Sportbeserings verg veel meer as net ‘n pleister

Pat Lambie (Foto: theepochtimes.com)

Pat Lambie (Foto: theepochtimes.com)

Deur Bronwyn Bodley

Die toenemende hoë beseringsfrekwensie in rugby, en ook die erns van die beserings, is kommerwekkend. En vir die speler het dit veel meer gevolge as die blote herstelperiode.

Die emosionele en sielkundige gevolge van ʼn sportbesering is uiteraard nie so opvallend soos die besering self nie, maar dit is tóg daar. ʼn Mens kan maar net wonder oor die frustrasie wat spelers soos ondermeer die Springbokke Pat Lambie, Handré Pollard, Cobus Reinach, Marcell Coetzee, Jacques Potgieter en Jan Serfontein deurmaak.

Met vandag se professionaliteit van die rugby-unies en franchise’e word die besering en die sielkundige aspek apart bestuur.

Terwyl daar enersyds deeglike aandag aan die fisiese herstelproses gegee word, het die gemoed van die speler sy eie gevolge met eie uitdagings – en dit vereis ʼn eie stel sisteme en prosesse om hierdie emosionele sy te bestuur.

Net soos die speler ná ʼn besering sy fisiese rehabilitasie takel om weer topfiks te raak, só moet sy gemoedstoestand ook in die herstelproses aanpas. Dit word gedoen deur die twee prosesse van die besering en die gemoed-onsekerheid in lyn te bring, sê die sielkundige en die Blou Bulle se kopdokter, dr Jannie Botha.

Dít behels dat die speler se kern-aanvaarding by die werklikheid aangepas moet word. As die speler byvoorbeeld getrou gewerk het om in die Wêreldbekertoernooi te speel, sou hy tegelykertyd sy denkprosesse en algehele vooruitsigte met die najaag van hierdie doelwit in belyning gebring het.

Dit is dus sy kern-geloofstelsel. Hy glo uit sy hart uit dat hy in die volgende Wêreldbekertoernooi sal speel.

As hy egter ʼn week voor die toernooi beseer word, verwoes dit sy kern-geloof.

Botha beklemtoon die belangrikheid daarvan dat die speler sy “nuwe realiteit” moet aanvaar en sy kern-geloof daarvolgens moet aanpas. Dit sluit in die begrip dat die Wêreldbekertoernooi vir hom neusie verby is omdat hy dit fisies nie sal kan bybring nie.

Sy “nuwe realiteit” is dat hy moet werk om weer die fisiese vlak van vóór sy besering te bereik. Sy nuwe denkrigting is dus die aanvaarding van die nuutgestelde realiteit waar sy kern-geloof soontoe verskuif.

Sou die speler tydens en na rehabilitasie nie hierdie aanpassing in sy kern-geloof maak nie, bly daar ʼn wanbalans tussen sy fisiese en denkprosesse. Dit is in hierdie (redelik algemene) gevalle waar wisselende vlakke van depressie, angs en neerslagtigheid kan voorkom. Dit is omdat die speler bloot net in die verlede leef en deur die trauma oorheers word.

Nóg ʼn moontlike gevolg is dat daar ʼn gevoel van identiteit-onsekerheid kan ontstaan wat tot ʼn gebrek aan selfvertroue kan lei. Dit is veral so by langtermyn-beserings waar die kanse groter is dat die een toestand (fisies/geestelik) vinniger as die ander sal herstel.

Weens die langer periode is dit moeiliker om die proses van belyning deurlopend te monitor. Dit gebeur ook merendeels dat die speler se kern-geloof sal terugval na sy vorige gemoedstoestand wat die bostaande gevoelens verder sal stu.

Sommige spelers se spelpeil is nooit weer op dieselfde vlak as voor ʼn besering nie, ondanks fisiese en geestelike rehabilitasie. Dikwels is daar tog die stille vrees van ʼn verdere besering wat in sommige gevalle sal verhoed dat die speler weer met oorgawe inklim.

Botha voer aan dat die geestelike gevolge van ʼn nuwe (opvolgende) besering ʼn ‘geval van sy eie’ is. Dit is werklik ʼn uitdaging om daaroor te kom en ‘geweldige’ geestelike krag word van die speler vereis.

Die probleem by ʼn nuwe (tweede) besering is dat die speler voortdurend sy kern-geloof moet verander en sy loopbaan in heroënskou moet neem. Die gevolg is dikwels dat die harde werklik die speler in die gesig staar dat sy loopbaan minder suksesvol sal wees as wat hy voorsien het weens die (nuwe) onvoorsiene slaggate.

Voor-die-hand-liggende voorbeelde van spelers wat na herhaalde langtermynbeserings feitlik geen speelkans gehad het nie, is die voormalige Bokkaptein Jean de Villiers. Hy was in sy loopbaan ʼn hele paar keer maande lank van die veld af, soms met voorspellings dat hy nie weer sal kan speel nie. Arno Botha, die Springbok-losvoorspeler van die Bulls, en die Bokslot van die Sharks, Stephan Lewies, is ander voorbeelde.

Vir die jonger speler is daar die voordeel dat tyd aan sy kant is. Vir die ouer speler lei dit dikwels, ná die volgehoue stryd teen herhaalde beserings, tot die besluit om uit te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae