Sosiale media en jou persoonlikheid

selfoongebruiker-in-restaurant

ʼn Onlangse studie het bewys dat sosiale media-gebruik direk verband hou met jou persoonlikheid en dat hóé jy dit gebruik iemand in staat kan stel om ʼn redelik akkurate persoonlikheidsoordeel te vel. Foto: Pixabay.com

Jou gebruik van sosiale media verklap baie meer van jou persoonlikheidseienskappe as wat jy dink. Net soos jou voorkeure, mode-keuses en optrede aan die wêreld wys wie jy is, vertoon die soort sosiale netwerke wat jy besoek, jou mate van aktiwiteit en wat jy daarop weergee, ook jou persoonlikheid. ʼn Onlangse studie het bewys dat sosiale media-gebruik direk verband hou met jou persoonlikheid en dat hóé jy dit gebruik iemand in staat kan stel om ʼn redelik akkurate persoonlikheidsoordeel te vel.

PR Daily het navorsing wat deur dr. David Giles van die universiteit van Winchester onderneem is, gebruik om die verskillende sosiale media- gebruikers te identifiseer. Volgens Giles is jou persoonlikheid ʼn groot bepalende faktor tot jou sosiale media- gebruik en wat bepaal in watter kategorie jy geklassifiseer sal word. Sosiale media- gebruikers kan ook hulself in meer as een kategorie identifiseer.

Die webwerwe buffersocial en Hashtags onderskei tussen die verskeie aanlynpersoonlikhede van dié gebruikers wat meestal inligting rakende hulself deel en dié wat inligting oor gebeure of neigings op sosiale media deel.

Die vier tipes temperamente- model stel voor dat daar oorhoofs vier soorte persoonlikhede is. Dié persoonlikhede sou elk ʼn verskillende benadering hê tot die verbruik van sosiale media en jou help om jou aanlynpersoonlikheid te identifiseer. Die persoonlikheidstipes is:

Sanguinies: Sulke persone mag moontlik warm en optimisties wees. Hulle maak maklik vriende, is baie spraaksaam, sorgvry en sosiaal. Hulle soek altyd na die lekker in die lewe.

Choleries: Sulke persone is gewoonlik egosentries en ekstroverte. Hulle is impulsief en rusteloos en fokus daarop om ʼn taak onmiddellik en effektief af te handel. Hulle mag neig tot aggressiewe optrede. Hulle hou daarvan om erkenning te kry.

Melancholies: Hulle kom baie ernstig en versigtig voor en is gewoonlik introverte. Hulle kan hulself bemoei met die wreed en leed van die wêreld. Hulle verkies gewoonlik om hul eie ding te doen.

Flegmaties: Sulke mense is privaat, bedagsaam, kalm en geduldig. Hulle soek na ʼn stil, rustige atmosfeer en streef daarna om tevrede te wees met hulself. Hulle is gewoonlik standvastig.

As jy dink jy val onder die sanguiniese persoonlikheidstipe, sal jy sosiale media só gebruik:

Ultras: Die ultras erken dat sosiale media ʼn kritiese deel van hulle lewe is. Hulle bestee gemiddeld twee ure per sessie aanlyn en loer gedurig na nuwe inskrywings en interaksie van ander gebruikers.

Pronkers: Hulle hou daarvan om aandag na hulself te trek. Dié gebruikers van sosiale media se inskrywings en foto’s lok telkens baie aandag en verkry baie kommentaar van ander gebruikers.

Vraers: Tipies soos in joernalistiek waar die wie, wat, waar, wanneer en hoekom belangrik is, so vra dié internetgebruikers vrae aan mede-sosiale media- gebruikers om gesprek op die net uit te lok. Dit kan oor belangrike of minder belangrike sake wees.

Ontkenners: Dié is die sosiale media- gebruikers wat ure aanlyn deurbring, maar dit aan ander ontken. Hoewel hulle die verslawing aan sosiale media ontken, is hulle rusteloos wanneer hulle nie kort-kort na nuwe inskrywings kan loer nie.

As jy dink jy val onder die choleriese persoonlikheidstipe, sal jy sosiale media só gebruik:

Tierkatte: Hulle baklei altyd en oor álles. Hierdie is sosiale media- gebruikers wat op alles kritiese kommentaar lewer, maar in wese gewoonlik baie stiller is. Hulle inskrywings handel gewoonlik oor enigiets van persoonlike goed tot landsake. Vir dié gebruikers is die sosiale media- platforms ʼn manier om spanning te verlig of om ʼn stem te hê.

Informante: Dié sosiale media- gebruikers het ten doel om inligting eerste op die net te deel. Hulle wil gewoonlik enige neiging of groot nuus eerste op hul profiel deel en erkenning daarvoor by ander sosiale media- gebruikers verkry.

Goedkeuringsoekers: Dié gebruikers loer kort-kort na hul sosiale media- profiel om seker te maak dat daar interaksie met ander gebruikers is, of ander van hulle inskrywings en foto’s hou en dit deel op die net. Dit is vir hulle baie belangrik om kommentaar uit te lok en om ‘likes’ te verkry.

As jy dink jy val onder die melankoliese persoonlikheidstipe, sal jy sosiale media só gebruik:

Spoke: Dié gebruikers wil alle besonderhede oor hul persoonlike lewe privaat hou. Hulle plaas nie nuwe foto’s of inskrywings nie, omdat dit dalk mag lei tot die openbaarmaking van enige persoonlike inligting. Daar is geen interaksie nie omdat hulle bang is vir die gevare wat sosiale media inhou.

Loerders: Die studie het bevind dat ongeveer 45% van sosiale media- gebruikers in dié kategorie val. Loerders is diegene wat bloot waarneem sonder om aktief deel te neem. Hulle lees gewoonlik nuwe inskrywings en kyk na foto’s sonder om self op te laai of kommentaar te lewer. Hulle los geen voetspoor op sosiale media agter nie.

As jy dink jy val onder die flegmatiese persoonlikheidstipe, sal jy sosiale media só gebruik:

Persoonlikheidsverandering: Dit is mense wat heeltemal verskillende persoonlikhede op die net aanneem as wat hulle in werklikheid het. Dit is om te verseker dat ander gebruikers van sosiale media nie moet weet wie hulle werklik is nie.

Geleentheidsgebruikers: Hulle is presies die teenoorgestelde van ultras en kan lag-lag oorleef sonder sosiale media. Geleentheidsgebruikers erken tog dat sosiale media ʼn plek het en belangrik is. Vir dié rede deel hulle soms nuwe inskrywings en lees dié van ander, hoewel hulle nie senuagtig raak wanneer hulle nie toegang tot sosiale media het nie.

Nes enige stelsel wat slegs kan funksioneer wanneer al sy verskeie elemente saamwerk, funksioneer die sosiale media- platforms ook met al die verskillende persoonlikhede, sê dr. Giles. Dit is belangrik om ewewig op die platforms te verseker. Sosiale media- gebruikers hoef ook nie hulself tot een persoonlikheidskategorie te beperk nie omdat hulle kan groei en meer of minder interaktief met ander verbruikers kan raak.

Bronne:

https://www.hashtags.org/platforms/8-kinds-of-social-media-personalities-which-are-you/

http://www.truity.com/blog/you-are-what-you-post-what-your-social-media-engagement-says-about-your-personality

http://www.prdaily.com/Main/Articles/12_types_of_social_media_personalities_14296.aspx

https://blog.bufferapp.com/social-media-personality-type-quiz

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.