Spaar só vir ʼn beter toekoms

geld-spaar-finansies-berekeninge

Dit is juis nou nog belangriker om te kyk na innoverende maniere om jou geld te spaar en te laat groei. Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Suid-Afrikaners is berug daarvoor dat hulle baie min spaar. Die huishoudelike besparingskoers waarteen plaaslike huishoudings in die laaste kwartaal van 2017 gespaar het, was slegs 0,2%.

Yolande Naudé, hoof van fondsnavorsing en portefeuljebestuurder by die beleggingsmaatskappy Citadel, sê dit is een van talle strukturele probleme in die plaaslike ekonomie. Ander probleme wat struikelblokke vir Suid-Afrika se ekonomiese groeipotensiaal is, sluit die swak onderwysstelsel, beperkinge op medium- en kleinsakeondernemings, swakhede by staatbeheerde ondernemings en die moeilike omstandighede waarin sake in Suid-Afrika gedoen word, in.

“Alhoewel die besparingskoers ʼn verbetering op die afgelope drie jaar was, is dit steeds ver onder die vlak wat benodig word om hoër beleggingsbesteding te ondersteun. Dit vergelyk ook sleg met ander ontluikende markte sowel as ontwikkelde lande.

“Suid-Korea het byvoorbeeld ʼn huishoudelike spaarkoers van 8,8%, Mexiko is 20,6%, die VSA is 2,8% en Euro-lande is 12,2% en die Verenigde Koninkryke is 5,3%.

“Dit is spaargeld wat die kapitaal vir beleggingsbesteding skep en sonder belegging sal ʼn ekonomie nie nuwe kapasiteit skep en infrastruktuur vir toekomstige groeipotensiaal bou nie.”

Suid-Afrikaners sal natuurlik dadelik terugkap en vra hoe huishouding meer moet spaar in die lig van die verhoging in BTW, brandstof en stygende inflasie. Ester Ochse, ʼn beleggingsprodukspesialis van FNB, sê dit is waar ʼn mens moet spaar.

“Ons moet verseker dat ons genoeg spaar vir die toekoms. Besparing en beleggings het ʼn belangrike aspek van ons lewens geword. Meer as voorheen moet ons kyk na innoverende maniere om ons geld te laat groei.”

Ochse stel die volgende stappe voor wat jou kan help met om met jou spaarreis te begin:

1. Spaarplan

Hierdie aanvanklike stap is die belangrikste stap in die proses. Jy moet beplan, verstaan en kies waarvoor jy wil spaar. Dalk is dit vir ʼn geskenk, ʼn nuwe sonbril of langtermyndoelwitte soos onderwys of aftrede. Jou spaarplan sal jou bloudruk wees om jou spaarreis te begin.

2. Begroting

Daar is niks erger as om nie kontant byderhand te hê nie, veral in ʼn noodgeval. Maak seker jy het ʼn bygewerkte begroting wat jou daaglikse en deurlopende uitgawes duidelik uiteensit. Hierdie begroting moet maandeliks bygewerk word.

3. Doelwitte

Maak seker jou kort- en langtermyndoelwitte is duidelik gedefinieer. Dit help jou om jou prioriteite te identifiseer en te onderskei tussen behoeftes, begeertes en verantwoordelikhede.

4. Navorsing en uitvoering

So jy het beplan en begroot, nou moet jy besluit waar jy die geld wil belê sodat dit kan groei. Kyk veral na die rentekoerse wat op spaar- en beleggingsprodukte aangebied word. Indien jy vir ʼn langtermyndoelwit spaar, kan jy ʼn vennootskap aangaan met ʼn beleggingsbestuurder wat jou sal help om die beste opbrengste op jou spaargeld te kry.

5. Oorsig

Monitor en maak seker dat jy aan jou spaardoelwitte voldoen. Dit is ʼn belangrike stap, aangesien ʼn mens maklik van jou doelwitte vergeet en meer spandeer as wat jy moet.

“Daar is geen beter tyd as nou om te begin spaar nie, dus neem die stap en maak spaargeld ʼn prioriteit in jou lewe,” sê Ochse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

honourable member ·

Soos dit nou in hierdie land gaan, gaan jy wat spaar vir die wat niks het moet bydrae.

Skepties ·

Spaar in fondse wat die kommuniste gaan afvat? Nee spaar eerder oorsee of bele in VF+ se idee vir selfbeskikking.

Potties ·

As ek nou moet begin spaar sal dit nog slegter gaan by ons huis geld is min……

gatiep ·

Jy kan geen toekoms beplan in die land nie.
As hulle jou huis wil afvat kan hulle jou geld ook afvat in banke.
Die wereldbank het klaar gese hulle ondersteun die grondgrype in SA

Casper Labuschagne ·

@Gatiep – Ek mag dalk verkeerd wees, maar ek het onlangs presies die teenoorgestelde gelees, naamlik dat die Wêreldbank sterk eiendomsreg beskou as die hoeksteen van ‘n sterk ekonomie. En dit is logies, want as daar een organisasie is wat hope ondervinding het van hoe die vernietiging van eiendomsreg tot ‘n ekonomiese ramp lei, dan is dit juis die Wêreldbank.

Caty ·

Dan gaan ons die wereldbank en vereenigde nasies moet oor en oor vra om ons regering te druk om eiendomsreg te beskerm.

Tilla ·

Spaar – waarmee – met die salaris wat baie van ons in die privaatsektor verdien kan jy beplan soos jy wil maar daar is niks om te spaar. Spaar is seker vir die mense wat verhogings kry. Baie mense in die privaatsektor werk jare (onder meer reeds 8 jaar) sonder ‘n enkele cent verhoging.

TIno ·

Ek sien die artikel speel mooi in die hande van selfverykende makelaars, dis nie die beste manier om te spaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.