So van monumente, standbeelde en gedenktekens gepraat

Die skuif van die reuseletters was ’n allemintige taak. (Foto: Verskaf.)

Deur Annami Simon

Die eg-Bolandse en pragtige dorp Franschhoek kan jy nie sommer misry nie. As jy verby tallose wynplase, restaurante, winkels, galerye en ensovoorts-plekkies tot by die wêreldbekende monument ry, is jy reeds aan die voet van die Franschhoekpas. Kyk jy bergop, onthou jy dat jy die klipnaam al van duskant Le Bonheur opgemerk het en heel waarskynlik by jouself gedink het dit lyk maar net soos die een by Goudini of Laingsburg. Maar nou is jy veel nader en merk dofweg nóg ʼn F vóór die klipnaam FRANSCHHOEK. Het die mense dan destyds ʼn spelfout te laat agtergekom?

Lank terug, toe ek nog in Franschhoek gebly het, het die mense gesê Jan Roux, oftewel Jan Patat, ken die storie, en siende dat ek toe net ʼn klipgooi van hom af gebly het, het ek gaan uitvra.

“So lank terug as 1911 het die Tuinbouvereniging – die destydse voorloper van die Landbouvereniging – besluit om ons dorp se naam met klippe teen die berg uit te pak. Teen daardie tyd was dit nie meer Olifantsfontein nie, maar Franschehoek,” vertel Jan.

Jan se pa, Joppie Roux, het die klip aan die rol gesit en saam met sy span plaaswerkers is hy bergop. Mens kan letterlik sê dat geen steen onaangeraak gebly het met die uitsoek en heen-en-weer-rol van al wat ʼn groot klip is om hierdie monumentale naam gepak te kry nie. Om nie eens te praat van die uitmeet nie, en dit vir ʼn naam met nogal twee letters meer as Laingsburg.

“Ná so bietjie langer as ʼn week se sweet en klippe kou, is die klipbaken toe klaar, witgekalk en al. In 1911 het mense nog die woorde ‘vinnig’ en ‘werk’ verstaan.

“Maar toe kom die lollery in 1972. Siende dat niemand meer teen daardie tyd van Franschehoek gepraat het nie, was die spelling verkeerd en die Rapportryers reg met hul besluit om die E uit te haal.”

Maar mens haal nie sommer net ʼn E uit ʼn ry sorgvuldig gepakte letters, so groot soos kraalmure nie. En hoe gemaak met die gaping tussenin, want Franschhoek is tog sonder twyfel een woord. Toe besluit Jan Patat as die FRANSCH dan nader aan die HOEK geskuif moet word, dan is hy die man daarvoor, en kort voor lank volg hy in sy oorlede pa se voetspore en is hy met ʼn span van sy eie werkers bergop.

“Ons het links van die HOEK begin en teruggewerk: die E het ons in ʼn H verander, en waar ons nié kon verander nie, moes ons maar die klippe van die reuseletters fisiek van elkeen se jare lange plek verskuif.”

Kinderspeletjies was dit beslis nie, en om heeltemal van die oorspronklike F ontslae te raak, sou tydmors en letterlik een te veel wees. Toe los Jan-hulle maar die lot klippe van die ekstra F en hoop die bosse sal dit met die jare toegroei, wat dan ook gebeur het.

“O ja,” voeg Jan by, “die klipletters is oorspronklik met kalk wit geverf en later is PVA-verf gebruik. Maar die verf het die afgelope paar jare te duur geword en nou moet ons maar weer kalk gebruik. Ja, die Rapportryers is steeds verantwoordelik vir die instandhouding daarvan en elke paar jaar word die bosse rondom die klipletters uitgekap en dan verf ons maar weer.”

“En hoe groot is een so ʼn letter dan nou?” wou ek weet.

“Wag,” sê Jan, “ek sal dit gou vir jou gaan meet, anders lieg ek dalk.”

ʼn Paar uur later is hy met sy meetgoed, sy seun Robert en my seun, Roelof, daar weg. Bergop. En ek huis toe. Stomverbaas was ek toe die twee seuns heelwat later die gekreukelde papiertjie met die mates in my hand stop: Die boonste dwarsstreep van die F is ʼn hele 10 meter en die regaf streep 18,30 meter! O ja, en die twee H’s is so groot soos twee rugbypale wat omgeval het. Maak maar jou somme: twaalf letters van ongeveer 10 m elk in breedte (met die nodige spasies tussenin) gaan ʼn allemintige 150 m lange woord spel.

“En hoekom het die metery so lank geneem?” vra ek. “Ons het gemik vir die F, maar toe ons bo kom, sien ons dis die E!” vertel die twee laggend.

Nooit gedink skryf kan sulke harde werk wees nie. En hopelik sal die monument- en standbeeldplunderaars besef dat dié mooi dorp se naam beslis nie ’n steen des aanstoots is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Interessante storie!
Jan ‘Patat’ Roux en sy pa, Joppie, is ware helde.
Die pragtige Franschhoek sou nooit dieselfde wees sónder daardie Reuse Wit Letters nie.
Sal nou met nuwe oë daarna kyk … eendag weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.