Skinstad en Byrne help geld insamel vir rugbybeseerdes

Bob Skinstad, Shane Byrne en Dan Nicholl (Foto: Maroela Media)

Bob Skinstad, Shane Byrne en Dan Nicholl (Foto: Maroela Media)

Die Chris Burger-Petro Jackson-rugbyspelersfonds het Maandagaand by die Maslow-hotel in Sandton, Johannesburg, ʼn geldinsameling ten bate van dié stigting, aangebied.

Die oud-Springbokrugbykaptein Bob Skinstad en die voormalige Ierse rugbykaptein Shane Byrne het in ʼn oop paneelbespreking, gelei deur Dan Nicholl, geskerts oor onder meer die Wêreldbekertoernooi van 1995, Byrne se ervaring as kaptein van die Ierse Leeus asook sy ontluikende akteursloopbaan. Byrne het in 2014 die rol van ʼn Russiese bendelid vertolk in die Ierse rolprent Mrs. Brown’s Boys D’Movie.

Ná afloop van die gesprek is daar ʼn veiling gehou waartydens ʼn allemintige bedrag van ongeveer R25 000 ingesamel is. Byrne het onder meer die trui wat hy tydens die Wêreldbekertoernooi van 1995 gedra het, laat opveil.

Gail Baerecke, algemene bestuurder van die Rugbyspelersfonds, sê die fonds is dankbaar vir diegene wat deel is van die rugbygilde wat ʼn gedeelde verantwoordelikheid saam met die fonds teenoor beseerde spelers aanvaar. “Die geleentheid was ʼn groot sukses en dit is veral moontlik gemaak deur die Old School Group, SEARTEC en ander individue wat kragte gesnoer het vir Rugby’s Caring Hands,” het sy gesê.

Die fonds, wat hom daarop toespits om jong rugbyspelers wat ernstige kop-, nek-, en ruggraatbeserings opdoen finansieel te ondersteun, is in 1980 op die been gebring deur die voormalige Westelike Provinsie-rugbykaptein Morné du Plessis en sy spanmaats. Chris Burger, ʼn kranige Westelike Provinsie-heelagter het in daardie jaar tydens ʼn Curriebeker-rugbywedstryd ʼn ernstige nekbesering opgedoen.

Ná afloop van ʼn besering op die veld onderneem die Rugbyspelersfonds om in samewerking met die beseerde speler en sy familielede die speler te help om noodsaaklikhede te bekom, soos ʼn elektriese rolstoel, matrasse en kussings wat druk verlig, hospitaalbeddens en medikasie. Die fonds hou homself ook verantwoordelik vir die onderhoud van elektriese toestelle, omdat dit groot finansiële druk op die familielede van ʼn beseerde speler kan plaas.

Om donasies te maak of meer inligting oor die fonds te verkry, gaan na die Players Fund se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.