Só lyk Mej. Wêreld SA se uitrusting

Thulisa Keyi het inspirasie vanaf traditionele Xhosa patrone en kleure gekry vir haar rok (Foto: Verskaf)

Mej. Wêreld Suid-Afrika, Thulisa Keyi (26), het vandag vir die eerste keer die uitrusting wat sy by die Mej. Wêreld-kompetisie gaan dra, gewys.

Keyi, van Oos-Londen in die Oos-Kaap, sal Suid-Afrika op 8 Desember by die 68ste Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie in Sanya, China, verteenwoordig. Deelnemers van 117 ander lande sal ook aan dié kompetisie deelneem.

Keyi is vroeër die jaar as Mej. Wêreld Suid-Afrika gekroon en Tamaryn Green as Mej. Suid-Afrika, wat later die jaar aan die Mej. Heelal-kompetisie sal deelneem.

Keyi vertrek later die week na China. Sy vertel dat daar baie voorbereiding is om te tref voor sy die Mej. Wêreld-verhoog kan aandurf.

“Daar is nog baie om te doen, maar ons kom daar. Uit ʼn fiksheidsoogpunt is Letshego Zulu my afrigter, en dit sal my help in die sportkategorie van Mej. Wêreld. Vir die talentafdeling gaan ek dans, en ek word afgerig deur Ryen Hignett,” het sy gesê.

Adé van Heerden se Mej. Wêreld-uitrusting in 2017 (Foto: Facebook)

Keyi se tradisionele uitrusting, wat bestaan uit ʼn eenvoudige swart rok met een lang swart-en-wit kraletjie-mou wat tot op die vloer strek, is heelwat anders as dié van Adé van Heerden, wat Suid-Afrika in 2017 by Mej. Wêreld verteenwoordig het. Van Heerden se uitrusting het heelwat negatiewe kommentaar op sosiale media uitgelok.

Keyi het gesê sy is mal oor die rok wat sy in die tradisionele afdeling gaan dra, en dat haar rok vir die finaal ook eenvoudig, maar elegant sal wees.

Die ontwerper van Keyi se rok, Biji Gibbs, het gesê hulle wou iets eenvoudig, noupassend, treffend en elegant maak.

“Ek het vir Thulisa gevra om vir my voorstelle van ontwerpe waarvan sy hou en ook patrone wat vir haar persoonlik en kultureel baie beteken, te stuur. Dit is ʼn wonderlike manier om ʼn sintese van my vermoëns met die siel van die persoon wat die rok gaan dra, te meng,” het Gibbs gesê.

Thulisa Keyi het inspirasie vanaf traditionele Xhosa patrone en kleure gekry vir haar rok (Foto: Verskaf)

Thulisa het vir Gibbs tradisionele Xhosa-inspirasie gestuur, wat meestal swart-en-wit krale en treffende patrone en strepe bevat. Haar kompetisie-afrigter, Werner Wessels, het met die idee van die lang mou vorendag gekom.

“’n Skoonheidskompetisie is nie die plek vir ʼn vervelige rok nie, so ek sit gewoonlik ʼn ongewone afwerking of interessante detail by om die rok ʼn dramatiese effek op die verhoog te gee. Iets aan die rok moet mense weer laat kyk of na hul asem laat snak,” het Gibbs gesê.

Green sal op 17 Desember in Bangkok, Thailand, aan die Mej. Heelal-kompetisie deelneem, waar die huidige Mej. Heelal, Suid-Afrika se Demi-Leigh Nel-Peters, die nuwe wenner sal kroon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andrea ·

Wat n pragtige uitrusting. Voorwaar elegant. Beter as verlede jaar se Shaka-Zulu kostuum.

Seeskulp ·

Thulisa, jy lyk pragtig in jou stunning rok. Voorspoed met die kompetisie en geniet elke oomblik daarvan.

Annamarie Olivier ·

Hoekom neem sy deel as sy reeds Mej Wereld is ek verstaan nie die berig nie.

Annelize ·

Pragtige uitrusting, stylvol en elegant. 2017 se uitrusting was iets om bitterlik aan die ween oor te gaan. En arme Ade moes maar haar kop hoog hou, en dis wat ek nou weer klas noem.

Helena ·

Dis nou regtig pragtig en iets besonders, applous aan haar en die ontwerper.

Kitty ·

Stunning, elegant,pragtig! Geluk aan die ontwerper! Jy maak SA trots.

JPD ·

Soos wat ek verstaan het is daar twee Mej SA’s gekroon; een om aan Mej Wêreld deel te neem en een aan Mej Heelal. En sy is gekies vir die Mej Wêreld kompetisie.

SOPHIA VORSTER ·

Absoluut elegant en ‘n asemrowende mooi uitrusting! Ek glo jy gaan Suid-Afrika weer trots maak met hierdie uitrusting!! Baie sterkte en ek hoop jy wen!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.