Stilstuipe

carla-kargaard

Carla Kargaard. Foto: Verskaf.

Deur Carla Kargaard

As ʼn (noodgedwonge) huisvrou en ma van ʼn kleuter en ’n peuter, verstaan ek dat vroue soms stilstuipe kry. Nie omdat hulle wil nie, maar omdat hulle net nie meer anders kan nie.

Hier in Noorweë bestaan daar nie iets soos huishulpe nie, en ʼn mens moet maar self afstof, kook en kinders grootmaak. Groot was my opwinding dus toe Manlief kom met die nuus dat ons ʼn wegbreek-naweek kan neem in Kristiansand. Plus, Ouma kuier uit Suid-Afrika en dit sal wonderlik wees om hierdie mooi hawestad saam met haar te gaan verken.

Ons betroubare stasiewa kreun onder die vrag. Die kinders, kos, klere, speelgoed en beddegoed is gepak. Daar is selfs ʼn blou piepot van oor die 30 jaar wat saamry (net ingeval Kleuter nie meer kan knyp nie). Kristiansand is net meer as 200 km van waar ons woon, maar met Noorweë se maksimum spoedgrens van 90 km/h en al die kronkel-bergpasse neem dit ʼn volle vier uur voor die GPS sê ons kan maar stilhou. Ons bly in ʼn knus houthuis met ʼn mooi uitsig oor die stad.

Die volgende oggend klim ons met groot entoesiasme terug in ons motor om die stad te gaan verken. Mooi ou geboue en moderne winkelsentrums maak later plek vir gevriesde mere en bome wat buk onder die sneeu. Kort voor lank is die kinders aan die slaap en die groot mense honger. Ons ry terug dorp se kant toe en parkeer in Ikea se onderdakparkering. Manlief hardloop sommer gou in om vir almal worsbroodjies te gaan koop. Hy was skaars weg of Peuter raak wakker en klim en klouter na die voorste sitplek. Hy bestuur speel-speel en druk nou en dan ʼn knoppie. Toe hy die motor se sleutel beetkry gryp ek dit dadelik om ʼn konsternasie te voorkom.

Die kos is op en ons is reg om weer in die pad te val, maar toe Manlief die motor wil aanskakel, kan die sleutel nie by die skakelaar in nie. (Dis een van daardie snaakse slimsleutels. Té slim vir ons!) Daar word van alle kante af geprobeer en gesukkel, maar niks wil werk nie. Beskuldigings en ontkennings word later rondgeslinger. Ouma raak doodstil. Manlief is nie meer so lief nie. En ek lees Google se raad: “Die ou sê jy moet met ʼn flits inskyn en dan ʼn skroewedraaier….” Voor ek nog verder kan praat forseer Manlief die sleutel met ʼn ongeduldige sug in die skakelaar in. Net daar kry ons ou motortjie stilstuipe soos net ʼn vrou kan. Die radio suis aspris en die paneelbord spoeg ʼn belediging uit: “Immobilizer active”. Niks werk meer nie. Sy kan nie start nie. Die vensters en enjinkap kan nie oop nie. Die deure is so dig gesluit soos dié van Fort Knox. Ons sit vas.

Die krisis het skaars begin of Kleuter wil pie. Gelukkig is die blou pot nog in die kar! Ouma deel ongevraagde raad uit: “Dalk help dit as ons almal ons sitplekgordels vasmaak.” Manlief druk en wikkel aan die handvatsels en ruk en pluk aan die sleutel, maar tevergeefs. En ek sit soos ʼn sardientjie tussen die twee karstoeltjies en soek na antwoorde. Selfs Google is raadop, die enigste soortgelyke geval was toe twee bejaardes oornag in hul kar vasgevang was. En dit het die Nieu-Seelandse koerant gehaal!

Ek bel die Volkswagen garage, maar die arme dametjie aan diens het nog nooit van so iets gehoor nie en die werkswinkel is toe op Saterdae. Sy sit my deur na ʼn padbystandsmaatskappy. Die mannetjie se Engels is nie juis waffers nie en ek dink nie hy verstaan die omvang van ons penarie nie. Hy sê darem uiteindelik dat hy op pad is en oor so ʼn uur daar sal wees.

