Só werk alleenmense se breinchemie

stories-lees-pexels

Foto: Pexels.com

Deur Nicoline de Wet

Ongeveer 25% van die bevolking is nie groepsmense, spanmense of sosiale vlinders wat daarvan hou om oor die weer te praat nie. Hulle verkies om alleen in die donkerste hoekie van die partytjie hul glasie wyn te geniet terwyl hulle alles en almal om hulle kan waarneem. Hulle is alleenmense, introverte wat moet vrede maak met die sosiale stigma wat aan hulle kleef, die feit dat hulle nie erkenning geniet nie, dat etikette soos neuroties, apaties, skugter, teruggetrokke, menssku, eienaardig, onbekwaam en ʼn frats van die natuur aan hulle gehang word.

Maar wat sê beskikbare navorsing oor hierdie eienaardige spesie bekend as introverte, alleenmense, die stilles?

Introverte en alleenmense is nie mensehaters nie. Hulle hou van mense, maar wil nie altyd mense om hulle hê nie. Hulle beskik nie oor die gawe om oor koeitjies en kalfies te klets nie – ʼn voorvereiste vir die meeste vorme van sosiale interaksie. Hulle verkies ʼn klein intieme vriendekring of om alleen te wees. Hulle is selde verveeld wanneer hulle alleen is, maar dikwels in ʼn groep. Sosiale interaksie put hulle uit en hulle het stilte nodig om te herlaai.

Ekstroverte, aan die ander kant, het sosiale interaksie nodig omdat dit hulle weer met nuwe energie vul. Die verskil tussen introverte en ekstroverte lê dus in die wyse waarop hul energiebronne herlaai word: introverte herlaai wanneer hulle alleen is;  ekstroverte, aan die ander kant, het ander mense nodig om te herlaai.

Introversie word dikwels met skaamheid verwar, maar dit is nie dieselfde ding nie. Skaam mense vrees veroordeling deur andere, introverte nie noodwendig nie.

Introverte is nie veroordelend of eng nie. Hulle is net stil.

Die meeste van hulle is nie noodwending neuroties, angstig, bekommerd, kwaad, jaloers, skuldig of depressief nie – hulle is net stil.

Om te luister is een van hul sterkste vaardighede en ʼn enorme bate.

Introverte is introverte, nié omdat hulle besluit het om stil te wees nie. Die chemiese samestelling van hul brein predisponeer hulle om stilte en alleenheid te verkies. Hulle is na binne gerig, verwerk inligting en gevoelens geluidloos binne, in teenstelling met luidrugtige ekstroverte.

Hulle word maklik oorgestimuleer. Weens hul breinchemie kan hulle nie die oorweldigende stimulusinsette hanteer wat die ekstrovert kan nie. Hulle smag na stilte en nie na die sosiale arena nie. Waar die beloningsnetwerke van ekstroverte deur eksterne stimuli geaktiveer word, gebeur dit by die introvert intern.

Navorser Marti Olsen Laney verduidelik die verskil aan die hand van twee kragtige chemiese stowwe wat in die brein voorkom, naamlik dopamien en asetielcholien. Dopamien veroorsaak gevoelens van genot en welbehaaglikheid, veral wanneer risiko’s geneem of nuwe ervarings beleef word. Asetielcholien, aan die ander kant,  se werking is meer subtiel en dit laat ʼn mens ontspanne en tevrede voel.

Ekstroverte is minder sensitief vir dopamien, en het meer nodig om gelukkig te voel. Hoe meer hulle praat, beweeg, nuwe gesigte sien en nuwe ervarings beleef, hoe meer dopamien word vrygestel en hoe gelukkiger voel hulle. Introverte, aan die ander kant, is sensitief vir dopamien en te veel laat hulle oorgestimuleer en angstig voel. Wanneer hulle lees of konsentreer, skei hul brein egter asetielcholien af, wat hulle rustig en ontspanne laat voel. Ekstroverte, aan die ander kant, is skaars bewus van die werking van asetielcholien.

