Spieëltjie, spieëltjie…

silwerkruin-01

Silwerkruin Huis vir Bejaardes in Wellington, Wes-Kaap het onlangs ‘n Mnr. en Mev. Silwerkruin 2018 aangewys. Foto: Facebook.

Deur Annami Simon

So ʼn rukkie gelede het ek op Maroela Media gelees hoe ʼn span kenners in Engeland die “mooiste man en vrou ter wêreld” bepaal het. Dít het hulle gedoen deur die karaktereienskappe van ʼn hele paar gewilde en aantreklike glanspersoonlikhede van oor die wêreld heen deur middel van wetenskap en tegnologie saam te voeg. Toe is daar ʼn konkoksie van foto’s uit dié kortlys gemaak om uiteindelik die mooiste man en mooiste vrou ter wêreld aan die mensdom voor te hou.

Baie interessant, ja, maar onrealisties. Mooi mense is régte mense. Geslag, ras of ouderdom behoort nie eens hier ʼn rol te speel nie. En boonop is ek oortuig daarvan dat die woord “mooi” baie skakerings het.

Dit eers daar gelaat.

Vanoggend is ek uit ʼn koue Durbanville op pad na die Silwerkruin Huis vir Bejaardes in Wellington. Ek ry agterlangs, op die R302, verby Windmeul, Agter-Paarl. Die pad is stil en die landskap groen ná die milde reën.

Toe ek in Wellington uit Fonteinstraat links draai en stilhouplek soek, vergeet ek van die skadu van oud word, want die persoon wat ek gaan ontmoet, het ’n jong, ondeunde siel soos dié van ʼn student, ʼn geheue soos ʼn olifant en ʼn onblusbare humorsin. Voeg sjarme daarby en ʼn stem wat enige nooi (van kleuter tot bejaarde) se voete onder haar sal uitslaan, en jy ontmoet vir Gerhard Roux.

Gerhard is op 17 Desember 1924 op Viljoenskroon in die “Groot Vrystaat” gebore. Sy familie het ook ʼn baie interessante verbintenis met dié van ds. Andrew Murray. Maar later meer hieroor.

Ek teken in, stap die trappe op na die boonste gang met sy blink vloere en nommers en naamplaatjies op die deure weerskante van my. Ek groet hier en daar by ʼn oop deur in en hoor ʼn radio in die sitkamertjie aan die verste ent van die lang gang. Waarskynlik RSG, want die nuus word in Afrikaans gelees: “… sal waarskynlik oor ʼn paar jaar saans met maanlig op straat oor die weg moet kom”.

Net toe ek aan die deur van kamer 62 wil klop, raak die nuusleser stil. Vreemd. Dan gaan hy voort: “Julle dames besef natuurlik dat China ons vêr voor is.” Ek los die gekloppery en stap ʼn paar tree verder – tot in die klein sonverligte sitkamertjie met sy mooi prente teen die mure en gemakstoele met geblomde kussings. Nes ek vermoed het, sit Gerhard Roux met Die Burger van Saterdag oopgevou op sy skoot. Hy lees die jongste nuus aan ʼn paar vroulike inwoners voor. Hoe dan anders?

Toe ek Gerhard vir die eerste keer ontmoet het, was ek in my 20’s en hy reeds sportkommentator van formaat. Watter jaar dit was, onthou ek nie presies nie, maar dié middag was daar ʼn Curriebeker-wedstryd op die Bolandrugbystadion en hy was ʼn gas vir middagete by oom Koelie en tannie Martha le Roux van Wellington (wat later my skoonouers geword het). Koelie le Roux was nou betrokke by Wellington se rugbyklub en was ook skakelbeampte van besoekende, selfs buitelandse, toerspanne. Sy vrou, Martha, was die sekretaresse in hul kantoor – toe nog in ʼn huis oorkant die stadion.

Daar moes opsluit waterblommetjiebredie gekook word, nie net omdat dit ʼn Kaapse ding is nie, maar omdat niemand anders nie as ʼn regte omroeper met die naam van Gerhard Roux die aankondiging van die spelers dié middag uit die uitsaaihokkie sou maak. Nou, in daardie jare moes jy teen ʼn leer (soortgelyk aan dié van die brandweer) teen die agterkant van die pawiljoen opklim sodat jy by die uitsaaihokkie op die dak kon kom. Ek het hom toe Oom genoem, omdat hy ʼn jaar of wat ouer as Koelie en Martha was.

In elk geval, die tyd het aangestap en elkeen se pad het sy eie klomp draaie geloop. En ek het min of meer vergeet van dié belangrike oom.

Totdat ek hom en sy vrou, Bess, weer in 2009 in die Villa Cortona-aftreeoord in die biblioteek raakgeloop het. Die stem onmiskenbaar dié van ʼn radioman. Ons het gou huisvriende geword en ek het hom nie meer Oom genoem nie. Hy was allermins ʼn oom – hy was ʼn lewende legende en almal het hom met respek op die naam genoem.

Vandag, nege jaar later, doen ek nie ʼn onderhoud met hom nie, ek kuier net. In sy ruim en gerieflike kamer in Silwerkruin, waar hy deesdae woon, is daar boeke van byna elke onderwerp in ʼn paar rakke. Die televisie is op ʼn sportkanaal ingestel. Ek gaan maak vir ons koffie in ʼn kombuisie verder af in die gang. Toe ek terugkom, het hy die televisie afgeskakel. Uit beleefdheid en respek vir ons kuiertjie.

