Gedagte vir die dag: 100 miljoen getuienisse!

hardloop_sonsopkoms_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. (Hebreërs 12:2) 

“’n Leerling is nie verhewe bo sy onderwyser nie. ’n Slaaf ook nie bo sy baas nie.” (Matteus 10:24)

Volgens Geopende Deure word 340 miljoen Christene wêreldwyd ernstig vervolg of teen gediskrimineer. Die mees konserwatiewe skatting hiervan is dat 100 miljoen Christene in doodsgevaar verkeer as gevolg van hulle geloof in Jesus. Volgens hulle wêreldwaarnemingslys van 2021 is 4 761 Christene vermoor, 4 488 kerke of ander Christelike geboue aangeval en 4 277 gelowiges gearresteer en in die tronk aangehou sonder ’n verhoor (www.opendoorsusa.org).

In Matteus 10:21 waarsku Jesus: “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak.” Die geweld en haat teen die identiteit van Jesus is fel. Die Hebreërs-skrywer noem mense soos hierdie 100-215 miljoen “’n magtige skare” geloofsgetuies (Heb 12:1). In Hebreërs 11 verwys hy na sy eie lys van vervolgde gelowiges en sê hierdie mense is die getuies wat ons aanmoedig om alles af te stroop “wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop” (Heb 12:1-2).

As die wêreld Jesus verag en vervolg het, sal hulle dit ook met sy volgelinge doen. Dit is ons eer om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly (Fil 1:29). Die aanslag is groot om ons van ons prys in Jesus te beroof, maar deur sy genade hou ons vas tot die lewe!

Vader, hou my getrou tot die einde toe.

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.