Introverte kan hul eie beste vriend of grootste vyand wees. Die goeie nuus is dat hulle gewoonlik hul eie geselskap geniet, ʼn eienskap wat ekstroverte hulle dikwels beny. Introverte kry vertroosting in alleenwees en weet hoe om hulself te kalmeer. Selfs hul vermoë om krities na hulself te kyk is dikwels waardevol. Hul krag lê in hul innerlike lewe.

Introverte kan asosiaal voel indien hulle gedwing word om ʼn partytjie by te woon wat hulle nie interesseer nie. Maar, vir hulle hou die geleentheid geen belofte in van betekenisvolle interaksie nie. Om die waarheid te sê, hulle weet gewoonlik dat die geleentheid hulle meer alleen en afgesonder gaan laat voel. Hul sosiale voorkeur is om by die huis te bly en tyd met een goeie vriend deur te bring of hulself te verdiep in die woorde van ʼn skrywer. Vanuit die partytjiedier se perspektief lyk dit of die introvert asosiaal is, maar feit bly, introverte tree net op ʼn heel ander wyse in interaksie. Dit is in elk geval ʼn goue lewensreël dat enige omgewing wat jou gedurig sleg laat voel oor jouself, die verkeerde omgewing vir jou is.

Introverte raak maklik gedreineer deur interaksie, maar hulle kan dit geweldig geniet om die scenario rondom hulle dop te hou.

Hulle deel ʼn liefde vir idees en ʼn begeerte om te verken met minimale onderbrekings. Introverte verlang wel insette, maar hulle verkies om dit te kry deur te lees, navorsing te doen of diepsinnige gesprekke te voer eerder as deur ongefiltreerde pratery.

Introverte is geneig om probleme te internaliseer, met ander woorde hulle soek die bron van die probleme binne hulself, en blameer hulself. Introverte kan ook eksternaliseer, maar dit is baie makliker om die probleem “binnenshuis” te hou. Internaliseerders is geneig om betroubaar en verantwoordelik te wees, maar kan baie hard op hulself wees.

Wanneer jy weer met hierdie vreemde spesie in aanraking kom, hou in gedagte dat hulle nie snaaks probeer wees, hoogmoedig of neus in die lug is nie. Om stil te wees is bloot hul “normaal”, net soos wat luidrugtigheid die esktrovert se “normaal” is.

Bronne:

  • Lane, Marti Olsen. The Introvert Advantage. 2002. Workman Publishing Company. USA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JS ·

Ek wens so dat bestuurders en base dit wil begryp dat kantoor etes en funksies regtig ‘n straf is vir baie introverte. Ek werk in ‘n tegniese veld waar daar tipies meer as 25% introverte is, en hulle kan nooit ophou karring aan jou om die goed te wil bywoon nie. Dit beteken nie ek’s nie ‘n span speler nie, ek verpes bloot groot byeenkomste – dis bloot vervelig (en die musiek is dikwels te hard) en my stokperdjies is BAIE interessanter. Introverte is dikwels ook die mense met die diep tegniese kennis, as jy hulle wil beloon gee hulle tyd af of ‘n geskenkbewys, maar moenie sulke mense probeer forseer om funksies by te woon nie.

MV ·

Die artikel beskryf my lewe 100% Ek wens elke ouer, onderwyser, werkgewer of familie kan dit lees. Ek kwalifiseer vir senior burger en het nog steeds die titel van “eienaardige, hoogmoedig, kwaai” om my nek omdat ek nie soos my susters, neefs of niggies die tipiese ekstrovert kan wees. Ek het baie waarde uit die artikel geput om te weet ek is nie so vreemd as wat dit aan my voorgehou is en dat ek ook goeie kwaliteite het om te bied en dat ek trots daarop kan wees.

Margaret ·

Ja, stem saam met alles behalwe dat introverte nie noodwendig stil is nie. Hulle kan baie luidrigtig wees maar in klein dosisse. Ek stem veral saam dat introverte partytjies en kleinpraatjies baie voorspelbaar en vervelig vind.

Blom ·

Ek het opgelees dat jy n ambivert ook kry n Ambivert is n introvert wat n ekstrovert is tussen mense wat hy/sy ken Ek weet nie of dit n nuwe woord is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.