Stern die juweel in Strauss & Co se veiling

Foto: Wikipedia

Irma Stern. Foto: Wikipedia

Strauss & Co het op sy jongste veiling in Kaapstad ʼn nuwe rekord behaal toe items ter waarde van sowat R58 miljoen verkoop is. Die 637 items op die veiling het kunswerke, juwele, silwer, porselein en meubels ingesluit.

ʼn Hoogtepunt van die aandveiling was ʼn 1947-olieverfskildery van Irma Stern, Stillewe met lelies, wat vir net meer as R10,5 miljoen verkoop is. Die geskatte maksimumprys was R7 miljoen.

Vroeër vanjaar is ʼn Stern-portret, dié van haar vriendin Freda Feldman, vir R4,1 miljoen opgeveil. Die rekord vir ʼn Stern is egter in 2011 opgestel toe haar Arab Priest op ʼn veiling van Bonhams in Londen R34 miljoen gehaal het.

Stern is in 1894 in Schweizer-Reneke gebore en het tussen 1930 en haar dood in 1966 verskeie reise onderneem – na Europa, maar veral na Oos-Afrika, waar sy heelwat inspirasie vir haar werk gekry het.

In 1971 is haar huis in Rondebosch, Kaapstad, waar sy vir ongeveer vier dekades gewoon het, omskep in die Irma Stern-museum.

Ander Suid-Afrikaanse kunstenaars wie se werk goeie pryse op Strauss & Co se lenteveiling behaal het, is Sydney Kumalo, George Pemba, Stanley Pinker, Alexis Preller, Penny Siopis en Vladimir Tretchikoff.

Foto: arttimes.co.za

Foto: arttimes.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.