Skaars beeld van Never Die te koop

Die borsbeeld van Never Die (Foto: Verskaf)

Die borsbeeld van Never Die (Foto: Verskaf)

ʼn Skaars borsbeeld van die Oos-Londense slangbesweerder en natuurkundige, Never Die, is vandeesweek op Gumtree geadverteer en het opnuut belangstelling in dié besonderse randfiguur aangevuur.

Hoewel daar weinig inligting oor hom bestaan, was Never Die ’n bekende gesig in die Oos-Londense hawe gedurende die twintigerjare tot en met sy dood op 84-jarige ouderdom in 1930. Hy was veral bekend vir sy gehawende swart jas en pap hoed.

Never Die het slange, spinnekoppe en insekte in ʼn toffieblik of bottel aan matrose probeer verkoop. Wanneer hy nie ʼn koper kon vind nie, het hy gewys hoe om ʼn slangbyt te behandel, deur een uit sy sak te pluk en toe te laat dat die slang hom pik. Hy het soms die gif self uitgesuig.

Never Die was glo heeltemal immuun teen slanggif, vandaar die naam, Never Die.

Hy is vermoedelik in 1846 in Gonubie gebore. Niemand het geweet wat sy stamnaam was nie.

Sy legendariese immuniteit was na bewering te danke aan sy pa, wat hom reeds van sy kleintyd af die vloeistof uit die galblase van slange, wat hy in die veld doodgemaak het, laat drink het. Hy het ook sy eie teengifdoepa gemaak uit N’Deda Mabela, die bas van ʼn suurlemoenboom.

Volgens Maureen Mbekile van die Oos-Londense museum, het Never Die ook ʼn besonderse kennis van inheemse slange, skerpioene en spinnekoppe gehad en hy kon in fyn detail oor die habitat en gewoontes van die gediertes wat hy gevang het, praat.

Never Die se liggaam is op 31 Januarie 1931 tussen die bosse langs die Buffelsrivierbrug gevind, ongeveer vyf weke na sy dood. Sy toffieblik is gebruik om hom te identifiseer.

Dorothy Randell, vrou van die bekende Grahamstadse advokaat George Randell, het twee borsbeelde van Never Die voor sy dood geskep, wat die een insluit wat nou te koop is. Die ander een staan in die biblioteek van die Oos-Londense museum.

Mandy Walker, wat die advertensie geplaas het, sê dié beeld is jare lank van generasie tot generasie in haar familie oorgedra. Sy het die storie van Never Die deur ou nuusberigte leer ken.

“Ons wil graag hê die beeld moet na iemand toe gaan wat dit sal waardeer,” sê sy.

Die borsbeeld word vir R27 000 verkoop. Die tweelingstuk kan Dinsdagoggende, Maandae, Woensdae en Vrydagmiddae in die Oos-Londense museum besigtig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ekwilibrium ·

Interressant, maar ek dink Glenda Kemp was ‘n mooier slangbesweerster…

Ekwilibrium ·

O ja, daar was STERretjies op foto’s geplaas in destydse tydskrifte waarin sy verskyn het.

Maria van Dieweeck ·

hie hie, onthou vir Glenda Kemp wat so lief was vir slange

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.