Só lyk plan B as nooddienste nie betyds opdaag nie

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander nooddienste word gereeld oorweldig deur noodoproepe. Wanneer elke verbygaande minuut die verskil tussen lewe en dood kan maak, is dit van kritiese belang vir Suid-Afrikaners om ʼn plan B gereed te hê, ingeval noodpersoneel nie betyds opdaag nie.

Volgens brigadier Vishnu Naidoo, afdelingshoof vir korporatiewe kommunikasie by die SAPD, ontvang die 22 inbelsentrums, wat landwyd deur die 10111-diens vir misdaadverwante oproepe gebruik word, ʼn gemiddeld van 29 499 oproepe per dag. Dit is nagenoeg 20 oproepe per minuut!

ʼn Kommerwekkende aantal van hierdie oproepe is fop-oproepe – iets wat krimineel strafbaar is – wat die situasie verder vererger deur kosbare tyd en hulpbronne te vermors.

Verdere uitdagings, wat die SAPD moet oorkom, sluit volgens Naidoo onvolledige adresbesonderhede, ʼn versperring of vertraging op die roete na die toneel, voertuie wat nie toegerus is vir sekere terreine nie en ʼn algemene tekort aan polisiehulpbronne in.

“Dit is duidelik die SAPD en ander nooddienste verkeer onder geweldige druk met beperkte hulpbronne en vertragings om by ʼn toneel uit te kom, is dikwels onafwendbaar,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Wanneer ʼn krisis jou tref, is dit noodsaaklik om te weet watter ander kanale jy moontlik kan gebruik om hulp te ontbied.”

Sy gee die volgende wenke om beter voorbereid te wees op noodgevalle:

  • Hou ʼn kontaklys van noodpersoneel byderhand (dokters in jou omgewing, die brandweer, private nooddiensverskaffers, loodgieters en elektrisiëns) ingeval die owerhede nie vinnig genoeg kan reageer nie.
  • Maak seker jou huishulp het ʼn noodtelefoon om te gebruik en nommers om te bel.
  • Wanneer jy die SAPS of ander nooddienste bel, maak seker jy het ʼn gedetailleerde beskrywing van die voorval en volle adresbesonderhede byderhand.
  • Maak seker jou huis- of erfnommer is duidelik sigbaar en stel die owerhede in kennis wanneer ʼn straatnaam nie duidelik aangedui word nie.
  • Maak gebruik van slimfoon-apps wat sleutelkontakte in kennis kan stel wanneer jy in ʼn noodsituasie verkeer.
  • Wees deel van ʼn gemeenskapforum op sosiale media, waar inligting gedeel word oor moontlike kriminele aktiwiteit en ander gevare.
  • Wees deel van ʼn kitsboodskapgroep in jou kompleks of area.
  • Stoor jou bure se kontakbesonderhede op jou foon of skryf dit êrens neer. Maak seker jy weet watter voertuig hulle besit, sowel as wie veronderstel is om by hul huis te wees en wie nie.
  • Dring aan op streng reëls van jou kompleks se beheerliggaam wat vereis dat besoekers en kontrakteurs fyn gekeur en geïdentifiseer moet word.
  • Dring daarop aan dat sekuriteitspersoneel goed opgelei is en deeglik is in die voltooiing van besoekersregisters.

Die SAPD beveel ook aan dat jy die telefoonnommers van die naaste polisiestasie en mediese nooddienste byderhand het, dat jy probeer om 08600 10111 as alternatief vir 10111 probeer skakel en dat jy 112 skakel wanneer jy van jou selfoon bel.

“Moenie wag totdat jy in ʼn noodsituasie verkeer om ʼn plan B aanmekaar te slaan nie. Maak eerder nou dadelik seker dat jy voorbereid is – dit kan jou lewe of dié van iemand wat jy liefhet red,” het Twilley bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

anneli ·

wil net noem dat as jy 10111 vanaf selfoon bel kom jy by enige polisiestasie landswyd uit. Vind uit wat is die landlyn as jy vanaf selfoon bel.

marlyn ·

Kan ek voorstel dat jy 112 bel die operateur daar sal jou vra wat jou nood is medies of polisie en watter stasie jy soek sal ook voorstel dat jy hul se dis dringend wat soms wil hul mens nie deursit ni want dis glo nie so noodgeval nie! In my opinie is die mense wat daar antwoord nie opgelei om te onderskei wat is belangrik of nie!

