Slag van Majuba herdenk met feesnaweek

Die Slag van Majuba. Foto: www.wikipedia.org/Richard Caton Woodville, Jr.

Die Slag van Majuba. Foto: www.wikipedia.org/Richard Caton Woodville, Jr.

Die historiese Slag van Majuba word vanjaar van 26 tot 28 Februarie herdenk by die berg Majuba naby Volksrust in Mpumalanga.

Die Slag van Majuba vertel die verhaal van die destydse Transvaalse Boere se oorwinning oor die Britse magte in die laaste veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog by Majuba op 27 Februarie 1881.

Die veldslag het gevolg nadat Transvaal in 1877 as Britse kolonie geannekseer is. Nadat die Boere die anneksasie vir drie jaar teegestaan het, het ongeveer 10 000 Boere in Desember 1880 by Paardekraal (Krugersdorp) vergader en besluit om tot ʼn vryheidstryd oor te gaan.

Van die 405 Britte wat betrokke was by die Slag van Majuba, het baie min ongedeerd uit die slag getree. Dié veldslag staan bekend as een van die grootste verleenthede vir Brittanje.

Van die 350 Boere wat in die slag geveg het, is slegs twee dood. Ná afloop van die slag is die Suid-Afrikaanse Republiek se vryheid met ’n vredesverdrag weer herstel.

Besoekers wat die naweek se viering bywoon kan hulle regmaak vir ’n skyngeveg wat deur die Dundee Die Hards en die Bittereinder-kommando aangebied word. Ander items op vanjaar se program sluit in volkspele, ʼn tradisionele Boeredans en stalletjies met ʼn verskeidenheid peuselhappies en ander produkte. Vir die jongspan is daar aktiwiteite wat wissel van skyfskiet tot boeresport.

Vanjaar se feesboodskap word deur Carel Boshoff, president van die Orania-beweging, gelewer.

Skryf betyds in vir die potjiekoskompetisie deur Roelie Scheepers te bel by 082 549 8229. Bespreek by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina Marais ·

Lekker-lekker! Sien julle daar! Volgende Woensdag begin ons 1000km-tog na Majubaberg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.