Sit julle huwelik vas in die modder?

dune-buggy

Foto: Kaeyla McGee/Unsplash.com

Deur ds. Deon van der Berg van Beginet

Ek dink die meeste van ons wat nou hier lees, het al die ervaring gehad om in ’n voertuig te wees wat in die modder gaan vasval het, of iewers in los sand. Niemand wat deur die modder wil ry, doen dit met die idee om te gaan vassit en in die modder te gaan stoei om die voertuig daar uit te kry nie. Net so is ek baie seker daarvan dat daar nie een enkele egpaar is wat aspris moeilikheid gaan soek om die huwelik te laat vassit in die modder van emosies en verwyte, net omdat hy of sy dit wil geniet nie.

In aansluiting by my vorige artikel op Maroela Media, kry ek dit so baie dat as jy vir ʼn egpaar wat ’n huwelikkrisis beleef, sou vra wat hulle dink die probleem is, is daar gewoonlik nie ’n oomblik van huiwering of oorweging by enige een om hulle “korrekte” antwoord te gee nie. Elkeen is absoluut oortuig daarvan dat hulle die antwoord op die probleem geïdentifiseer het. Die oomblik wat jy die vraag sou vra, sal beide op die een of ander manier die ander een se naam noem en vinger wys.

Elkeen is gewoonlik so oortuig dat die probleem in die huwelik eintlik die ander persoon is. As daardie persoon net sou verander of my net ’n billike kans wil gee, is die huwelik weer op ’n goeie pad, sal jy hoor. Wat mens tref, is dat jy gewoonlik by die betrokke persone in die huwelik geen poging tot selfondersoek beleef nie. Nie eens tot die punt van: “Ek weet ek is nie volmaak nie, maar…”

Wanneer jy in gesprek met hulle is, beleef jy dat hul huwelik soos ’n voertuig is wat in die modder vasgeval het en net op een plek staan en spin soos al die konflik en verwyte heen en weer geslinger word. Daar is geen vordering in ’n positiewe rigting nie. Dit word niks anders as ’n vernietigede siklus van vinger wys na die ander waar dieselfde dinge oor en oor gesê word, hulle dieselfde dinge oor en oor doen, dieselfde dinge oor en oor belewe. Natuurlik is dit beide se begeerte om dinge reg te maak, maar hulle weet nie hoe om uit die negatiewe siklus te kom nie. Die huwelikvoertuig bly vassit in die modder.

Is daar hoop?

Die een ding wat kan help dat “ ’n wiel” van die huwelikvoertuig vastrapplek kan kry en die ander stadig uit die modder trek, is dat iemand net die vinger op die kop sal sit en ’n eie aandeel sal erken. Verandering in die huwelik, maak nie saak hoe donker die situasie lyk nie, kan by een persoon begin. Jy het reg gelees. Verandering in die huwelik kan by jou begin. Dis so jammer, maar gewoonlik is dit die een ding wat vir die meeste mense die moeilikste ding is om te doen. Watter pogings hulle ook al aanwend om die situasie te verander, dit sal ongelukkig nie help nie, want hulle soek die fout altyd by die ander of by ’n eksterne invloed. Nooit by hulleself nie.

Waarin lê daar hoop?

Ongelukkig kan geen verandering in ’n huwelik plaasvind sonder belydenis nie. En saam met belydenis moet daar natuurlik vergifnis wees. Sonder vergifnis kan daar ook niks in die huwelik verander nie.

Belydenis en vergifnis is soos ’n verliefde paartjie wat hand aan hand loop. Belydenis en vergifnis is daardie een onoopgemaakte deur na groei en verandering in baie huweliksverhoudings. Dis essensieel. Dis fundamenteel. Daarsonder is jy oorgelaat aan ’n siklus van herhalende en verdiepende patrone van misverstand, verkeerdheid deur heeltyd die vinger na die ander te wys, konflik en uiteindelik vernietiging van mekaar en die huwelik.  Met belydenis en vergifnis word die toekoms weer helder en vol hoop, ongeag wat die kwessies is wat die paartjie tans voor oë moet sien.

