Stellenbossers: Kry jou US Woordfeeskaartjies teen R30

Woordfees 2016. Foto: Facebook via US Woordfees

Woordfees 2016. Foto: Facebook via US Woordfees

Stellenbossers moet eerskomende Vrydag (12 Februarie) spring om kaartjies vir 26 produksies by vanjaar se US Woordfees teen ʼn afslagprys van R30 te koop.

Frieda le Roux, media- en publisiteitsbeampte, sê meer as 1 000 kaartjies vir 26 vertonings is beskikbaar.

Gautengse inwoners moet egter nie asems op hou nie – dié geleentheid is net gemik op inwoners van Stellenbosch.

Kaartjies kan slegs met kontant gekoop word by die Hoërskool Luckhoff, Bloekomlaan, Idasvallei (07:00), die Woordfeeskantoor, Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch midde-dorp (10:00 – 12:00) en die loopvlak van die Neelsie studentesentrum, Rooiplein, Universiteit Stellenbosch (13:00 – 14:00).

Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur, sê hulle wil só die inwoners van Stellenbosch bedank vir hul ondersteuning van die fees. “Dit is ons manier om aan die mense van Stellenbosch dankie te sê vir al die jare se lojale ondersteuning. Ons glo dat hierdie inisiatief nuwe feesgangers na die fees sal lok, omdat die pryse uiters bekostigbaar is. Kaartjieverkope lyk beter as dieselfde tyd verlede jaar en Stellenbossers verdien só ’n bederf.”

Kaartjieverkope is in dié stadium 7.51% hoër as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Hierdie aanbod sluit 26 van die vertonings wat by die Woordfees te sien gaan wees, in. Mense kan hulle regmaak vir spesiale aanbiedings vir onder meer Johnny Clegg, die Karnaval en Liewe Heksie: Flower Power.

Dit is ook die laaste keer wat mense kontant by die US Woordfees kan gebruik. Voortaan word net kontantkaarte of krediet- of debietkaarte aanvaar. Die aanbod is net geldig op vooraf-uitgesoekte vertonings. Slegs ses (6) kaartjies per persoon word toegelaat.

Die volledige program is op die Woordfees se webwerf beskikbaar.

Vir meer inligting of om ’n onderhoud te reël, kontak vir Frieda le Roux by die Woordfees-kantoor by 082 742 4156 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Brand ·

Persoonlik voel ek dit geboikot moet word vir die manier waarop die “Pers” Studente behandel word – Dit is ongelukkig so dat in ‘n land wat rassisme wil aanspreek ‘n instelling soos US die saak heeltemal verkeerd benader.

Karma ·

Ek sal die US Woordfees BOIKOT as ek ander is. Die US (bestuur e.d.m.) is ‘n spul opgestopte, polities-korrektheid-georiënteerde windsakke!

Johann ·

Daar is GEEN manier dat ek enigsins US sal ondersteun na hulle simpel, ondeurdagte, onreverdigge optrede!! hulle behoort skaam te wees!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.