Só sê ‘Beeld’ se Barnard Beukman

Barnard-Beukman

Foto: Facebook/Barnard Beukman

Voordat Barnard Beukman redakteur van Beeld geword het, was koerantlees vir hom ʼn vorm van stiltetyd. Nou sê hy, is dit vir hom belangrik om deur die koerant te wérk voordat die dag begin. “Ek kry hom afgelewer, en enige tyd van 05:30 af gaan sit ek met ʼn koppie koffie en beskuit by ʼn tafel en werk deur hom sodat ek voorbereid is as ons die koerant later die dag gaan bespreek.”

As redakteur kry Barnard met alle aspekte van nuus te doen en ʼn mens wonder of dit moontlik is om die nuus by die werk te laat en of dit saam hom huis toe gaan.

“Joernalistiek is ʼn veeleisende soort ambag wat nie tydgrense ken nie en jou vir 24 uur kan insluk. Dit is iets wat ʼn mens moet probeer reguleer.”

Barnard sê sy seun, Eduan, sy dogter, Lidia-Antoinette, en sy vrou, Ulricka, geniet dit om nuusgebeure te bespreek, maar hulle ruim genoeg tyd in om weg te breek van die werkomgewing.

Barnard sê dit was lekker om in die Wes-Kaap groot te word, maar dat hy Johannesburg se gemeenskap geweldig baie geniet. “Daar is ʼn gesegde wat sê: Kapenaars wat in Gauteng woon praat altyd van wanneer hulle teruggaan, maar hulle doen dit nooit nie.”

Luister na die podsending om te hoor vir watter rugbyspan Barnard skree.

Barnard het sy loopbaan in 1989 as algemene verslaggewer by die Oosterlig begin – ʼn Afrikaanse middagblad in Port Elizabeth wat mettertyd oorgeneem is deur Die Burger as Burger-Oos-Kaap. Hoewel die beginsels van joernalistiek dieselfde gebly het, het joernaliste destyds uitdagings van hul eie gehad.

“Die selfoon het seker eers so drie jaar gekom nadat ek begin werk het, dit was ʼn kwessie van baie goeie kontakte hou – ʼn mens het kontakte se kantoortelefoonnommers, huistelefoonnommers en strandhuistelefoonnommers gehad. Die een goeie ding was dat daar baie meer druk op ʼn mens was om vertrouensverhoudings met mense te bou en dat hulle jou as joernalis kon vertrou deur hulle private nommers vir jou te gee. As jy hulle met integriteit hanteer het, het jy toegang tot hulle gehad.”

Sedertdien het die elektroniese media die speelveld ingrypend verander.

“Elke minuut is daar nuwe nuus en daar is druk op joernaliste om dit onmiddellikheid te volg – daar is nie altyd die tyd om tyd met mense te gaan deurbring nie. Deur net te probeer inbel om stories te kry of net gou iets op te soek is ʼn mens geneig om die diepte te mis en ook groot stories te mis. Uiteindelik is dit daardie vertrouensverhouding tussen die joernalis en die persoon wat die groot nuus na vore bring – en dis een van ons uitdagings.”

Wanneer ʼn mens vir jare as joernalis op die spoor van stories was en dan die redakteurstoel moet inneem, moet dit tog ʼn aanpassing wees. Barnard meen dit is wel so is, maar dat sy rol nou net anders as dié van joernalis is. “Natuurlik sal daar daardie brandende behoefte wees – niks keer ʼn redakteur om ʼn storie te gaan doen nie, maar ek sien dit nie as my primêre rol nie.”

Luister na die podsending om te hoor wat Barnard se visie vir Beeld is.

Barnard se gunstelinge:

  • Kos: ʼn Lekker matige kerriegereg
  • Boek: ʼn Goeie biografie
  • Musiek: Klassiek en opera
  • Stokperdjies: Lees en tyd saam met sy gesin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Emile ·

Wat gaan Beukman doen om Beeld se vertrouensbreuk, wat Adriaan Basson met NWU (Potchefstroomkampus) veroorsaak het, te heel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.