Sorg só vir jou vel en hare dié somervakansie

Hannon Bothma (Foto: Verskaf)

Die somervakansie is om die draai en vir baie mense beteken dit tyd in die son, op die strand en by partytjies. Maar die lekkerte van vakansie kan ʼn negatiewe uitwerking op jou vel, oë en hare hê, veral wanneer jy baie tyd in die son deurbring.

Die bekende skoonheidsghoeroe, Hannon Bothma, oftewel “Glam Guru”, gee skoonheidswenke vir die somervakansie.

“Die son is die hoofoorsaak van vroegtydige veroudering. Dit laat die onbeskermde kollageen in jou vel afneem en dan verloor jou vel elastisiteit. Die vel raak losser rondom die skedel en dit maak veroudering meer sigbaar,” het Hannon gesê.

Hannon waarsku ook dat die son nie net veroudering meer sigbaar maak nie, maar ook pigmentasie of selfs sonskade veroorsaak.

Hare

Volgens Hannon is dit baie belangrik om mooi na jou hare om te sien wanneer jy aan die son blootgestel is, aangesien dit kan afbreek.

“Tegnies is hare eintlik soos been, dit word deur kalsium saamgestel. So, as jy lank in die son gaan wees, kan dit baie bros raak. Dit kan dan breek, droog word en kleur verloor,” het hy gesê.

Hannon stel voor jy kam ʼn opknapper deur jou hare voor jy op die strand gaan lê of swem.

“ʼn Opknapper is meer suur op die pH-skaal, so dit voorkom dat die kutikulêre skag oftewel ‘skille’ op jou hare oopmaak. As dit nie oopmaak nie, sal vogverdamping en kleurverlies nie so vinnig plaasvind nie.”

Die beste manier is om jou hare in ʼn poniestert of bolla vas te maak en dan só op die strand te sit. “Wanneer jy klaar geswem het, spoel jou hare af, en sit weer opknapper op. Dit sal sorg dat jou hare nie so vinnig uitdroog nie,” het hy gesê.

Vel

Hannon stel voor dat jy eerder voorkomend optree wanneer dit by jou vel kom.

“Moet nooit, ooit uit jou huis gaan sonder om sonbrandroom aan te sit nie! Maak nie saak of dit winter of somer is nie. En die sonbrandroom moet ʼn SBF van minstens 30 hê. Jy kan nooit genoeg sonbrandroom aanwend nie.”

Dit is belangrik dat jy na jou veltipe kyk wanneer dit by sonbrandroom kom. As jy ʼn ligte vel het, moet jy dit meer gereeld of ʼn hoër SBF-sonbrandroom aanwend, en wanneer jy ʼn donkerder vel het, sal ʼn 30-SBF voldoende wees.

Wanneer jy wel reeds sonskade opgedoen het, kan jy dit egter tot ʼn mate weer herstel.

“Omdat die son jou kollageen afbreek, moet jy probeer om dit weer op te bou. Dit is goed om ʼn kollageenserum te begin gebruik, veral in die aande. Belê ook in ʼn goeie nagroom.

“Wanneer jou liggaam in ʼn toestand van rus ingaan, soos wanneer jy slaap, begin dit sigself herstel. Dus sal ʼn goeie nagroom bykomend help om skade te herstel,” het hy gesê.

Dit is ook belangrik om jou vel van binne af gesond te hou. “Die goue reël is altyd dat jy vir elke 10 kg wat jy weeg, een glas water per dag moet drink,” het Hannon gesê.

“Net soos jou vel, is jou oë ook uitgelewer aan sonskade. Belê in ʼn goeie sonbril,” waarsku Hannon.

“Dit is skadeliker om ʼn goedkoop sonbril te koop as om nie een te dra nie. ʼn Goedkoop sonbril laat jou pupille oopgaan, maar dit laat die strale ingaan wat jou oë beskadig.

“Koop eerder ʼn ordentlike sonbril as een langs die straat. ʼn Groter sonbril is ook gewens omdat dit die sensitiewe selle rondom jou oog ook sal beskerm.”

Twee gelukkige lesers kan elk dié geskenkpak wen.

Wen

Twee gelukkige lesers staan die kans om ʼn HANNON-gekenkpak ter waarde van R3000 elk te wen. Dié geskenkpak bestaan uit ʼn swart HANNON handsak, Black Superlash Mascara, Peachy Blusher, Eternal Red Lipstick, Liquid Crystal Styling Gel, Style Freeze Firm Hold Hairspray, Daily Sunblock Moisturizer SPF 30+, en Gentle Cleansing Facial Bar.

Wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Die kompetisie sluit Vrydag 30 November om 09:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Isabel ·

Jou produkte is fantasties, dankie dat jy die mooi met elke vrou wil deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.