Belydenis en vergifnis moet eintlik in elke huwelik ’n normale lewenstyl word. Wanneer dit die geval is, kan ’n paartjie met vrymoedigheid, binne die veilige ruimte van belydenis en vergifnis, oop kaarte met mekaar speel en eerlik handel met hul eie sondes, swakhede en mislukkings.

Daar is maar net een manier waarop ’n huwelik kan bly groei. Daar is net een manier waarop ’n huwelik verander. Daar is net een manier waarop jou huwelik dít kan wees wat God bedoel het dat dit sal wees, en waartoe Hy jou in staat sal stel. Alleenlik deur belydenis en vergifnis. Dis alleenlik as ons onderneem om daagliks ’n patroon te handhaaf van nederige belydenis, gekoppel aan die gewilligheid om gou en totaal te vergewe, dat die huwelik ons beperkte verwagtinge kan oortref.

Belydenis en vergifnis moet altyd saam gesien word. ’n Vaste patroon van vergifnis gee ons die moed om te bely en ’n vaste patroon van belydenis bring die vreugde van die versoening wat vergifnis bring.

Deur wat Jesus vir ons gedoen het, hoef ons nie meer weg te kruip, of ons foute reg te praat nie. Ons is vry daarvan om voor te gee dat ons perfek is wanneer ons in ons harte weet ons is dit nie. Ons is vrygemaak daarvan om te moet ontken dat ons probleme het. Ons kan huweliksprobleme met hoop en moed aanpak, want Christus het ware, standhoudende, persoonlike veranderings, sowel as veranderings in verhoudings moontlik gemaak.

Deur die genade van die Here kon ek al beleef hoe honderde egpare weer vars kon begin en nuut wegspring aan die ander kant van die modderpoel. Dit kan julle ook wees. Laat jou huwelik baat by die vryheid van belydenis en vergifnis. Vrede vir jou!

  • Hierdie artikel is geskryf ds. Deon van der Berg, die stigter van Beginet. Beginet se visie is om gesinstabiliteit te bevorder deur die massas verniet te bedien. Jy kan weekliks gratis insette kry oor sake soos die huwelik, ouerskap, gesinsfinansies, die hantering van verslaafdes in die gesin, iets spesiaal vir tieners en nog baie meer. Gaan volg Beginet op Facebook, op YouTube en opwww.beginet.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eerlik ·

Ek sal Graag wil hoor van Huwelike wat “werk” rakende hierdie onderwerp.
Vergifnis en Belydenis is n Groot factor en ek sal graag na Julle Sukses verhale wil luister.

Laat weet gerus asseblief,

Groete

Sê Net ·

Eerlik, ons huwelik ‘werk’ nie net nie, ons huwelik is ‘n veilige hawe vir albei van ons. As jy bitter jonk getrou het en byna 34 jaar later steeds getroud is, was daar beslis al male sonder tal geleenthede waar daar belydenis en vergifnis moes wees. Deur jare van groei en skaaf aan mekaar, leer jy dat dit nie gaan oor wie reg en wie verkeerd is, wie se skuld wat is nie, maar eerder oor ‘ons twee is nou een en saam wen ons!’
Geen huwelik is nèt maanskyn en rose, ons s’n ook nie. Uit foute leer mens, groei mens, word jy sterker.

As huweliksmaats meer genade aan mekaar bewys, albei die huwelik en mekaar respekteer (volgens beloftes wat elkeen uit vrye keuse gemaak het) dan is daar geen beter plek om te wees as net saam nie. Dis waar jy uitbundig lewe en mekaar geniet.

Te dikwels trou mense sonder om die erns van n huweliksbelofte te verstaan. As jy nie bereid is om daagliks te vergewe nie, moenie trou nie. As jy nie die woorde: ‘ek is jammer, vergewe mý’ vir jou maat kan sê nie, moenie trou nie!
As jy graag getroud wil wees en gelukkig getroud wil bly, wees gou om vergifnis te vra èn te gee.

Dankie Ds. Deon, jy vat dit mooi vas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.