Gedagte vir die dag:  Aan die jonges …

meer_man_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Timoteus 4:6-16

Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. (Timoteus 4:7)

Die jong dominee moet by sy leermeester hoor wat leerlinge by hul meesters hoor: Pasop vir dié; bepaal jou by dáái.

Paulus waarsku wéér teen die dwaalleraars: Moenie hul stories vir soetkoek opeet nie! maan hy. En moenie toelaat dat hulle jou jonkheid misbruik nie. Buitendien, sê hy, is daar baie beter dinge om te doen. Wy jou eerder toe aan ’n lewe voor God se aangesig.

Hoe kan ons nie wens dat ons vroeg in ons lewe reeds sulke raad gekry het nie! Hoeveel seerkry sou ons nie gespaar gewees het nie, hoeveel twyfel, hoeveel selfverwyt.

Want hoeveel goedkoop stories oor God en geloof is nie al aan ons gesmous nie, en hoe is daar nie op ons gevoel gespeel nie! As ons nou op alles terugkyk, besef ons hoe haglik daardie dwaalleringe werklik was. En al het dit dalk nie soos destyds oor eetgebruike gegaan nie, is die moeder van alle dwaalleringe, die wortel van ál daardie kwaad, steeds by ons: die gestry oor Christus, en oor die vraag of die geloof in Hom genoeg is om jou saligheid te verseker.

Die groot hartseer is steeds dat die krag vir ’n toewydingslewe gebruik word om dwalinge te bestry, juis ook dié wat in jou gemoed gesaai is, daardie tierende onkruid.

Ag, en dalk is dit reeds te laat vir ons. Dalk sal ons lewenslank hiermee bly sukkel. Dan kan ons ten minste probeer om aan die jonges, die beginners, die buigbare lote, die onvervalste goeie nuus oor Jesus Christus te bring. Enkel en alleen die “goeie leer” (v. 6) waarvan ons almal immers aanhangers is.

Leer my elke dag, Here, u regte weë. En maak my vaardig om dié kennis geloofwaardig oor te dra.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here aan U voete wil ek bly….maak my sensetief vir dit wat U afkeur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.