ʼn Uur kom en gaan. Asof die noodlot ons wil tart, is ons enigste uitsig ʼn groot Ikea-advertensiebord wat ʼn muurhorlosie adverteer. Die kleintjies raak by die minuut moeiliker. Peuter klim en klouter soos ʼn blouaap oor die sitplekke en Kleuter drink water asof dit uit die mode gaan. Ek balanseer die blou pot versigtig op my skoot, maar dis al amper vol. Manlief sit en staar voor hom uit en Ouma bid saggies.

Die foon lui. Daar was ʼn motorongeluk en die ou moet eers daar help. Ons sal vir nog ʼn uur moet wag. Dis soos ʼn vrieskas buite en dit raak al hoe kouer in die motor – in gees en vlees. Ons beleef al die fases waarvan die slim mense altyd praat: skok, ontkenning, depressie, eensaamheid (al stap daar ʼn stroom mense verby winkel toe), woede, verwarring en beslis selfverwyt. Hoop sou seker ook al by die venster uit gewees het, as dié net kon oop. Ons het al begin praat oor watter ruit die beste sou wees om uit te slaan, maar in Noorweë is dit so duur om sulke soort goed te vervang, ons kan dit eenvoudig nie bekostig om so wild te raak nie.

Uiteindelik bel die outjie weer. Sy insleepvoertuig is te hoog om by die onderdakparkering in te kom. Ons moet hom by Ikea se ingang ontmoet. Hoe meer ons probeer verduidelik dat ons vassit in die kar, hoe minder verstaan hy. Gelukkig werk die noodligte nog en hy kan ons karretjie tussen die honderde ander uitken. Hy ruk en pluk aan die deure en die enjinkap, maar niks gebeur nie. Hy beduie dat hy nie ʼn idee het wat om volgende te doen nie, al genade sal wees om die sleutel uit te kry. Daar vat Manlief toe die sleutel vas en met bonatuurlike krag soos dié van Simson van ouds, trek hy dit uit. (Ek vermoed dis maar hoe die natuur werk, die een mannetjie leeu kan nie swak lyk voor die ander nie.) Die deure sluit oop. Ons is vry!

Die sleutel kan nou weer nie terug nie, so ons is steeds gestrand. Die arme outjie skyn sy flits en begin woel met die skakelaar. Dit lyk vir hom of iets dalk daarin vassit. Hy werk soos ʼn wafferse chirurg en Ouma gee die een gereedskapstuk na die ander vir hom aan. Ná ʼn halfuur se gespook trek hy ʼn muntstuk uit. Ek herken dit dadelik, dit het so twee weke gelede al soek geraak. Kleuter verklaar trots dat dit sy handewerk was, maar toe hy snap dat dit dalk nie so goeie idee is nie, pak hy al die skuld op stomme Peuter.

Teen die tyd dat ons Ikea se parkeerterrein kon verlaat was dit al pikdonker buite. Ons het nie veel van Kristiansand gesien nie, maar ek het darem iets wys geword: Alle vroue het soms nodig om góéd stilstuipe te kry, selfs dié met vier wiele.

  • Carla is ’n vryskutskrywer wat saam met haar gesin in Noorweë woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

marianna ·

Wette moes verander het want toe ek in Noorweë gewoon het was die maksimum spoed 100kpm.

marianna ·

Het jare in Noorweë gewoon, die spoedgrens is 100 km/h nie 90 nie.

Johan ·

Wat maak dit nou saak wat die spoedgrens was/is/moet wees volgens jou, Maggie?

Maggie Pringle ·

Dankie Carla. Dit was nou heerlik om so stukkie humor te beleef.

Carien ·

Aah Carla dit was nou lekker lees. 1. Ons het 6 maande in Kristiansand gebly met 2 peuters. Die beste tye. 2. Jy het my op ‘n memory trip geneem. Wens ons kon weer gaan

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.