan slagoffers van seksuele molestering stuur: Jy is nie alleen nie. Sy beoog ook om soveel moontlik geld in te samel vir organisasies soos Childline, wat ondersteuning bied aan kinders en tieners wat blootgestel is aan dié tipe molestering of geweld.

Kara sê die jeug word soms onderskat as dit by sulke kwessies kom. “Ons is reg om standpunt in te neem teen seksuele molestering.”

Dié projek het ʼn oulike aanslag waarin mense ʼn foto van hul voete moet neem en dit op Facebook deel. Kara sê selfs mense met lelike voete is welkom! ’n App is ontwerp waardeur jy baie maklik deur Facebook jou voetfoto’s kan plaas met ’n verpersoonlikte boodskap. Kyk gerus hier. Die idee is dat hierdie veldtog momentum kry deurdat mense mekaar uitdaag om ook hul voetfoto’s te deel en dan R1,50 skenk deur ’n SMS na 33445 te stuur.

Daar sal ook ʼn uitstalling tydens Aardklop by die Snowflake-gebou wees waar besoekers foto’s van bekendes se voete kan koop. By die openingsgeleentheid op 6 Oktober sal die Noordwes Kinderkoor ’n liedjie sing wat spesiaal vir “Sit jou voet neer” geskryf is.

Tientalle bekendes het al die “Sit jou voet neer”-veldtog gesteun. Een van die eerstes was Anchien Troskie, die skrywer van Dis ek, Anna, wat vir Kara ’n mooi boodskap gestuur het om te sê hoe belangrik hierdie veldtog is. Kara was ook baie in haar skik toe Bouwer Bosch, Francois van Coke en Jack Parow foto’s en video’s gestuur het. Nog ’n hoogtepunt was toe die skrywer Marita van der Vyver haar foto’s gestuur het.

Luister na die podsending om meer te hoor oor “Sit jou voet neer” of besoek gerus die Facebook-blad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.