Ek sit die beker swart koffie met een teelepel suiker daarin voor hom neer en vra na die mooi foto’s van hom in die ingangsportaal. Hy lag en sy oë blink byna ondeund.

“Wag, laat ek jou vertel,” sê hy, maar hy draai eers sy rolstoel skuins en skakel sy TV weer aan – dié keer op kanaal 787. Ligte klassieke musiek vul die vertrek. Nie te hard nie, net as agtergrond, so asof hy sy kamer in ʼn klein verhogie wil omskep.

Ek het geweet ek sal nie vanoggend sonder ʼn storie hier wegstap nie.

Hy maak keel skoon. Sit meer regop. “Jong, Silwerkruin het so ʼn paar weke terug mos ’n modeparade gehad en die mans het ook deelgeneem. Beste kostuum en so aan, jy weet. En ek het ook deelgeneem.” Hy bly vir ʼn oomblik stil, kyk verby my by die venster uit. “Maar ek het dit ʼn bietjie anders gedoen.”

“Ja?” por ek nuuskierig. “Vertel my.”

“Nee, ek het my taamlik mooi aangetrek. ʼn Rooi hemp, so half oopgeknoop. En my swart pak, natuurlik.” Hy lag so half skaam. “En ʼn swart das daarby en ʼn rooi roos op my baadjielapel. O, ja, en ʼn spierwit sakdoek wat by my bosak uitsteek. Ek het hom self gevou en my das self geknoop. Maar verder het ek darem hulp gehad.”

“Ek was deelnemer nommer 12 en toe my beurt kom, het een van die versorgers, ek dink haar naam is Wendy, my eers ʼn entjie in my rolstoel die paadjie af gestoot. Toe help sy my om verder self te loop. Met my kruk, natuurlik. Jy weet mos ek loop nog so veel as wat ek kan.”

Ja, ek weet. Dít ten spyte van ʼn geamputeerde been en prostese. Gerhard vat nog ʼn slukkie koffie, neem sy tyd om by die “anders gedoen” uit te kom. Hy weet hoe om teatraal aspris te wees.

“Ek vra toe die dametjie wat my rolstoel stoot om ʼn bos rooi rose saam te dra. Blomme om aan verskeie mense uit te deel. Aan mense wat ouer is, jy weet, en ʼn mooie kind wat my só gesit en kyk het. En so aan…. ”

Ek hou sy kenmerkende handgebare dop. Mooi hande wat saamspeel om jou mee te voer.

“O, en aan ʼn bruin dame wat ook ʼn inwoner is, maar soms lyk asof sy nog nie heeltemal tuis voel nie. Og, sy’t gehuil, sy’t in trane uitgebars toe ek vir haar ʼn roos gee. Ai, as ʼn mens maar net besef….” Hy kyk weer by die venster uit, vee ʼn nattigheid onder sy oë weg. “Ek lees anderdag ʼn artikel wat gaan oor aanraking – net om aan iemand te raak. Dit maak so ʼn groot verskil, weet jy. Just touch a person. En dít het blykbaar die neutrale beoordelaars van buite se aandag getrek.”

“En toe die parade nou verby is, kondig hulle die vier pryse aan vir die mans en die dames wat die beste gelyk het, jy weet. Ek het natuurlik nie my naam verwag nie,” sê hy beskeie.

“Maar dis nie al nie.” Ek skuif my stoel nader, so asof daar nou ʼn geheim verklap gaan word. “Toe sê die beoordelaars: ‘Ons wil vandag ʼn uitsonderlike toekenning maak en het gevoel dis tyd om ʼn Mnr. Silwerkruin en ʼn Mev. Silwerkruin te kies. Nie net op hul voorkoms nie, maar ook ten opsigte van die wyse waarop hulle opgetree het’.

Hier kom dit…

“En so word ek toe Mnr. Silwerkruin vir 1918… ag, ek bedoel 2018!” Hy gooi sy kop agteroor en lag.

En voor ek kan vra wie as Mev. Silwerkruin gekies is, antwoord hy: “En Mev. Silwerkruin is toe mev. Lucas.” Hy spel eers haar van, sodat ek weet dis nie die gewone Lukas nie. “Huipie Lucas. Sy is ʼn bietjie ouer. En sy stap maar swaar. Maar ʼn baie oulike vrou. Ook so ʼn innemende geaardheid. Ag, ek was eintlik aangenaam verras oor die hele aangeleentheid. Want dit het nie net oor voorkoms gegaan nie – die hele boodskap was ‘omgee’.”

En terwyl ek my sit en verluister, ervaar ek ʼn diepe dankbaarheid dat daar nog tyd en geleenthede in ʼn voortsnellende samelewing geskep word om erkenning te gee aan al die pragtige mense rondom ons, bekend of onbekend. Welgeskape of met ’n gebrek. Pasgebore of sterwend.

Dis tyd om te groet. Ek staan op, gee hom ʼn drukkie voor ek loop. Ék is die een wat dankbaar is vir die kuiertjie.

“Tot volgende keer, Gerhard!” sê ek by die deur.

“Nee, nie Gerhard nie. Ek is mos nou Mister Silwerkruin,” sê hy trots.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

So ja ·

Wat ‘n pragtige foto en storie. Op daardie twee mense gesigte is daar ‘n sagte tevredenheid. Sjoe ek dink Gerhardt het nie ‘n eensame dag in daardie huis nie. Ek sou wat wou gee om met hom te gesels. As hy nou nog so lyk is ek bly ek het hom nie geken toe hy jonk was nie, moes baie aantreklik gewees het..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.