Hettie ·

Wat van dowe mense wat nie foon kan bel nie???? Nodig wat kan op whatsapp of sms gebruik!!!!!

Marc ·

O Hettie, die telefoon is vir my as dowe mens ‘n reuse doring in die vlees. Daar is talle kere waar ‘n mens niks anders kan doen as om te bel nie. Ek het al met DEAFSA daaroor probeer praat maar hulle ignoreer ‘n mens net. Ek wens so iemand kan iets doen daaromtrent.

Henk ·

Hierdie advies is baie optimisties. Met die stand van ons polisie is jy veel beter af om self ‘n plan te maak – kry eder ‘n wapen en leer om dit te gebruik. En leer tog noodhulp as jy nog nie het nie en hou ‘n paar verbande etc. byderhand. Dis ‘n baie meer realisties benadering.

charlene ·

Ek ken die mense belowe jou kanse is grooter om die UK lotto te wen as wat iemand die 10111 nommer optel – en jou kanse dat die polisie stasies (direkte lyk) hulle fone optel is 1 uit 3 000000!! Jammer maar bel eerder `n vriend, hulle sal eerder ant en kom help. Die polisie, het sê hulle het nie nou voertuie nie of “please hold”
Al watse nood nommers iets werd is, is Netcare and Bestcare – hulle antwoord en hulle vat nie `n sunday stroll na waarook al nie. Hulle probeer in tyd daar aannkom, Selfde met Pra Wes se brandstasie – hulle weet hoe om te werk.

Veritas ·

Charlene ons moet nie nie so maklik veralgemeen nie. Twee jaar gelede het my suster, my gebel toe sy tuis gekom en gevind het dat daar inbrekers in die huis is. Ek was op daardie stadium sowat 80 km daarvandaan en het haar aangeraai om op die sypaadjie te wag terwyl ek die polisie skakel. Ek het 10111 vanaf my selfoon geskakel en binne 10 minute was daar drie polisievoertuie van Brooklyn op die toneel. Ongelukkig was die inbrekers toe reeds weg met ‘n paar kameras en ‘n skootrekenaar. Die res van hul buit het op die agterstoep agtergebly.

Anita ·

Die personeel in die oproepsentrum moet beter opgelei word. Ons het Sondag ‘n geval in ons woonbuurt gehad waar ‘n 15mnde oue kind opgehou asemhaal het. Die straatnr is drie keer deurgegee as 83, die paramedikus het dit as 18 gekry vd oproepsentrum af. Dit kan die verskil tussen lewe en dood beteken. Ongelukkig is die kind oorlede

Van Rooyen ·

Ek is nie die paranoïese tipe nie, maar ek glo dat ‘n mens altyd paraat moet wees en ‘n minimum vlak van voorbereiding ten opsigte van moontlike krisisse moet handhaaf. Google gerus ‘prepping’ of ‘preppers’ en jy kom af op heelwat webwerwe waar handige raad ten opsigte van paraatheid verskaf word. Heelwat van hierdie raad het te make met selfhelp – iets wat Solidariteit tereg voorstaan. Gaan kyk ook op Solidariteit se Kragdag webwerf vir verskaffers van selfhelp produkte.

Idee ·

Dankie vir die berig, en skryf asb gereeld sulke berigte oor hoe ons beter voorbereid kan wees op noodgevalle. Iets oor hoe om by gemeenskapsforums betrokke te raak, of te stig, gemeenskaps sosiale media groepe, apps ens sal ook wardeer word. Die land is gevaarlik en die polisie wil nie help nie, so ons moet self leer hoe.

Lance ·

Ek sal nie vergeet nie ….moes straat naam seker 5x spel …dit na die eerste persoon net omgedraai het en aanhou praat het in 1 van die 11 tale en ek maar moes neersit en WEER bel ….my ondervinding was pateties ..het selfs nog voor die nooddienste opgedaag ….en toe die brandslag uiteindelik gekoppel was het dit soos iets uit n cartoon gelyk toe die pyp 2x losspring ….intussen brand die plek ….altwee dienste was maar pateties om minste te se

marlyn ·

Ek dink n goeie ding sal wees as julle dalk jul sektor bevelvoerders se sel en kantoor nommers kan kry dis makliker as 10111 en vinniger ook vir die mense wat doof is hulle het almal whatsapp so dit kan dalk werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.