Skrikkeljaar-leerder: ‘Ek is eintlik twee jaar oud’

Minke Basson verjaar op Skrikkeldag. Foto: Adéle Changuion

Minke Basson verjaar op Skrikkeldag. Foto: Adéle Changuion

“Ek is vandag twee jaar oud!” skerts Minke Basson (8) van Laerskool Rooihuiskraal in Centurion.

Dié skool het vandag skrikkeljaar behoorlik gevier omdat twee van hul leerders op dié spesiale dag verjaar.

Phillip van der Walt (8) sê hy is nie doodseker wat skrikkeljaar is nie, maar hy is baie opgewonde oor die partytjie. “Ons gaan piekniek hou op die rugbyveld – ek gaan lekker speel op die rugbyveld!”

Minke sê sy verjaar gewoonlik op 28 Februarie, maar dat dit vir haar lekker is om vanjaar op ’n ander dag te verjaar. “Ek verjaar eintlik net elke vier jaar, maar ek is nie hartseer daaroor nie.” Minke het vandag ʼn pragtige nuwe rok by haar ouers gekry en sy lyk omtrent soos ʼn prinses met haar blommekroon. “My kroon het gebreek, maar my juffrou het dit weer reg gemaak.”

Ferdie Maree, skoolhoof van Rooihuiskraal, sê dié twee leerders is die slimste tweejariges wat hy ken. “Rooimiere word baie oud, daarom is dit ’n goeie ding dat ’n ware rooimier net elke vier jaar verjaar.”

Kolwyntjies, ballonne en verjaardagpakkies is rugbyveld toe gedra waar al Phillip en Minke se klasmaats saam feesvier. Selfs die personeel van Rooihuiskraal vier ook saam fees en het besluit om vandag onpaar skoene aan te trek. “My kinders het nog nie agterkom ek het twee verskillende skoene aan nie, ek wag vir hulle reaksie,” meen ’n juffrou met ’n pienk en swart skoen aan.

Carien Folscher, Adjunkhoof van Rooihuiskraal, sê hulle wou graag dié twee leerders uitsonder omdat hulle eintlik net elke vier jaar “amptelik verjaar”. Dit is sommer ook ʼn geleentheid om die ander leerders meer te vertel oor skrikkeljaar. “Nie elke kind weet wat skrikkeldag is nie, so ons gebruik sommer die geleentheid om hulle meer daaroor te vertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Liza ·

Baie geluk Phillip en Minke! My oudste suster is vandag 11 jaar oud wat my eintlik die ousus maak! Geniet dit!

Antoinette ·

Baie geluk Phillip en Minke !! Lyk vir my julle het ‘n wonderlike dag gehad !!

Paul ·

Die term is “leerling” in Afrikaans. Die term “leerder” is ‘n burokratiese wanskepping sonder enige taalkundige agtergrond.
In Engels is daar destyds die terme “pupil” en “scholar” gebruik. Die term “pupil” het argaïes geword, en die term “scholar” was eintlik nog altyd verkeerd en is juis uit Afrikaans vir “skolier” afgelei. “Scholar” beteken eintlik in Engels na ‘n geleerde persoon soos ‘n professor.
In Engels is daar dus na ‘n nuwe term gesoek, en daar’s op “learner” as teenoorgestelde van “teacher” besluit. A teacher teaches and a learner learns. Dis ‘n goeie, ondubbelsinnige Engelse term.

Om egter die doodgoeie Afrikaanse “leerling” met ‘n anglisistiese “leerder” te vervang, maak geen sin nie. Ook juis omdat “leerder” in Afrikaans boonop dubbelsinnig is. ‘n Onderwyser leer die klas en die klas leer by die onderwyser. Beide is dus “leerders”.

Ten spyte daarvan dat ongeletterde onderwysburokrate die term “leerder” gebruik, behoort mense wat iets van die taal weet, steeds “leerling” te gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.