Skenk ʼn skoenboks hierdie Kersfees en maak ʼn kind se hart bly

santa-shoebox-01-webwerf

Foto: Santashoebox.org.za

Die koördineerders van die Santa Shoebox-projek het ʼn reusagtige doelwit vir 2019 voor oë: die projek moet teen 2019 ʼn miljoen minderbevoorregte kinders in Suid-Afrika en Namibië bereik – skoenbokse wat gevul is met toiletware, klere, skryfbehoeftes, lekker eetgoedjies en speelgoed.

Santa Shoebox het in 2006 ontstaan met 180 gevulde skoenbokse wat in die Kaapstad-omgewing uitgedeel is na ʼn netwerk van vrywilligers wat 762 594 skoenbokse landwyd in 2017 versprei het.

Vanjaar se projek het reeds afgeskop en lesers kan nou die Santa Shoebox-webwerf besoek om ʼn skoenboks (of twee) gevul met geskenke, te beloof.

santa-shoebox-02-facebook

Foto: Santa Shoebox-projek se Facebookblad.

Só werk die projek:

Die projek behels dat die publiek ʼn skoenboks belowe vir Kersfees. Jy registreer jou besonderhede op Santa Shoebox se webwerf en kies ʼn naam uit ʼn lys van kinders wat geregistreer is om ʼn geskenk te ontvang. Sodra jy die eenvoudige registrasieproses voltooi het en die ontvanger van jou skoenboksgeskenk gekies het, kan jy inkopies gaan doen.

ʼn Mens weet ook presies wat jy vir die kind moet koop, jy kry die kind se naam, ouderdom en klerenommer. Daar is ook ʼn lys goed wat in die skoenboks gepak moet wees, soos toiletware, klere en speletjies wat by die kind se ouderdom sal pas.

Santa Shoebox het verlede jaar met ʼn nuwe opsie begin waar die publiek virtuele skoenbokse kan belowe. As jy nie self kan uitgaan om ʼn Santa-skoenboks met wonderlike geskenke te vul nie, kan jy die artikels aanlyn kies en iemand anders sal die inkopies sommer vir jou doen en die boks pak.

Die virtuele opsie is juis geskep vir mense wat die projek wil ondersteun, maar nie die tyd het om die aankope self te doen of die boks te pak nie, of te ver van afleweringspunte woon. Sodoende kan meer mense by dié welsynorganisasie se missie betrokke raak.

Hierdie virtuele opsie is hierdie jaar weer beskikbaar en wil vanjaar 115 000 skoenbokse laat pak as deel van die projek se totale doelwit.

Stor-Age is ook vir die sewende agtereenvolgende jaar weer ʼn vennoot van die Santa Shoebox-projek. Om die donasieproses nog verder te vergemaklik, het Stor-Age ʼn totaal van 13 000 skoenbokse wat hulle by hul geriefswinkels landwyd weggee sodat dit gevul kan word met goed op die geskenklys vir die kinders. Elke persoon kan vier skoenbokse kry en as hulle nog bokse benodig, kan hulle dit daarna teen die kosprys van R5,00 per boks aankoop. Daarna kan die gevulde boks weer afgelaai word by ʼn Stor-Age-winkel wat dit na die afleweringspunte sal neem vir verspreiding.

santa-shoebox-03-verskaf

Foto: Santashoebox.org.za

Hoe kan ek betrokke raak:

Skenkers moet Santa Shoebox se amptelike webwerf besoek om ʼn skoenboks vir ʼn kind te beloof. Hulle moet die naam, ouderdom en geslag van die kind aandui – ʼn mens ontvang ʼn etiket hiervoor om uit te druk en op jou skoenboksgeskenk te plak.

As jy die virtuele opsie kies, kies jy uit agt goed om die boks mee te vul en skryf ʼn persoonlike boodskap wat op ʼn geskenkkaartjie vir die kind gedruk sal word.

Lesers kan nou reeds bokse belowe en selfgepakte skoenbokse word in Oktobermaand by afleweringspunte versamel. Die publiek kan ook tydens hierdie tyd as vrywilligers uithelp met die bokse tydens aflewering.

Besoek gerus Santa Shoebox se Facebook-blad, Twitter, Instagram, YouTube en Pinterest vir meer inligting oor die projek. Besoek ook Stor-Age se Facebook– en Twitter-rekening vir aankondigings oor waar en wanneer jy jou skoenbokse kan afhaal en aflewer.

Suzelle DIY het ook hierdie prettige video gemaak om jou te help om jou skoenboks te pak en versier vir die Santa Shoebox-projek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Valerie ·

Goeie genugtig…ons is nog in die winter en die Kersfees malligheid begin reeds. Stadig, asb.

wilma ·

Dit is goed dat die projek nou reeds afskop dan kan ‘n mens stelselmatig ietsie aankoop in plaas daarvan om die hele boks se inhoud met een slag aan te koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.